Verloor gewig – op die regte en gesonde manier

344

Jy is seker ook al moeg vir die beloftes van ’n nuwe dieet wat al daardie oortollige vetjies sal laat wegsmelt. Of die nuutste dans of oefening wat almal op hol het.

Dit gaan nie soseer oor wat jy eet en hoeveel jy oefen nie. Dit lê veel dieper. Wat is jou verhouding met kos? En hoekom dink jy moet jy oefen?

Om in die oomblik te wees wanneer jy eet of oefen sal help om jou lyf sterk te maak en vorm te gee.

Jy moet bewus wees van hoe jy voel wanneer jy eet. Die effek op jou liggaam – goed of sleg. Jou sintuie en reaksies op dit wat jy eet is belangrik.

Jy is byvoorbeeld mal oor die tekstuur of haat die smaak. Is jy regtig honger of net lus vir iets soet?

Bewustelike oefening beteken dat jy heeltemal teenwoordig is in die oefensessie. Jy kan nie uit-zone tydens ’n Zumba-klas of op autopilot in die gim wees nie. Of na ’n YouTube-video kyk terwyl jy ’n paar vinnige opsitte doen nie.

Jy konsentreer op jou vorm en laat elke oefening tel.

Om op te daag en outomaties te oefen sal resultate gee, maar jy sal beter, vinniger resultate kry as jy bewustelik oefen.

En daardie resultate sal nie net esteties wees nie, maar het ’n klomp interne en eksterne voordele buite die gim. Dit verminder stres, jy geniet jou kos en oefensessies meer en sal gouer die lyf kry wat jy so begeer.

Herken die emosies wat jou laat eet

Gebruik jy kos as troos wanneer jy gestres, eensaam of depressief voel? Slaan ag op die emosionele redes waarom jy eet, sonder om jouself te veroordeel.

Van kleintyd af vorm ons assosiasies met kos. Ons koppel baie goeie herinnerings aan eet en samesyn, soos kinderpartytjies, troues, familiebyeenkomste en die vier van groot geleenthede.

Later gebruik ons kos as steunpilaar wanneer ons hartseer, eensaam, kwaad of gefrustreerd voel. Eet is dan ’n manier om emosies te hanteer en tydelik die leemte in ons lewe te vul.

Onderskei tussen emosionele honger en fisieke honger. Emosionele honger kom vinnig en intens. Jy wil dadelik iets baie spesifiek, gewoonlik met baie vet of suiker in, soos sjokolade of koek, eet.

Selfs wanneer jou maag vol is, voel jy steeds nie tevrede nie. Om vir emosionele redes te eet, laat jou met skuldgevoelens en magteloosheid.

Fisieke honger ontstaan geleidelik en jy is ontvanklik vir verskillende opsies. Jy kan stop wanneer jy versadig is en het nie skuldgevoelens ná die tyd nie.

Evalueer die voor- en nadele daarvan om emosioneel te eet. Dis belangrik om te erken hoe dit jou in die verlede al gehelp het. Dink aan ’n onlangse geleentheid toe jy te veel geëet het, omdat jy nie na jou liggaam se seine geluister het nie.

Maak nou ’n lysie van die voordele in jou lewe om emosioneel te eet. Het dit jou byvoorbeeld getroos en afleiding gegee?

Doen nou dieselfde met die nadele daarvan. Het dit jou byvoorbeeld geïsoleerd laat voel, fisieke ongemak veroorsaak en jou emosies afgestomp?

Benader hierdie lys sonder oordeel. Jy het bloot die mees beskikbare hanteringstegniek gebruik wat jy op daardie oomblik gehad het: trooskos.

– Jacomie Nel, dieetkundige

Kry ’n spesifieke tyd vir maaltye

Een voordeel van drie of meer maaltye per dag, is dat jy langer versadig bly. Dit keer dat jy na ongesonde kosse gryp wanneer jy honger raak, sonder om te fokus op wat jy eet.

Die grootste fout wat vroue maak wanneer hulle gewig wil verloor, is om maaltye oor te slaan. Mense vertel graag van al die kosse wat hulle uitsny. Hulle eet niks deur die dag nie, behalwe vir aandete. Ten spyte daarvan, verloor hulle glad nie gewig nie.

