Kan grimering langer hou?

1016
Kan grimering langer hou

In ons somerklimaat kan ’n paar wonderwenke help om jou grimering ná ’n lang, warm dag steeds mooi te laat vertoon.

Smeltende grimering, gesmeerde oogomlyner en verbleikte lipstiffie kan enige somersdag versuur.

Hier is ’n paar wenke om te verseker dat jy selfs op die warmste dag op jou beste lyk …

Begin met ’n olievrye bevogtiger en sonskerm. Vir jou onderlaag kan jy ’n basislaag (primer) wat silikoon bevat, gebruik. Dit sal jou vel versag en die onderlaag absorbeer.

Gebruik ook ’n gesigpoeier bo-op die onderlaag. Wend dit met ’n poeierkwas aan om die grimering te beskerm en om te keer dat jou gesig blink.

’n Klein bietjie deurskynende gesigpoeier sal jou lipstiffie ’n matafwerking gee en dit langer laat hou. Wend twee lagies lipstiffie en poeier, lagie vir lagie aan en jy sal vind dat jou lippe heeldag mooi en afgerond vertoon.

Om te verseker dat jou oogskadu die hele dag skitter, kan jy ’n onderlaag en deurskynende poeier bo-op die oog aanwend voordat jy met jou ooggrimering begin. Gebruik ’n goeie kwaliteit oogskadu.

Twee lagies waterdigte maskara sal ook wondere verrig!

’n Oogskadu of taupekleurige wenkbroupoeier en ’n lagie wenkbroujel, ook in ’n taupekleur, bo-op die wenkbroupoeier sal jou wenkbroue heeldag netjies laat vertoon.

Pragtige grimering wat die hele dag hou, is binne jou bereik met hierdie maklike stappe.

– Jolanda Bedeker en Tanya van der Merwe, JB Makeup

Kliek hier vir meer videos en artikels deur JB Makeup.