Hou oudword enige voordele in?

95

Oudword is een van die onvermydelike realiteite van die lewe. Hierdie nuwe tydvak hoef egter nie ’n krisis te wees nie. In hierdie tydperk maak die brein aanpassings wat definitiewe voordele vir ouer mense kan inhou.

Hoe jy hierdie metamorfose benader, is belangrik. Die klem moet nie op oudword geplaas word nie, maar op goeie veroudering. Beskou dit as ’n wandelpad eerder as ’n afdraande onderweg na ’n afgrond.

Veranderinge in breinfunksie en jou uitkyk kan jou lewenskwaliteit vorentoe beïnvloed. As jy ’n naam of twee vergeet, langer vat om blokkiesraaisels in te vul of dit moeilik vind om twee take tegelyk te verrig, moenie aanneem dat dit aan demensie toegeskryf kan word nie.

Wat jy ervaar, is ouderdomverwante aanpassings in hoe jou brein werk. In baie opsigte is dit eintlik ’n verbetering. Studies bewys byvoorbeeld dat ouer mense beter rasionele keuses kan maak en ander mense se negatiwiteit makliker as jonger mense afskud.

Die brein kompenseer vir ’n stadiger verwerkingspoed deur meer van sy dele te gebruik. MRI-skanderings wat geneem is van ’n tiener wat ’n probleem ondervind, toon verhoogde aktiwiteit aan die een kant van die prefrontale korteks, die area wat ons gebruik vir bewuste redenering.

Navorsing toon egter dat aktiwiteit aan die ander kant van ’n mens se brein later effens begin toeneem. Dit beteken dat by ouer mense albei kante van die brein ingespan word om ’n probleem op te los.

Hier is nog ’n bemoedigende bevinding: Persone tussen 50 en 69 neem dalk langer as jongeres om nuwe toerusting te bemeester, maar wanneer hulle dit regkry, maak hulle minder foute in die gebruik daarvan.

Onthou dit as jy volgende keer met ’n nuwe rekenaarprogram worstel of by ’n nuwe motor moet aanpas!

–Ellenore Meyer, mediese dokter