Jou welstand is jou eerste prioriteit

216

Het jy al in die slaggat getrap van dink dat dit selfsugtig is om jouself eerste te stel? Gee jy jouself prys vir ander en noem dit “onselfsugtigheid”? Onthou dan, jý is jou eerste prioriteit.

Selfsug is ’n leefstyl van selfgesentreerdheid

Elke persoon kan daagliks klinies selfbehep, selfsugtig, selfversorgend, selfopofferend of self-pynigend optree.

Narsisme is ’n kliniese persoonlikheidsversteuring van patologiese selfbeheptheid, gewoonlik ten koste van ander persone. Hulle sien hulleself as perfek, sonder tekortkominge en is vinnig om swakhede in ander te sien.

Soms verwar mense narsisme en selfsugtigheid. Narsisme is ’n siekte wat klinies gediagnoseer moet word. Selfsugtigheid is ’n keuse.

Iemand is selfsugtig indien hulle doelbewus hulleself bevoordeel terwyl ’n ander benadeel word. Wanneer iemand selfsugtig is, maak hulle hulleself nie ’n eerste prioriteit nie. Daar is ’n tekort aan selfliefde, liefde vir ander en diensbaarheid.

Wees bewus van jou eie welstand

Iemand wat hulleself ’n prioriteit maak, handhaaf ’n gesonde balans in hulle leefwyse. Selfsorg beteken dat ’n persoon hulle eie behoeftes én die van ander belangrik ag en dienooreenkomstig optree.

Die basis van selfsorg is selfliefde. Daarom is so ’n persoon in staat om vir ander liefde te gee en diensbaar te wees.

Mense wat selfversorgend is, is sensitief vir hulle eie behoeftes. Hulle sal nie skroom om “nee” te sê indien hulle werklik nie vir ’n taak kans sien nie.

Selfwaarde word hoog op prys gestel, maar nie ten koste van ander mense se waarde nie. Hulle handhaaf gesonde verhoudinge in hulle lewe, want hulle het eerstens ’n gesonde selfbeeld.

Selfversorgende mense leef met liefde, blydskap, tevredenheid en rustigheid. Hulle het ’n visie vir hulle toekoms, ken hulleself goed en het ’n leerbare gees. Hulle is baie bewus van hulle eie welstand. Hulle hart is vol en daarom kan hulle hulleself met die wêreld deel.

Ontsnap uit die kloue van die verlede

As iemand hom- of haarself gedurig prysgee en geen aandag aan hulle eie behoeftes gee nie, flikker die gevaarligte ook. Mense noem dit “onselfsugtigheid”, maar naderhand groei daar ’n innerlike stryd wat met tyd tot passiewe aggressie of depressie kan lei.

So ’n persoon kan nie ’n lewe van oorvloed leef nie. Hy of sy het moontlik reeds geestelik of emosioneel gesterf.

Waar narsisme deur selfbeheptheid en arrogansie gekenmerk word, is selfpyniging meer as net die aflegging van jou eie behoeftes. Hier maak mense hulleself doelbewus seer en benadeel hulleself. Hulle het waarskynlik iewers begin glo dat hulle dit verdien.

Weens diep wonde wat binne hulle wese nog steeds bloei, kan so ’n persoon ’n obsessie ontwikkel. Dit manifesteer dan in hulle liggaam en lewenstyl. Dit is duidelik dat “self” geen prioriteit is nie.

Liefde ontbreek en die wêreld word deur gebroke lense beskou. Dit is meesal met professionele hulp dat iemand gehelp kan word om hulle verwronge beelde te genees.

God het ons toegerus met dit wat nodig is om ’n gesonde lewe te leef. Moenie met ’n verwronge beeld oor jouself sit en ’n gevangene wees van wat in jou lewe gebeur het, of steeds gebeur nie.

Maak jouself ’n prioriteit sodat jy die lewe in oorvloed kan smaak. Kies jouself vir ’n slag.

– CATHERINE VAN HEERDEN, sielkundige, spreker, skrywer en fasiliteerder

Vorige artikel[PODSENDING] Jou welstand is jou eerste prioriteit
Volgende artikelDie kalorieë in drankies kan gewigsverlies strem