Voel pragtig, selfversekerd en sensueel

111

Ons almal het al in ’n stadium in ons lewe nie goed oor onsself gevoel nie. Daar is verskeie redes hiervoor: omstandighede, groot verandering, verlies. Vir ons vroue is dit egter meestal verhoudings.

Verhoudings lê vroue na aan die hart

Toe Adam gemaak is, was die eerste ding wat God vir hom gegee het, werk. Toe God vir Eva gevorm het, het sy ’n verhouding gekry.

As jy aan ’n man se menswees wil vat, vat aan sy werk en sy vermoë om te voorsien. As jy aan ’n vrou se menswees wil vat, vat aan haar verhoudings. Ons is so geskape, en dit is mooi.

Daar was ’n keerpunt in my lewe toe een van my verhoudings ná baie jare uitmekaar geval het. Ek het in daardie tyd een dag ’n baie slegte dag gehad.

Ek was sommer lus om van realiteit te ontsnap en op ’n avontuur te gaan. Ek bestel toe vir my ’n Uber. Toe ek in die voertuig klim, lyk die bestuurder soos Madiba. Jy kon die liefde in sy oë sien. Hy staar toe na my in sy truspieëltjie en vra met deernis: “Hoe was jou dag?”

Maak eerste tyd vir jouself en God

Ná my lewensverhaal-uitlating, het hy ’n rukkie stilgebly … Toe sê hy: “Die lewe wat jy nou het, is die lewe wat jy vir jouself deur jou gedagtes geskep het. Dit is hoe jy oor jouself voel.

“Soms maak jy iemand anders jou eerste prioriteit en plaas jouself tweede. Dan kan jy nie ongelukkig wees as daardie persoon jou tweede plaas nie. Jy het hulle immers geleer om jou so te hanteer. As jou beker leeg is, het jy nie iets om vir enige iemand te bied nie.”

Dit wat hy gesê het, het my lewe verander. Hierdie is die sleutel om mooi en vol selfvertroue te voel. Dit begin binne jou. As jy die basiese beginsel regkry, volg die uiterlike vanself. Jy moet jouself en God eerste stel.

Dink daaraan, jy doen die wêreld ’n onreg aan as jy nie jou beker vol maak nie. Jy het ’n doel in hierdie wêreld wat net jý kan vervul. As jou beker leeg is, kan jy nie vir die wêreld bied wat net jy as ’n unieke individu kan nie. Dit is nie selfsugtig nie. Jy doen almal om jou ’n guns.

Kies om mooi en selfversekerd te voel

Laat gaan daarom dít waaroor jy nie beheer het nie. Kies jouself. Kies Jesus. Matteus 22:37 sê jy moet God liefhê met jou hele hart, en jou naaste soos jouself.

Skraap die moed bymekaar om onvolmaak te wees. Begin deur jouself 100% te aanvaar, presies net soos jy nou is. Maak ’n besluit om jouself lief te hê en om te glo dat jy die moeite werd is.

Ons is gemaak in God se beeld. Dit beteken ons kan ook skep. Jy skep jou lewe deur wat jy glo, dink en wat jy oor jouself spreek. Wees bedag op jou gedagtes. Maak ’n lys van positiewe verklarings en spreek dit oor jouself uit. Al glo jy dit nie aan die begin nie, wat jy sê, sal jy hê.

Dink aan wat jou gelukkig maak en maak tyd vir dit. Is dit koffie saam met ’n vriendin of ’n bos vars blomme? Koop dit dan vir jouself. As dit ’n lang bad in laventelolie is of om ’n salon te besoek, doen dit!

Om mooi en vol selfvertroue te voel, begin deur dit te kies! Jou lewe is ’n storie wat die wêreld nodig het om te hoor. Own it!

– AMORIE PEARSON, entrepreneur, fotograaf en in die vrouebediening