Ontbyt is gewoonlik die eerste ete wat uitgesny word. Dít terwyl dit die belangrikste maaltyd van die dag is. Jy moet ná sewe tot agt uur se slaap sonder kos, jou liggaam se energievoorraad aanvul.

Ná omtrent vier uur het jou liggaam klaar die kos wat jy geëet het, verteer. Ná vyf uur begin jou bloedsuiker val en gryp jy dan na die eerste en beste ding wat jy sien. Hoe meer tyd tussen maaltye verloop, hoe makliker is dit om jou met die volgende maaltyd te ooreet.

Jy neem ook nie al die voedingstowwe in wat jou liggaam nodig het nie. Jy sal dan die heeltyd aan hoëvet- en suikerversnaperings wil peusel.

Gereelde etes voorkom dat jy jou ooreet. Só kan jy ook bewustelik op ’n spesifieke tyd by ’n tafel gaan sit en aandagtig eet. Jy is nie so honger dat jy net iets gryp en afsluk sonder om te fokus op wat jy eet nie.

Die nuutste navorsing wys dat drie etes voordelig is vir goeie spysverteringsbakterieë. Wanneer jou liggaam nie besig is om kos te verteer nie, maak die goeie bakterieë in jou derms jou spysverteringskanaal skoon.

Die goeie bakterieë is nodig vir immuniteit, jou gemoed, verbeterde metabolisme en gewigsverlies.

– Christel de Lange, dieetkundige en borsvoedingskonsultant

Eet met aandag en gebruik jou sintuie

Ons word soms gedwing om gou iets af te sluk. Maar probeer om die meeste van die tyd bewustelik en met jou sintuie te eet.

Eet moet nie net outomaties wees, terwyl jy lees, ’n boodskap op Facebook stuur, televisie kyk, dagdroom of beplanning doen nie.

Selfs al kan jy nie die heeltyd streng bewustelike eetgewoontes volg nie, kan jy steeds probeer om met aandag te eet. Moenie jou liggaam se boodskappe ignoreer nie.

Dink aan aandagtige eetgewoontes soos jy aan oefening dink: elke bietjie tel, en help. Probeer aanvanklik vir kort tydjies aandagtig eet, so vyf minute op ’n slag. Bou dan geleidelik daarop voort.

Gebruik al jou sintuie terwyl jy inkopies doen, kosmaak, dit bedien en eet. Dink hoe die verskillende kosse lyk, ruik, smaak en voel wanneer jy besig is om dit te verwerk, kook en eet.

Met jou bord voor jou, neem ’n oomblik om die kos en geselskap te waardeer. Let op die teksture, vorms, kleure en reuke. Wat is jou reaksie? Neem ’n hap van jou kos. Ervaar hoe dit in jou mond voel. Probeer om die verskillende bestanddele en geure te identifiseer.

Kou jou kos deeglik en let op hoe jy kou. Fokus op jou ervaring en hoe dit van oomblik tot oomblik verander. Voel jy dat jy besig is om versadig te raak? Neem jou tyd en bly heeltyd bewus van wat jy doen.

Eet stadig. Sit jou eetgerei neer tussen happe. Voordat jy jou eetgerei weer optel, vra jouself hoe jy voel. Is jy nog honger, of reeds versadig? Luister na jou maag en nie jou bord nie. Let op jou liggaam se boodskappe van versadig wees.

– Esmé Maré, dieetkundige

Ken die verskil tussen honger en lus wees

As jy weer dink jy is honger, dink mooi. Kort jy nie dalk ’n bietjie liefde of opwinding om jou goed te laat voel nie?

Honger is fisiologies van aard. Jou bloedsuiker daal omdat jy lanklaas geëet het.

’n Oorweldigende lus is iets anders. Dit kan jou oorval, al het jy so pas geëet. Dit is in werklikheid jou brein wat ’n noodsein uitstuur vir “goedvoel-hormone” om jou beter te laat voel.

Belustigheid (cravings) is die drang om iets spesifieks te eet. Dit is allesoorheersend. Jy voel jy gaan nie rus vir jou siel kry nie. Jy moet nou daai sjokolade verslind. G’n krieseltjie mag oorbly nie!

Een teorie hoekom ons lus raak vir ’n spesifieke kos is dat die liggaam sekere voedingstowwe benodig.

