Selfversorging is belangrik

216

Om gesond te leef vereis ’n gebalanseerde lewe. Balans in die lewe help ons om bewus te wees van wat ons nodig het en watter grense in plek moet wees, sê Careen Visagie, dieetkundige, lewensafrigter en mentor.

Grense gee vir ons sekuriteit. Namate ons gemakliker met ons grense raak, skenk ons aan onsself ’n ervaring van geborgenheid. Daaruit vloei selfliefde en respek.

Wanneer ons gebalanseerd leef, gee dit ons die vryheid om verskeie rolle te vervul en met groter lewensvreugde te leef. Dit bring welstand. Om só te lewe, vereis egter ’n keuse vir selfversorging.

Selfversorging is proaktiewe aksies wat ons help om ons gesondheid en welstand te handhaaf of te bevorder. ’n Gebrek hieraan is soos om melk uit ’n leë melkbeker te probeer skink. Dit het ’n negatiewe effek op ons verhoudings. Dit veroorsaak uitbranding, angstigheid en depressie.

Dikwels veroorsaak ’n gebrek aan selfversorging dat ons doelloos en wanhopig voel. In die wêreld waarin ons leef, is daar soveel druk en eise op ons tyd.

Dikwels is selfversorging die laagste op die prioriteitslys en die eerste ding wat opsy geskuif word. Mense se verskonings en uitdagings met selfversorging is dat hulle te besig is. Hulle is reeds oorlaai met ’n stresvolle werk, of is onbewustelik aan tegnologie verslaaf.

Ander sê weer dat hulle skuldig voel om tyd vir hulleself te neem, en hulle man en kinders alleen te los. Navorsing het egter gewys dat wanneer selfversorging met goeie bedoeling en konsekwentheid toegepas word, dit baie voordele vir ons welstand inhou.

Dit kan lei tot beter produktiwiteit, motivering en konsentrasie. Dit het ook beter streshantering, minder angstigheid, minder frustrasie en aggressie, en meer volhoubare energie tot gevolg. Dit bevorder algehele gesondheid.

Daarmee saam bring selfversorging en die instelling van grense ’n gesonder verhouding met jouself. Dit dra by tot selfvertroue en ’n beter selfbeeld.

Selfversorging lyk nie vir almal dieselfde nie. Raak stil en ondersoek jou gewoontes en leefstyl. Gewoontes en aktiwiteite om te ondersoek, kan die volgende insluit:

Eet ’n gesonde, gebalanseerde en kleurvolle dieet om jou liggaam te voed.

Hidreer jou liggaam deur genoeg water te drink.

Beweging is terapeuties: Stap, dans, gaan draf ’n ent, ry fiets of spring tou.

Pas slaap-higiëne toe en slaap genoeg.

Wees dankbaar. Hou dagboek van die dinge waarvoor jy dankbaar is. Dit rig jou gedagtes op positiewe dinge en bring perspektief oor die uitdagings van die lewe.

Wees kieskeurig oor die mense in jou lewe saam met wie jy tyd bestee.

Leer om nee te sê. Dit vereis dat jy moet eerlik wees oor jou gevoelens, verantwoordelikhede en tyd. Dit noop selfrespek en respek vir ander.

Organiseer jouself – maak tyd om jou week vooruit te beplan en skeduleer selfversorging. Doen iets kreatief wat vir jou lekker is en lag uit jou maag uit, soveel moontlik.

Vorige artikelDie klein jakkalsies wat ’n huwelik verniel
Volgende artikel[VIDEO] Belangrik vir jou, is belangrik vir God