Kennis vir ’n pragtige vel

243

Gesonde vel weerkaats lig. Dit gloei op die mooiste manier. ’n Vel wat nie lae grimering nodig het nie, is ’n gelukkige vel.

Daardie vrou wat met selfvertroue vinnig winkel toe kan gaan met slegs ’n gekleurde sonskerm en maskara aan … Sy kry al die komplimente.

Haar liefde vir haar vel straal uit haar uit. Dit is tog wat elke vrou van haar volgende velsorg[1]afspraak wil hê.

Met die tegnologie en mediese velsorg wat vandag beskikbaar is, kan wondere inderdaad verrig word. Doen net goeie navorsing sodat jy in die regte hande beland.

Begin deur ’n ervare dermatoloog te gaan sien sodat daar ’n deeglike velkonsultasie gedoen kan word. Dié dokter sal dan ’n diagnose maak. Soms loop mense vir jare met ’n velprobleem wat totaal verkeerd behandel word.

Besluit wat jou doel is, en wat jy wil bereik. Stel ’n begroting saam voor jy met jou dermatoloog of terapeut gaan praat. Dit is belangrik om alles volledig te bespreek en dan ’n plan van aksie uit te werk.

Dr. Sarina Drusinsky, ’n bekende dermatoloog, sê altyd dit is belangrik om te begin deur die canvas te fix. Sorteer eers die pigmentasie, vlekke en tekstuur uit om ’n skoon en gesonde vel te skep. Daarna volg die estetiese prosedures.

’n Goeie vel met natuurlike uitdrukkingslyne is beter as ’n swak vel wat glad nie kan beweeg nie. Gespesialiseerde estetiese velsorgbehandelinge en gehalte mediese velsorgprodukte is baie belangrik.

Die korrekte velsorgroetine wat jy tuis kan volg, moet gekies word.

Begin by die basiese, jou gesigreiniger. Gebruik ’n produk wat spesifiek vir jou soort vel gekies is.

Dit is belangrik om jou vel en die produkte wat jy gebruik, te verstaan. Jy moet weet hoekom en wanneer dit gebruik moet word. Dit sal jou help om met ’n goeie velsorgroetine vol te hou.

Jou leefstyl, stres en slaap beïnvloed jou vel meer as wat jy dalk besef. Klein veranderings, soos om op ’n sagte satynkussingsloop te slaap, kan byvoorbeeld help om slaaplyntjies te voorkom.

Kundiges sê gereeld: “You are what you eat.” Eet daarom gesond en drink genoeg water.

Te veel suiker, koffie en alkohol in jou dieet, en om te rook, is baie nadelig vir jou vel. Dit kan lei tot aknee, dehidrasie en veroudering.

Wend elke oggend ’n vitamien C-antioksidantserum aan. Dit sal help om vroeë veroudering te voorkom. Moenie van jou nek vergeet nie. Die nek gee sommer vinnig ’n mens se ouderdom weg.

Die goue reël van velsorg is om elke dag ’n sonskerm aan te wend, selfs al reën dit. Die sonskerm in jou onderlaag is nie genoeg nie. Daar is baie goeie produkte op die mark om uit te kies.

Wees versigtig vir die son en ook vir sonbeddens. Dit hou die risiko van velkanker in. Maak jaarliks vir jou ’n afspraak om jou moesies en vlekke te laat ondersoek.

Jou vel is immers baie belangriker as ’n nuwe kledingstuk of lipstiffie. Belê eerder daarin!

Vorige artikelMaak tyd om aan gesinsverhoudings te werk
Volgende artikelRouchelle Liedemann: “Vergewe en dankbaar is beste maats”