Ken jou velsorgprodukte

198

Skoonheid en velsorg was nog nooit vir LYNN VAN VUUREN, somatoloog, verkoopsverteenwoordiger en bestuurder, ’n luukse nie, maar eerder ’n noodsaaklikheid. ’n Gesonde vel gee ’n mens net meer selfvertroue. Iets waaraan soveel vroue ’n tekort het.

Om in vandag se wêreld seker te wees wat die waarheid is, is ’n moeilike taak. Daar is soveel produkte op die mark, maar ongelukkig ook soveel ongegronde feite. Ons koop en glo heeltemal te maklik.

Die beste raad wat ’n mens kan volg, is om jou huiswerk deeglik te doen. Moenie goedgelowig tonne geld uitgee nie. Met vandag se gevorderde tegnologie tot ons beskikking, kan ons enigiets naslaan.

Almal probeer geldmaak. In die skoonheidsbedryf kan ’n mens ongelukkig met baie wegkom. Dit is egter nie die geval in die mediese velsorgbedryf nie. Al die aktiewe bestanddele moet deeglik nagevors word.

’n Produkverteenwoordiger kan byvoorbeeld nie ’n produk by ’n dokter probeer bemark sonder mediese studies en bewyse daarvoor nie.

Daar is heelwat om op die uitkyk voor te wees as dit by aktiewe bestanddele kom. Die beste voorkoming en behandeling vir veroudering is ’n goeie sonskerm. Retinol, veral die nuwe retinol-analoog, irriteer nie die vel nie en lewer goeie resultate sonder enige ongemak.

Organiese produkte moet ongelukkig ook met ander natuurlike bestanddele gepreserveer word. Dit is dan nie noodwendig goed vir jou vel nie en kan selfs veroudering aanwakker.

As jy geen van die bogenoemde aktiewe bestanddele kan identifiseer nie, kan dit om verskeie redes wees. Die produk is dalk van ’n baie swak gehalte. Dit bestaan waarskynlik meestal uit water en gliserien.

Dit kan wees dat die produk nie regtig ’n spesifieke veltoestand of probleem behandel nie. Dit is dus meer gemik op ’n vel wat reeds in ’n goeie toestand is wat ’n mens so wil hou.

In hierdie geval doen die produk nie veel nie. Dit kan aanvanklik ’n aangename gevoel verskaf, maar dit is al. Dit is belangrik om te verstaan wat die meeste produkte aan die vel doen.

Te veel room maak jou vel uiteindelik lui om sy eie funksie te verrig en genoegsame olie self te produseer. Wanneer jy ophou om room te gebruik, voel dit dan of jou vel kraak. Jou vel het daaraan gewoond geraak dat dit nie nodig het om enigiets self te produseer nie.

Vir ’n olierige vel, of ’n vel met aknee, word produkte soos toners met alkohol of eukaliptus gebruik. Dit stroop jou vel van al sy natuurlik olies en suurmantel. Hou jy weer op daarmee, word jou vel baie olierig.

Dit is omdat jou vel gewoond is dat al die olie weggevat word en dit daarom meer olie moet produseer. Dit is ’n absolute bose kringloop.

Mediese velsorg word as ’n estetiese produk beskou wat ’n biologiese aktiwiteit in die vel aanwakker. Dit dring die vel tot by die teikenselle binne. Jou vel leer om sy eie funksie te verrig soos byvoorbeeld om olievlakke te normaliseer en te beheer.

Met dit alles in gedagte, is mediese velsorg daarom jou sleutel tot selfvertroue en ’n gesonde en gelukkige vel.

Vorige artikelLeef julle soos God wil hê julle moet leef?
Volgende artikelProbeer die ‘minder is meer’- oefenbeginsel