Moet jy jonk wees om mooi te lyk en te voel?

83

Moenie teen jou ouderdom vaskyk nie. ’n Hoë syfer is nie iets om te vrees nie en beteken nie jy is oor die muur nie. Versorg jouself soos Mandi Baard, Sunet Vermaak en ander skoonheidskenners en jaag jou drome na. Dit hou jou jonk en laat jou fantasties voel.

Lyf-issues kan ’n mens maklik pootjie. Miskien help dit as ons almal eerlik hieroor is en met mekaar hieroor praat (en lag). Niemand word van ouer-word kwytgeskel nie.

Verbeel jou jy moet sonder grimering by ’n fotosessie vir ’n tydskrif se voorblad opdaag … Ek moes!

In my sensitiewe twintigs sou ek dit nooit kon doen nie, maar in my laat dertigs het my ingesteldheid oor my lyf heeltemal verander.

Om gemaklik en gesond in my vel te wees, is beter as om perfek te probeer lyk. Moenie toelaat dat ander mense se standaarde jou definieer nie.

Jou lyf is ’n geskenk. Dis net joune en jy kan kies om dit op te pas of te verniel. Daar is nie ’n towerresep vir kitsgesondheid nie. Probeer maar werk aan balans, sonder om jouself te kasty as jy dit nie regkry nie.

Probeer alle vorms van “te” te vermy en doen wat jy vir jou kinders sê om te doen. As hulle nie hope soetgoed mag eet nie, moenie jouself volstop met sjokolade nie.

As versoekings jou wil oorweldig, praat met jouself – partykeer dalk selfs streng. Jy raas mos met die kinders oor sekere goed wat hulle doen en nie doen nie …

Nog iets wat help om jou gedagtes werklikheid te maak, is om ’n droombord saam te stel. Dis ’n collage van drome, prentjies en doelwitte wat jy teen ’n bord of op ’n stuk karton vasplak. Sit dae en datums by sodat jou planne spesifiek moet wees en nie net wensdenkery nie.

Tydlose elegansie vra dat jy aanpas, verander en droom

Jy verouder, jy kan dit net sowel met grasie doen. Daar is inderdaad niks mooier as ’n vrou wat haarself in elke fase van haar lewe goed versorg nie. Inteendeel, wysheid bring skoonheid. En deesdae is daar allerhande hulpmiddels om die ouderdom te lyk wat jy wil lyk.

Jou vel is nie meer so bestand teen swak versorging soos in jou twintigs nie. Die oog- of nagroom wat jy in jou dertigs gebruik het, gaan nie meer in jou veertigs werk nie … Pas aan!

Die vogroom wat jy in die somer gebruik, gaan nie doeltreffend wees in die winter nie. Die hitte en koue is totale uiterstes. Jy kan jou vel optimaal laat funksioneer deur die regte soort produk vir die regte klimaat te kies. Sorg ook dat dit by jou ouderdom en unieke behoeftes pas.

Dit maak nie saak hoe oud jy is nie, maar dit maak saak hoe jonk jy vóél. Jy moet tog effe pas by jou jare, veral as dit kom by dinge soos haarstyle en kleredrag. Jy “moet” of “hoef” nie soos ’n vrou in haar vyftigs te lyk as jy in jou dertigs is nie. Glad nie.

Maar jy moet tog ook nou nie volksvreemd lyk in klere wat lankal nie meer vir of by jou pas nie. Om stylvol te wees is die een ding wat nooit uit die mode sal gaan nie.

Benewens jou uiterlike, wat inherent ook jou innerlike beïnvloed, moet jy dinge vir jouself doen. Nie vir jou man, kinders, ouers of vriende nie – vir jóú.

Dit kan ’n stokperdjie wees, iets wat jou laat voel soos wie jy was voordat jy ’n vrou vir jou man was, of ’n ma vir jou kinders. Wat wou jy nog altyd doen, maar jy was te bang of skaam om dit te waag?

As tiener het ek altyd my haarborsel as mikrofoon gebruik en ABBA uit volle bors gesing. Asof ek ’n gehoor gehad het.

Sedert my veertigs neem ek sanglesse, en ons hou konserte. Dit ruk jou uit jou gemaksone, maar dit is ’n bevrydende gevoel. ’n So what-gevoel.

