Begin met ’n gesonde roetine

73

Ons almal het slegte gewoontes waaraan ons naarstigtelik vasklou. MELISSA BRITT, besigheidseienaar en motiveerder, glo dat enigeen is in staat om nuwe beter gewoontes te vestig. Maar dan moet jy ophou om vir jouself te jok.

Dit is belangrik om jou dag met ’n gesonde roetine te begin, maar dan moet jy begin om eerlik met jouself te wees.

Hou op om te glo in hoe jy gedink het dinge behoort te wees. Hoe doen ’n mens dit? Jy breek jou denkwyse stuk vir stuk, sluk vir sluk, soos ’n droë stukkie brood in die keel, af.

Begin van vooraf bou aan alles wat jou hart, jou denke en jou liggaam wil hê en nodig het. Nie wat jy gedink het jy moet hê nie, maar die eintlike benodigdhede in jou lewe. Begin ’n gesonde roetine deur op te staan en jouself met positiewe leesstof te motiveer.

Kry iets waarin jy regtig belangstel. Dit maak dinge al klaar heelwat makliker. Luister elke dag na jou gunstelingmusiek.

Dit is soos kos vir die siel. En sing dan sommer kliphard saam. Dit is oukei om sommer elke nou en dan vir jouself te lag ook.

Begin oefen, maar begin stadig. Gaan stap om die blok of op en af in die straat. Moenie wag tot Maandag nie, begin sommer vandag nog.

Dit is die sleutel tot enige leefstylverandering – om net te begin en jou verskonings by die deur te los. Jy sal so trots voel op jouself.

Kry elke dag vir jou ’n nuwe mylpaal. Stap ’n bietjie verder, of begin om kort entjies se draf by jou stapsessie in te werk. Onthou, dit kan enige soort oefening wees. Dit is net baie belangrik om iets te kry waarvan jý hou. Jy doen dit tog immers vir jouself.

Deur die hele proses gaan jy beslis goeie en slegte dae kry. Druk net deur op die slegte dae.

En onthou hoekom jy dit doen. Vind jou rede, dit is baie belangrik. Stel vir jou doelwitte en doen dan jou bes om dit te bereik.

Hoe meer jy aan jouself begin werk, hoe meer gaan jy besef jy is meer werd as wat jy gevoel en gedink het.

Wie wil nou nie weet hulle is die moeite werd en goed genoeg nie? Ons almal verdien om werklik gelukkig te wees, van binne na buite.

Ek self is ’n goeie voorbeeld van hoe jy jou lewe in minder as ’n jaar kan omdraai.

Ná ’n jaar weeg ek 15 kg minder, het ’n plekkie van my eie en is die eienaar van ’n besigheid.

As ’n probleem soos ’n berg voor jou lê, breek dit eers in kleiner deeltjies op.

Begin dan om klein happies te vat uit elke probleem wat na jou kant toe kom. ʼn Mens kan dit eintlik op al die gebiede van jou lewe toepas.

En onthou, jy verdien ook geluk. Elkeen van ons verdien geluk. Maar dit is jou verantwoordelikheid om dit self te skep.

Moenie herhaaldelik die fout maak om jou geluk in ander se hande te plaas nie. Jou geluk en gesondheid is kosbaar. Besef dit en pas jouself op.

Vorige artikelLeer op die regte manier baklei
Volgende artikel‘Ons storie … God se storie’