Frustrasie kom steel jou vrede

277
Frustrasie steel jou vrede

In vandag se samelewing word ons met soveel frustrasies en uitdagings gekonfronteer. Dit kan ’n nuwe werk wees, of jy het dalk jou huis verloor. Dit kan ’n probleem met alkohol- of dwelmmisbruik wees. Of dit kan verhoudingsprobleme, ’n egskeiding of selfs die dood wees.

Neem beheer oor jou lewe en wat gebeur

Dinge soos velprobleme en om bloot net nie mooi genoeg te voel nie, vul die lys van frustrasies aan. Dit kan ’n mens gestres en doelloos laat, en tot ’n identiteitskrisis lei. Dit is dan moeilik om weer perspektief te kry om aan te gaan. Soveel mense kan hiervan getuig.

Een van die grootste newe-effekte van hierdie uitdagings is die benadeling van jou gesondheid. Dit beïnvloed ook jou voorkoms. Dit is dalk tyd om op te hou om volgens ander se selfs goedbedoelde, opinies te lewe.

As seuns en dogters van God staan ons in die outoriteit wat Hy aan ons gee. Ons kan met nederigheid oor ons omstandighede heers. Ons hoef nie teruggehou te word deur negatiewe situasies uit ons verlede nie. Ons is op aarde om te regeer en keuses te maak wat lewe bring.

Dinge gaan nie altyd uitwerk soos wat ons dit wil hê nie, maar Jesus gee vir ons vrede en vreugde in alles. Van grootmense tot tieners, en selfs kinders beleef hierdie frustrasies. Almal soek maniere om dit te oorkom, maar dit is nie altyd so maklik nie.

Wees eerlik en erken jou uitdagings en frustrasies

Maak aanpassings. Begin sommer by jou gedagtes. Jy is die somtotaal van jou gedagtes. Leer uit die Woord en ander mense se ervarings om jou hart rustiger te maak. Keer so dat frustrasies jou onderkry. Laat dit jou positief beïnvloed.

Erken die uitdagings wat jou tans frustreer en skryf dit neer. Maak ’n besluit dat dit beter is om na jou roeping in die Here te streef as om met frustrasies te sit.

Slaap meer. ’n Gebrek aan voldoende rus laat ’n mens oormoeg en gespanne voel. Dit is dan wanneer ’n mens slegte keuses maak. Moet jouself nie blind staar teen jou omstandighede nie. Neem beheer daaroor en verander dit. Maak seker dat jy aanhou vorentoe loop.

Spreek God se Woord elke dag hardop oor jouself uit. Dit plaas die lewe en jouself in ’n heel ander perspektief. Alles gaan dalk nie dadelik verander nie, maar jý kan. Ons is soos ’n boom wat nooit ophou groei nie.

Lag is vir seker goed vir die gemoed

Jy kan vrede hê te midde van enige situasie. Kies daagliks om te lag. Mense wat gereeld lag se gemoed is soveel beter. Dit verlig die spanning en plaas jou situasie sommer weer in ’n nuwe perspektief. Wees dankbaar en tel elke dag jou seëninge.

Jy kan ’n impak maak vir God se Koninkryk. Bestee tyd saam met Jesus sodat Hy Sy hart met jou kan deel. Hy sal vir jou oplossings gee. Klim uit jou gemaksone. Kyk wie jy tot seën kan wees. Kies elke dag geloof, nie vrees nie. Dit maak nie saak hoe erg die situasie lyk nie.

Onthou, frustrasies is nie daar om jou te straf nie. Dit is gewoonlik daar om jou te laat besef die Here het jou geroep vir meer as wat jy nou kan sien. Jy is ’n geskenk aan ander, gebruik jou lewe om Hom te eer.

Jy straal net iets uit wanneer jy besluit om nooit op te gee nie en doelgerig aan te hou loop. En dit is waar die groot waarheid lê: Skoonheid begin binne in jou.

’n Vrou wat weet wie sy in Christus is, se skoonheid is van die grootste waarde.

– ANNELIZE SMIT, skoonheidsterapeut en in die bediening

Vorige artikelTest Elementor
Volgende artikel[PODSENDING] Emosies is die sondebok van ons kosdrange