Dit maak nie saak of jy 30, 40, of 50 is nie. As daar ’n stukkie droom, iets wat jy wil waag, iewers ’n ek-wil-nog-eendag in jou is – just do it! Ouderdom tel slegs as jy kaas is of ’n goeie rooiwyn …

Besluit elke dag om jouself lief te hê

Om jouself te aanvaar, maak jou mooi van binne na buite. Dis die soort skoonheid wat jou laat gloei met ’n blos van vrede. Hierdie stralende voorkoms laat mense vra: Jy lyk so goed, wat is jou geheim?

Wanneer jy nie jouself aanvaar nie, verwerp jy jouself. Dit bring gevoelens van skuld en skaamte, van nie goed genoeg wees nie. Dit maak jou selfgesprekke afbrekend en veroorsaak minagting teenoor jou ware behoeftes.

Hierdie negatiewe gesindheid bly selde net by jou denke en emosies. Dikwels laat dit jou fisiek afgetakel voel en jou immuunstelsel verswak. Dan bly jy moeg en ongeag al jou pogings verloor jy nie gewig nie. Party mense lyk sommer oud en afgerem.

Self-aanvaarding is ’n reis van ontdekking en vriendskap kweek met jouself. Hierdie proses begin by ’n keuse. Selfaanvaarding beteken egter nie jy kies om te bly soos jy is nie.

Dit help jou om dit wat reeds goed en mooi is, nog mooier te maak. En om dit wat minder mooi is en aandag nodig het, aan te spreek.

Praat mooi met jouself en gee erkenning vir wie jy is en wat jy doen. Só ontstaan daar ’n fisieke toegeneentheid teenoor jouself. In dié proses van selfversorging kan jy vir jou liggaam gee wat nodig is. Dinge soos genoeg slaap en beweging, en voedsame kos.

Dit ondersteun jou om gesonde grense te stel en laat jou werk aan verhoudings en kommunikasie wat opbouend en goed is vir jou. Dit lei tot tevredenheid, en minder spanning in jou binneste.

Mense wat hulleself aanvaar, kweek selfliefde. Dan lyk hulle jonger, het genoeg energie en lewenslus, en raak die proses van gewig verloor en gesonder leef ook makliker.

Raak stil, en wees eerlik met jouself. Maak ’n lysie van dit waarvan jy hou en dit wat maak dat jy jouself verwerp. Kies om ouself te aanvaar net soos jy is – met die goed en die sleg.

Aanvanklik is dit ’n daaglikse keuse soos ’n nuwe gewoonte wat jy aanleer. Vergewe jouself vir die negatiewe houding wat jy gehad het.

Leer dan om jouself nie meer met ander te vergelyk nie, of om jou aan ander se standaarde en vereistes te meet nie. Waak teen kritiek. Wees elke dag dankbaar oor iets van jouself.

Besluit op een ding waaraan jy wil werk en kies slegs drie goed wat jy kan doen om die verandering teweeg te bring.

’n Goeie selfbeeld is die eerste stap na mooi lyk

Elke persoon het ’n ander definisie van ’n “goeie selfbeeld”. Party weet nie wat dit werklik behels of waar dit vandaan kom nie. Party reken dit is ’n aangebore “talent”. Jy “het” dit, óf jy “het” dit nie.

Dit word ook as ’n negatiewe eienskap beskou wanneer jy dink jy is so belangrik dat jy nie ander mense en hulle opinies in ag hoef te neem nie. Net jý is reg.

Een van vele Google-definisies verklaar dat “selfvertroue die vertroue in jou eie vermoëns, eienskappe en oordeel” is. Dit is glad nie ’n slegte definisie nie … Die meeste mense, of jy nou oud of jonk, ’n man of vrou is, is bang wat ander van hulle dink.

Daar is soveel mense wat met maskers lewe. Hulle verloor hulle eie identiteit sodat hulle kan “inpas”, “aanvaar” word, van “gehou” word óf “ingesluit” word.

Hulle wil deel voel van ’n groep of situasie. Hierdie individue pas hulle gewoontes, reaksies en gedrag aan om ander tevrede te stel.

Dit gebeur op ’n daaglikse basis. Soos mense die maskers begin verwyder, die vrees van ander se opinies laat vaar, ophou twyfel in hulleself, word hulle al hoe meer gemaklik met wie en wat hulle is.

Daarmee saam kom ’n gemak in jou eie vel. ’n Gemaklikheid wat oorvloei in jou ontmoetings met ander, hoe jy jouself uitleef, hoe en watter gesprekke jy voer en hoe gemaklik jy jouself begin uitdruk.