Nog ’n teorie is dat mense wat hulle diëte beperk en hulleself gereeld uithonger, meer geneig is om lus te raak vir ongesonde kosse.

Die geloofwaardigste bevinding is dat sekere kosse ’n uitwerking op spesifieke dele van ons brein het. Dié kosse kan ons ’n gevoel van opwinding of plesier laat ervaar, of ons kalmer laat voel.

Trooskos word met sekuriteit en liefde verbind.

Sekere kosse, veral dié met baie suiker en vet in, stel hormone soos serotonien en dopamien in die brein vry. Dit laat ons goed voel of genot ervaar. Vroue met PMS ervaar meer kosbegeertes in hierdie tye omdat hulle “goedvoel-hormone” min is.

Dink dan aan positiewe praktiese dinge wat jy kan doen in plaas van om jou aan kos te vergryp. ’n Heerlike warm kerslig-bad of ’n skreeusnaakse boek is dalk net wat jy nodig het om die lus te laat bedaar.

– Antonette Grant, dieetkundige

Wees dankbaar vir jou kos en waar dit vandaan kom

Kies kos in sy natuurlikste vorm. Dink hoe dankbaar jy is teenoor die plant of dier en die Skepper wat alles gemaak het.

Bly weg van gepreserveerde kos. Eet eerder “skoon” kosse in hulle natuurlikste vorm. Water is natuurlik boaan die lys.

Drink drie liter water elke liewe dag. Water is die natuur se hulpmiddel vir baie kwale, insluitend gewigsverlies. Genoeg water versnel jou liggaam se metaboliese prosesse wat beteken dat jy vinniger vet sal verbrand.

Probeer so ver moontlik wegbly van blikkies en pakkies. Eet die kosse wat natuurlik kan groei en rondloop op die aarde. Hoe varser, hoe beter.

Visualiseer die reis wat die krakerige groente gehad het tot op jou tafel en hoeveel mense gesorg het dat dit by jou uitkom. Sê dankie.

Geur jou kosse ook met vars kruie en speserye. Bly dus weg van souse af, wat baie kilojoules kan bevat.

Eet jouself eerder vol aan groente voor jy weer van die vleis of stysel gaan skep. Hou jou porsies klein.

Natuurlik behoort jy nie jouself te ooreet nie, al eet jy gesonder. Drink ’n glas water voor jy eet as jy baie honger is. Tussenin kan jy aan ’n vrug, neute of rou groente peusel.

Glo in jouself en wees geduldig. Jou lyf het nie oornag die gewig aangesit of sy vorm verloor nie, daarom sal dit ook nie oornag verbeter nie. Dit vat tyd, waarskynlik die res van jou lewe as jy gesond wil bly.

“Be kind to your body.” Geniet die proses en hou jou lyf dop soos hy verander. Een van die dae is jy ’n beter, meer gebalanseerde jy!

– Bianca van Rensburg, fiksheidsinstrukteur en gesondheidsafrigter

Kry ’n doelwit vir elke oefensessie

Bestee daagliks tyd aan jouself, jou doelwitte en jou drome. Sorg dat elke oomblik tel deur vir elke oefensessie ook ’n doelwit te stel.

’n Gesonde leefstyl het ’n kragtige uitwerking op al die gebiede van jou lewe. Konstante gesonde gewoontes, goeie roetines en ’n positiewe ingesteldheid is die sleutel tot ’n suksesvolle en gelukkige lewe.

Maar hoe kry jy dit reg? Hou jou standaarde hoog, doelwitte bereikbaar en die belangrikste prioriteite eerste. Bou op die drie pilare van fiksheid, gesondheid en positiewe denke. Struktuur en beplanning is van kardinale belang.

Gereelde oefening en fiksheid verlig spanning en hits jou metabolisme en vetverbranding aan vir ’n gesonde, mooi, vietse lyfie.

Beplan jou oefenprogram vooruit. Hou jou doelwitte realisties en bereikbaar. 30 minute van matige oefening drie keer ’n week is ideaal. Verhoog jou oefenroetine geleidelik van drie na ses keer ’n week namate jy sterker word.

Jy gaan alleenlik jou program volhou as jy dit geniet. Kies daarom oefeninge waarvan jy hou. Luister na musiek, oefen saam met ’n vriendin of ’n groep en dra mooi oefenklere.

