Stappe vir ’n gesonde leefstyl

193

Aanvaar eers jouself en jou lyf, dan glo JANINE TRUTER, ook ’n voormalige model, kan jy begin om realistiese doelwitte te stel om ’n gedissiplineerde dieet, oefenprogram en roetine te volg.

Daar is soveel druk op vroue om volmaak te wees. Dis ’n onrealistiese standaard om te handhaaf. Dit is werklik moeilik om gesond te leef as jy soveel ander dinge het waarop jy moet fokus.

Ons word gereeld gevra hoe ons oor ons uiterlike self voel? Ons moet egter eerder dink hoe ons oor ons innerlike self voel.

Daar is elke maand ’n nuwe dieetpil, nuwe wondergrimering of ander nuwe maniere om mooier te lyk en voel, op die rak.

Jy kan egter al hierdie oppervlakkige maniere tot vervelens toe probeer, en steeds nie goed voel oor wie jy is nie. Jy moet jouself eers aanvaar.

Iemand wat haar liggaam as ’n vyand sien, sal nooit ’n gesonde leefstyl kan handhaaf nie. Jy moet jou liggaam begin sien as iets wat jou help met optimale funksionering.

Dit is ’n voorreg om gesond te wees en daarom moet ons meer gereeld ons gesondheid en liggame vier!

Jou liggaam word direk gekoppel aan jou siel en gees. ’n Goeie selfbeeld, ’n kalm siel en positiewe gedagtes huisves ’n gesonde liggaam.

Daar bestaan nie iets soos ’n kitsoplossing nie. Die perfekte, gedissiplineerde dieet, oefenprogram en roetine is nie altyd volhoubaar nie. ’n Mens se liggaam sê vir jou wat jy nodig het.

’n Gesonde leefstyl is baie meer realisties as enige dieet. Ek eet soms ’n stuk koek sonder om skuldig te voel. Jou liggaam het ’n kombinasie van kossoorte nodig. Probeer wel om ’n gebalanseerde dieet met genoeg groente, vrugte en proteïene te volg.

’n Oormaat suiker en koolhidrate is nie gesond nie. Drink genoeg water, slaap genoeg en begin oefen.

Dit is nie nodig om elke dag te oefen nie. ’n Beginner kan slegs drie keer per week oefen. Oefening hoef nie ’n straf te wees nie.

Kies ’n oefening of sport waarvan jy hou. Sien dit as jou terapie. Daar is soveel opsies van verskillende oefeninge.

Dit word egter beperk wanneer jy nie die tyd of hulpbronne tot jou beskikking het nie.

Die oplossing is om oefeninge in die huis te doen. Dan kan jy dit by jou skedule en alledaagse lewe inpas.

Begin deur realistiese lang- en korttermyndoelwitte te stel. Moenie op die eerste dag wegspring en vir twee uur aaneen gaan oefen nie.

Jy gaan die volgende dag seer en styf voel. Dit gaan dan baie wilskrag verg om daarna weer te gaan oefen.

Besluit sommer vandag nog wat jou doelwit is en moenie dat enige omstandighede of persoon in jou pad staan om dit te bereik nie! Navorsers is van mening dat dit slegs 21 dae neem om ’n nuwe gewoonte aan te leer!

Vorige artikelJy is goed genoeg, foute en al
Volgende artikel“Dien ander, maar bly glo in jouself”