Moenie hom probeer verander nie

206
Moenie hom probeer verander nie

Man en vrou stap met ’n geïdealiseerde prentjie van mekaar in ’n huwelik in. Maar nie een wil verander nie! Nou begin die werk om by mekaar aan te pas en toe te gee.

Wanneer kundiges oor die eerste twee jaar van ’n huwelik skryf, sê hulle dat alle paartjies maklik ontnugter word. Dit gebeur omdat verliefdheid ’n mens mislei om skeefgetrekte, geïdealiseerde prentjies van jou toekomstige lewensmaat te skep.

Julle verskil en sal mekaar nie verander nie

Sodra jy die romantiese euforie van verliefdheid afgeskud het, kom die teleurstelling: Jy is nie meer die wonderlikste werklikheid in sy lewe nie!

Jy word net nog een van die baie sake wat sy aandag verg. En al die ander sake – kinders, werk, sport, familie, vriende – begin inmeng met die tye van alleen bymekaar wees.

Daar is ook ander ontdekkings wat jou ontnugter. Julle moet ’n manier vind om die huishouding te laat werk, die kinders groot te maak en die begroting te laat klop.

In hierdie proses ontdek jy mettertyd die ander kant van jou maat, die kant wat jy vroeër nie wou raaksien nie.

Sekere eienskappe wat jy geglo het hy behoort te hê, het hy toe nie. Daar is ook eienskappe in hom wat jou afstoot en laat wonder of dit dieselfde man is met wie jy getrou het.

Soms is die kontras tussen wat voor die huwelik gebeur en hoe dinge ná die tyd daarna uitsien, baie groot. Dis dan dat jy begin wonder of julle nie dalk ’n fout gemaak het om te trou nie.

Ander kere laat die ontnugtering jou verlang na die goeie ou dae. Toe die romantiek jou in ’n sprokieswêreld van sorgvryheid laat leef het.

Langer tye saam beteken albei moet aanpas

Voor die troudag leef julle nie elke dag saam nie. Julle het net stukkies kosbare tyd saam met mekaar. Die tyd wat julle nie bymekaar is nie, is dan gewoonlik met verlange na mekaar gevul.

Dieselfde verlange maak dit ook maklik om wanneer julle wel bymekaar is, aanpassings te maak om mekaar se behoeftes te akkommodeer.

Die oomblik dat julle trou, verander die hele situasie dramaties. Dan het julle skielik baie meer ure saam met mekaar. In hierdie ekstra ure wat julle saam deurbring, raak jou maat se andersoortigheid meer opvallend.

Dis nie dat julle mekaar doelbewus verkeerd probeer opvryf nie. Dis ook nie dat julle julle behoeftes op mekaar probeer afdwing of moedswillig is nie. Dis net dat julle in die langer ure saam meer julleself is en leef vanuit wie julle werklik is.

Alle paartjies gaan deur die proses van toegewings maak

Daarom is dit niks vreemds dat paartjies die een of ander tyd met hierdie proses moet worstel nie. Vir sommige is dit ’n makliker en vir ander ’n moeiliker proses.

Die werklikheid is egter dat julle siening van mekaar die een of ander tyd moet normaliseer. Dit sal noodwendig insluit dat julle dinge in mekaar gaan ontdek wat julle teleurstel of bedreig.

Hoe hierdie proses gaan afloop, word in ’n groot mate bepaal deur die manier waarop julle dit benader. Beskou dit as ’n normale proses waarin julle moet leer om meer nugter met mekaar om te gaan, dan sal julle dit kan deurwerk.

Vorige artikel[VIDEO] Vervang jou vertroue eerder met aanvaarding [Reeks 1 Nommer 12]
Volgende artikelGee jou kinders genoeg vryheid