Om gereeld te oefen en konstant gesond te eet, verg dissipline, determinasie en positiewe denke. Alles wat ons is en wat ons bereik, begin by wat ons dink, droom en visualiseer.

Beplan en skryf jou drome neer. Visualiseer dit, spreek dit en leef dit. In plaas van net ’n globale doelwit, kry ’n doelwit vir elke oefensessie. Dit laat jou fokus en verhoed dat jy oefen terwyl jou kop op ’n ander plek is

Struikelblokke gaan kom, maar dit gaan jou sterker maak. ’n Mooier, fikser en gesonder jy as ooit van te vore is binne jou bereik.

– Ulrica Stander, estetiese spesialis-verteenwoordiger

Bepaal die rede hoekom jy wil oefen

Ons is vuur en vlam vir ’n nuwe uitdaging. Veral as iemand dit saam aanpak. Maar as jou “hoekom” nie reg is nie, sal jy ophou oefen.

Vir drie weke gee jy jou alles en dit gaan goed. Dan besluit jou vriendin haar lewe is te besig om nou julle nuwe uitdaging te voltooi. Jou lyf is seer, die skaal staan stil, jy is moeg en nou nog alleen ook.

Dit is dan presies hier waar jy begin twyfel. Miskien is dit nie nou die regte tyd nie. Hierdie is dalk nie die regte program nie. Jy dink jy is te oud, te stadig, te oorgewig, te ongesond …

Jy mis ’n paar oefeninge en voor jy weet, is die uitdaging waaroor julle so opgewonde was, verby. Jy voel soos ’n mislukking. Dit is net heeltemal te moeilik.

Die meeste van ons was al op hierdie plek. Hoekom gebeur dit elke keer? Hoekom gee ons so vinnig op en sit op moedverloor se vlakte?

Dit is omdat ons wegspringpunt heeltemal verkeerd is. Eksterne motivering is tydelik terwyl interne motivering blywend is.

Dit is iets baie dieper as net maer word, ’n trofee wen of mooi lyk vir iemand anders. Hierdie is goeie korttermyndoelwitte. Maar wat gebeur as jy dit klaar bereik het of sukkel om daarby uit te kom?

Wanneer die baie belangrike “hoekom” sterk genoeg is, word dit amper onmoontlik om op te gee. Skryf dit neer en plak dit dan êrens waar jy jouself daagliks daaraan kan herinner.

Een stap in die regte rigting is beter as om stil te staan. Wees geduldig met jouself en onthou, jy misluk nooit nie tot die dag wat jy ophou probeer.

– Natascha Oosthuizen, oefenspesialis, afrigter en motiveringspreker

Kweek goeie gewoontes wat ’n leefstyl raak

Kweek doelbewus een goeie gewoonte elke dag. Voor jy weet, het jy die leefstyl (en lyf) waarna jy al so lank uitsien!

Begin van voor af bou aan alles wat jou hart, jou denke en jou liggaam wil hê en nodig het. Nie wat jy gedink het jy moet hê nie, maar die eintlike benodigdhede in jou lewe. Vestig ’n gesonde roetine deur elke dag aan ’n goeie gewoonte te werk.

Begin oefen, maar begin stadig. Gaan stap om die blok of op en af in die straat. Moenie wag tot Maandag nie, begin sommer vandag nog. Dit is die sleutel tot enige leefstylverandering – om net te begin en jou verskonings by die deur te los. Jy sal so trots voel op jouself.

Kry elke dag vir jou ’n nuwe mylpaal. Stap ’n bietjie verder, of begin om kort entjies se draf by jou stapsessie in te werk.

Onthou, dit kan enige soort oefening wees. Dit is net baie belangrik om iets te kry waarvan jý hou. Jy doen dit tog immers vir jouself.

Deur die hele proses gaan jy beslis goeie en slegte dae kry. Druk net deur op die slegte dae.

Hoe meer jy aan jouself begin werk, hoe meer gaan jy besef jy is meer werd as wat jy gevoel en gedink het. Wie wil nou nie weet hulle is die moeite werd en goed genoeg nie? Ons almal verdien om werklik gelukkig te wees.

