[PODSENDING] Kleiner gereelde etes help met gewigsverlies

253

Hoeveel keer hoor ’n mens nie iemand kla dat sy nou net blaarslaai eet nie, maar steeds nie gewig verloor nie. Dit voel hoe minder sy eet, hoe meer gewig tel sy op!

Gewigsverlies beteken nie altyd minder maaltye nie

Die grootste fout wat mense begaan wanneer hulle gewig wil verloor, is om maaltye oor te slaan. Mense vertel graag van al die kosse wat hulle uitsny. Hulle eet niks deur die dag nie, behalwe vir aandete. Ten spyte daarvan, verloor hulle glad nie gewig nie.

Ontbyt is gewoonlik die eerste ete wat uitgesny word. Dít terwyl dit die belangrikste maaltyd van die dag is. Jy moet ná sewe tot agt ure se slaap sonder kos, jou liggaam se energievoorraad aanvul. Ná omtrent vier ure het jou liggaam klaar die kos wat jy geëet het, verteer.

Ná vyf ure begin jou bloedsuiker val en gryp jy dan na die eerste en beste ding wat jy sien. Hoe meer tyd tussen maaltye verloop, hoe makliker is dit om jou met die volgende maaltyd te ooreet.

Om gewig te verloor, moet jy jou energie-inname verminder en jou oefening vermeerder. As jy egter maaltye oorslaan, het jy minder energie. Jy neem ook nie al die voedingstowwe in wat jou liggaam nodig het nie. Jy sal dan die heeltyd aan hoëvet- en suikerversnaperings wil peusel.

Gereelde etes voorkom dat jy jou ooreet

Van die voordele van drie of meer maaltye of versnaperings per dag, is dat jy langer versadig bly. As jy iemand is wat maklik honger word, is gereeld eet die antwoord.

Dit sal jou help om die versoeking te weerstaan om na ongesonde kosse te gryp wanneer jy honger raak.

As jy gereeld eet, het jy meer geleenthede om gesonde versnaperings soos vrugte, groente en volgraanprodukte te geniet. As jy te honger is, maak jy ongesonde koskeuses en ooreet jouself met die volgende maaltyd. Onthou egter dat porsies kleiner moet wees as jy gereeld eet.

Die nadele van gereeld eet, kan wees dat jy ongesonde versnaperings kies. Dit veroorsaak dan dat jy jou steeds met die volgende maaltyd ooreet. As jy meer gereeld eet omdat jy lus is vir iets en nie honger nie, gaan jy nie oor jou keuses dink nie. Jy gaan bloot eet wat beskikbaar is.

Dit kan ook gebeur dat omdat jy gereeld peusel, jy nie besef dat jy nie eintlik honger is nie. Ten spyte daarvan, sit jy steeds aan vir die volgende maaltyd. Só kan jy tot 50% meer eet as wat nodig is. As jy kort-kort eet, kan jou bloedsuikervlakke so wissel dat jou liggaam meer vet berg.

Jou leefstyl, voorkeur en lyf speel ’n rol

Die nuutste navorsing wys dat drie etes voordelig is vir goeie spysverteringsbakterieë. Wanneer jou liggaam nie besig is om kos te verteer nie, maak die goeie bakterieë in jou derms jou spysverteringskanaal skoon. Dit verwerk ook suikers en verwyder gifstowwe.

Die goeie bakterieë is nodig vir immuniteit, jou gemoed, verbeterde metabolisme en gewigsverlies. Jy moet daarom probeer om drie etes binne ’n agt-uur-periode te eet. Drie beplande gesonde maaltye met beperkte porsies, is beter vir aptytbeheer.

Dit is belangrik dat jy in 24 uur nie meer kalorieë moet inneem as wat jy nodig het nie. Jy moet leer wat die verskil tussen honger en lus is. Eet net wanneer jy regtig honger is.

Elke persoon is anders. Nie een plan werk dieselfde vir almal nie.

Elkeen van ons se lewenstyl verskil. Kyk na jou persoonlike voorkeur, jou spysvertering en maak seker dat jy ’n verskeidenheid, gesonde kosse eet. Jy moet met die nodige kundige raad bepaal wat die beste vir jou werk.

– CHRISTEL DE LANGE, dieetkundige, borsvoedingskonsultant

Vorige artikelWat die Bybel sê oor… Hoop
Volgende artikelMarissa Kleynhans: “My hart moes oopgebreek word”