Laat gaan daardie “valse” jy, die persoon wat jy gedink het die wêreld wil hê jy moet wees. Dan begin jy om net weer jouself te wees. Jy kan verander in iemand wat ten volle in haarself glo.

Selfversekering tree in wanneer jy nie meer omgee wat ander van jou dink nie, nie meer ’n behoefte het om ander te please nie. Dit is iets wat reeds diep binne in jou wese is. Dit is nie ’n vaardigheid wat jy moet aanleer nie. Dit is nie iets wat jy moet beoefen tot jy dit regkry nie.

Jy sal sien, wanneer jy gemaklik is met jouself en jouself aanvaar net soos jy is, kom daar ’n vrede in jou hart wat as selfvertroue uitgebeeld word.

Kry ’n dagboek of notaboek, en skryf die volgende neer: Hoekom gee jy om wat ander mans of vroue van jou dink? Neem ’n besluit of dit die moeite werd is om voort te gaan met jou huidige gedrag of manier van dink.

Ontdek die immergroen stylvolle glanspersoonlikheid in jouself

Christian Dior het geglo: “Lewenslus is die geheim van skoonheid. Daar is geen skoonheid so mooi soos skoonheid met lewenslus nie!” Sophia Loren en Elizabeth Taylor was vroue wat van lewenslus en selfvertroue gesmeul het, ongeag hulle ouderdom.

Hulle het koppe laat – draai selfs in hulle sewentigs! Wat was hulle geheim? Styl … dit is die wonder-ekstrak, die innerlike selfvertroue van weet wie jy is en wat jy uit die lewe wil hê.

“Ja, hulle is ikone, goue godinne,” mag jy sê. Jy voel dalk dis baie moeiliker vir jou as “gewone” vrou om só te lyk en te voel. Daarom moet jy dinge dóén om jou innerlike glamour woman te ontdek.

Jou brein skei die goedvoelhormoon serotonien af. Om aktief te wees en gereelde oefeninge te doen, het dieselfde uitwerking.

Gaan grou in jou klerekas. Kry daardie rok wat jou soos ’n “prinses” laat voel. Trek dit aan, kleur jou gesig in en kam daardie hare. Sit jou paar mooiste oorbelle aan, trek die hoë hakke aan. Dan vat jy jouself uit vir ete. Natuurlik moet so ’n pragstuk vertoon word!

Sukkel jy dalk om die “Venusbeeld” in jouself raak te sien? Dan moet jy die kenners inroep om hulle towerkwassies te gebruik. Jy verander sommer heel gou in ’n pragtige swaan!

So, skud daardie vere reg. Jý is gebore om in glans en glorie te leef. Binnekort voel jý ook soos ’n filmdoekheldin – jou gunsteling-jy.

Deel van hierdie ontdekking is dat jy ook weet wat jou skeppingsdoel is. Soos watter vrou in die Bybel is jy? Eva is geskep vir ’n unieke rol in die skepping. Mirjam moes leer om onvoorwaardelik te vertrou.

Ragab was die toonbeeld van genade aan die werk. Sy het nie vir God geken nie. Toe sy haar geloof kies, het sy ontdek dat sy beskerm sal word. Rut was die vrou wat gekies het om haar geloof eerste te stel.

Ester was as vrou bruikbaar waar sy geplaas is. Sy was nie sonder swaarkry en rampspoed nie. Tog het sy wonderbaarlike redding vir haar mense gehelp bring.

Maria was die ma van Jesus. Sy staan uit as een van die mees geseënde vroue van alle tye. Sy het die Here opreg liefgehad. As jongmeisie het sy haar volledig bekeer.

Dit maak nie saak of jy ’n vrou soos Rut of soos Maria is nie. Om jou skeppingsdoel te vervul, moet jy die vrou in die spieël leer ken en liefhê.

Weg met vormlose klere en wys jou sexy lyf

Ons raak gewoond om agter ’n masker weg te kruip en versteek onsself ook sommer onder los en oorgroot klere. Só hou ons mettertyd op om ons individualiteit met ons kleredrag uit te druk.

Oral in modekringe word daar gesê dat gemak bo alles gestel moet word. Maar daar is ’n reuseverskil tussen gemaklike drag en klere wat vormloos en te groot is. Jou kledingstukke moet styf genoeg pas om te wys jy is ’n vrou, maar los genoeg om te wys jy is ’n dame!