As ’n probleem soos ’n berg voor jou lê, breek dit eers in kleiner deeltjies op. Begin dan om klein happies te vat. Dit is van toepassing op al die gebiede van jou lewe.

– Melissa Britt, besigheidseienaar en motiveerder

Moenie vergeet om asem te haal nie!

Ons is so gemaak dat ons deur diep en stadig asem te haal, self ons angsvlakke in stresvolle situasies kan beheer.

Dis ’n doelbewuste bewustheid. Die vermoë om met ’n absolute deernis bewus te word van alles wat om jou aangaan.

Die kraan wat drup. Die hond wat blaf. Die ketel wat kook. Die luier van die motor se enjin. Die trap van jou kaal voete op die mat. Jou liggaam wat beweeg en jou gedagtes daarmee saam.

Ek het kort ná my egskeiding begin mediteer. Elke dag. Bewustelik. Dit was die beste geskenk wat ek vir myself kon gee!

Ek glo vas dit is hoekom ek nie ’n enkele pynpil drink, of een skeet of kwaal het nie. My liggaam is in harmonie met my kop. My gedagtes is vars en skoon, en so ook my hart.

Ek is nie net ’n voorstander van doelbewuste bewustheid en meditasie nie, maar ook ’n bobaas-asemhaler.

’n Mens sou dink dat asemhaling natuurlik kom. Ons doen dit tog sonder om te probeer. Dit is nie ’n bewustelike poging van jou kant af nie.

Die voordele is legio. Die longe raak sommer ontslae van afvalstowwe, fisiek én emosioneel.

In die proses van my bewuswording het ek ook geleer hoe om plooie hok te slaan, sonder Botox!

Ons liggame bestaan uit meer as 60% water. Met dit in gedagte, het ek met my eie liggaam se water begin praat … Ek het begin eksperimenteer. Wanneer ek my vogroom aanwend, sê ek mooi goed vir my plooie!

En dit is hierdie mooi wat uitstraal! My vel lyk en voel pragtig.

– Tilesia Colyn, holistiese lewensafrigter en motiveringspreker

Waardeer jou liggaam – buite én binne

Ons word gereeld gevra hoe ons oor ons liggaam voel? Ons moet egter eerder dink hoe ons oor ons innerlike self voel.

Daar is soveel druk op vroue om volmaak te wees. Dis ’n onrealistiese standaard om te handhaaf. Dit is werklik moeilik om gesond te leef as jy soveel ander dinge het waarop jy moet fokus.

Daar is elke maand ’n nuwe dieetpil, nuwe wondergrimering of ander nuwe maniere om mooier te lyk en voel op die rak.

Jy kan egter al hierdie oppervlakkige maniere tot vervelens toe probeer, en steeds nie goed voel oor wie jy is nie. Jy moet jouself eers aanvaar. Die oomblik as jy dit doen en jou liggaam liefhet, kan jy dit ontwikkel en verbeter. Jy kán nog die beste jy word, ongeag jou ouderdom.

Iemand wat hulle liggaam as ’n vyand sien, sal nooit ’n gesonde leefstyl kan handhaaf nie. ’n Mens vergeet maklik hoe geseënd jy is met twee arms, bene, hande en voete.

Dit is ’n voorreg om gesond te wees en daarom moet ons meer gereeld ons gesondheid en liggame bewustelik vier!

Jou liggaam word direk gekoppel aan jou siel en gees. ’n Goeie selfbeeld, ’n kalm siel en positiewe gedagtes huisves ’n gesonde liggaam. Iemand met baie stres en negatiewe gedagtes kan siek word. Jou gedagtes het werklik ’n uitwerking op jou liggaam, al is dit onbewustelik.

Daar bestaan nie iets soos ’n kitsoplossing nie. Die perfekte, gedissiplineerde dieet, oefenprogram en roetine is nie altyd volhoubaar nie. ’n Mens se liggaam sê vir jou wat jy nodig het. Maak vandag ’n kopskuif as jy onrealistiese verwagting vir jouself geskep het.

– Janine Truter, predikant, motiveringspreker en skrywer

Vorige artikel[PODSENDING] Wanneer jy nie goed genoeg voel nie [Reeks 1 Nommer 8]
Volgende artikelHoe om jou vrees vir verwerping te oorkom