Eerste treë na gesondheid

29
Eerste tree na gesondheid

Wanneer dit by jou gesondheid kom, is ’n kopskuif dikwels nodig. Maak vandag nog ’n keuse om gesonder te leef. Stiaan Ras, ’n fiksheidkenner, het ook dié besluit geneem en kyk nie terug nie.

Stel jou iemand voor vir wie sport en gesondheid ’n passie is. Daardie persoon wat sy hele lewe lank nog atletiek doen en van jongs af op professionele vlak meeding. Wat aan multi-sport-byeenkomste deelneem en Springbokkleure in liggaamsbou verwerf.

En dan gebeur die grootste nagmerrie. ’n Bosluisbyt en hartvirus wat hom in die hospitaal laat beland. Die ontdekking dat hy met ’n hartdefek gebore is. Komplikasies ná die hartoperasie wat hom by die dood laat omdraai. En hy roep in sy donkerste uur na God.

Daardie persoon was ek, wat toe wonderbaarlik genees is. Maar ’n moeilike pad het gevolg.

Om as eens gesonde mens soveel medikasie te moes gebruik, was moeilik om te verwerk. ’n Motorfiets-ongeluk was die laaste strooi.

Ek het ’n kopskuif gemaak en al die medikasie gelos. Dit was twee of drie moeilike maande waardeur die Here my gehelp het.

Dit alles het my opnuut laat besef ons aanvaar gesondheid en die belangrikheid daarvan as vanselfsprekend.

As jy oefen, word goedvoel-hormone vrygestel. Oefening verbeter verder die sirkulasie in jou liggaam. Daarom is dit belangrik om juis wanneer jy nie lus voel nie, ook te oefen. Konsekwentheid is belangrik as jy met ’n oefenprogram begin, of iemand kies om jou te help.

’n Mens moet ten minste drie keer ’n week oefen en ’n gesonde dieet volg. Hoe jou liggaam reageer, is 70% tot 80% die gevolg van die kos wat jy eet. In kombinasie met jou oefenprogram, moet jou liggaam goed kan funksioneer. Jy moet gemotiveerd wees!

Daar is soveel belangrike aspekte om in ag te neem vir die eindresultaat. As jy verkeerd eet, te veel alkohol, suiker of verkeerde vette inneem, onderdruk dit jou liggaam se goedvoel-hormone. Jy voel net nie lekker nie, het geen energie en is nie gemotiveerd nie.

Stres is ’n groot sondebok as dit by die funksionaliteit van jou liggaam kom. Veral by ouer mense kan dit onder meer beroertes en bloedklonte veroorsaak. Dit bring ons weer uit by kos en ’n gesonde leefstyl, wat ’n mens moet kan volhou.

Moenie probeer om ewe skielik ’n vreeslike streng dieet te volg wat al die plesier uit jou lewe haal nie. Jy moet immers jou hele lewe lank gesond kan wees.

Nou waar begin ’n mens? Jy neem eerstens die besluit dat jy wil begin oefen.

Stel vir jou korttermyndoelwitte wat jy weet jy elke week kan behaal. Sê byvoorbeeld, ek gaan commit om twee keer ’n week te oefen.

Daarna kyk jy na wat jy eet. Eet jy te veel brood of suiker of drink jy te veel alkohol? Moenie alles dadelik uitsny nie, maak dit stelselmatig minder tot jy voel jy begin resultate kry.

Jy kan in drie maande se tyd jou hele leefstyl verander. Onthou, as jy goed voel oor jouself, is jy ’n beter ouer, ’n beter werknemer of werkgewer.

Vorige artikelHoekom voel ek nooit goed genoeg nie?
Volgende artikel“Die Karoo help my om my verlede te verwerk”