Vergeet van modegiere en trek aan wat jou figuur en persoonlikheid beklemtoon. Jou uitrustings moet jou liggaam komplimenteer, maar ook jou stempel afdruk. Dra items wat gemaklik pas, maar moenie jou lyf wegsteek nie. Só gaan jy net ouer en afgeleef voorkom.

Gebruik jou ouderdom, liggaamsbou en leefstyl om jou voorkoms te bepaal, nie te beperk nie. Moenie bang wees om met verskillende style te eksperimenteer nie. Probeer om stukke te meng en pas met bykomstighede wat jy nog nie vantevore gedra het nie.

Speel met allerlei kleurkombinasies. Jy sal verbaas wees watter groot verskil ’n tikkie nuwe kleur aan ’n ouer uitrusting kan maak.

Koop klere volgens snit en nie volgens nommer nie. Snitte verskil dikwels. Die regte nommer kan die verskil wees tussen ’n vleiende uitrusting en een wat jou laat lyk asof jy die dameskleedkamer nodig het!

Sorg dat jy die regte onderklere aantrek voordat jy aankope gaan doen. Die regte vormdrag moet gemaklik pas en jou klere ’n mooi voorkoms gee. Dit moet nie so styf sit dat jy nie eens kan water drink nie.

Raadpleeg ’n kenner voordat jy onnodige items koop. ’n Mens is geneig om vir enige geleentheid winkels toe te storm net omdat jy nie mooi voel in jou eie klere nie. Ná die tyd sit jy net met nog een van daardie rokke wat stof in jou hangkas vergaar.

Vra raad voordat jy nuwe goed koop. Jy is dalk angstig in die winkels omdat jy verkeerde items aanskaf. ’n Klere-kenner kan jou ’n klomp geld bespaar deur jou huidige klerekas uit te sorteer en raad te gee oor nuwe aankope.

Mooi aantrek is ’n lekkerte. Verander jou uitkyk oor wat jy aantrek en jy gaan gou besef wat jy al die jare gemis het. Moenie dat jou bui jou uitrusting bepaal nie – laat jou uitrusting jou bui bepaal! Gebruik jou klere om die positiewe in jou dag uit te bring.

Jou jongerlyk-versorgingsroetine begin by jou oë

Navorsing bewys jy kyk eerste na ’n persoon se oë om haar ouderdom te bepaal. Laat mense aanhou raai met ’n paar eenvoudige veranderinge in jou leefstyl, velsorgroetine en grimeertegnieke.

Voordat jy jou ooggrimering aanwend, gebruik ’n primer met ’n silikoonbasis. Tik dit liggies onder jou oë en langs die buitenste hoeke van jou wenkbroue aan. Dit voorkom dat grimering in die fyn oogplooitjies gaan lê en dit só beklemtoon.

Die wenkbrou omraam die oog en trek dus die aandag na hierdie area. Sorg dat jou wenkbroue altyd goed versorg is. Gebruik ’n oogpotlood of oogskadu wat dieselfde kleur, of een skakering donkerder as jou hare is, om jou wenkbroue in te kleur en definisie te gee.

Moenie aan die kant van die wenkbrou ’n afwaartse lyn trek nie, maar wel ’n horisontale een vir ’n oop, jonger voorkoms.

Te veel oogskaduwee kan jou gou afgerem laat lyk. Wend eerder minder oogskadu in die regte kleur aan. Dit sal die vensters van jou siel mooi laat uitstaan.

Jou oogvorm bepaal hoe dit omlyn moet word. Doen dit altyd aan die bokant van die oog met ’n oogpotlood of gel-oogomlyner. Pasop dat die oogpotlood nie aan die einde van jou oog, jou oog aftrek nie. Trek die lyn altyd ’n bietjie op as jy op hierdie plek kom.

Om jou oë jonger te laat lyk, gebruik ’n nude-kleur oogpotlood in die waterlyn van die oog. Dit verbloem rooiheid wat soms hier voorkom en laat die oë ook witter en groter vertoon.

Die aanwending van maskara lig en verhelder jou hele oogarea. Ons wimpers word ongelukkig minder soos ons ouer word. Neem eers ’n donkerbruin maskara en wend dit met sig-sag bewegings aan. Laat dit droog word.

Wend nou swart maskara net aan die onderste punte van jou wimpers. Die ombré-effek laat dit dikker vertoon en trek die aandag.

Vorige artikelOm vrees vir die dood te oorkom
Volgende artikel[PODSENDING] Lyding skei ons nie van God nie