Hoe versorg ek my tatoeëermerke?

571

Trots op jou nuwe lyfprentjie? ’n Bietjie moeite kan verseker dat dit vinnig gesond word en so lank moontlik mooi bly.

Indien jy met ’n nuwe tatoeëermerk spog, is geduld aan die orde van die dag. Die genesingsproses kan, afhangende van die grootte en ontwerp, van ’n week tot ’n paar maande neem.

Wanneer die tatoeëring afgehandel is, hou die area vir twee tot vyf uur toe en was daarna met louwarm water en ’n antibakteriese seep.

Druk dit versigtig droog. Gebruik ’n dun lagie antiseptiese room – iets soos bababoudsalf, Bepathen of Sudocream, om infeksie te help voorkom. Daarna kan jy dit oop los of met gaas bedek. Herhaal die proses in die begin omtrent drie keer per dag.

Die tatoeëermerk moet vir ten minste die eerste maand skoon en droog bly. Jy kan stort, maar dit moenie in water week, soos byvoorbeeld wanneer jy bad nie. Beskerm die area met gaas as jou klere dit bedek.

Jy moet so ver moontlik die son vermy. Sonblootstelling sal veral gekleurde merke baie vinnig laat verdof. Wanneer jou vel gesond is, kan jy wel sonbrand mits jy ’n goeie hoë SBFsonskerm gebruik.

Vermy lyfskropmiddels of skuursponsies totdat die wond heeltemal genees is. Daarna, sal ’n goeie lyfskrop help om dooie oppervlakkige selletjies te verwyder wat die merk dof kan laat lyk.

Moenie rofies of velletjies aftrek of krap nie – dit kan dalk van die ink verwyder en die ontwerp beskadig As die gejeuk aanhou, of as jou vel vir meer as ’n dag bloei, warm of rooi is, win mediese raad in.

Jy gaan die een of ander tyd opvolgsessies moet skeduleer, maar as jy mooi na jou tatoeëermerk kyk, kan dit so lank as 20 jaar neem voordat dit nodig is.

Janine Janse van Rensburg, somatoloog

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Janine.