Wys jou natuurlike skoonheid

15

Het ’n mens werklik so baie grimering nodig? Gerda van Schalkwyk, ’n skoonheidsdeskundige, glo kennis is mag en meer is nie noodwendig beter nie. Gebruik eerder die grimeerhulpbronne tot jou beskikking om jou mooi eienskappe te komplimenteer.

My ma het graag gesê, ’n “te” voor enigiets is nie ’n goeie ding nie, behalwe wanneer dit “te”-vrede is. En my ma was selde verkeerd …

“Dis nou genoeg”, sou my man gereeld opmerk wanneer ek my grimering aansit. “Het jy regtig so baie nodig?” Maar wat weet mans nou van ons vroue se skoonheidsgeheime en roetine!

Ons maak die fout, en voel selfs sterk hieroor, om te dink hoe meer grimering ons dra, hoe mooier gaan ons lyk.

Natuurlik bestaan die teenoorgestelde ook. Daar is vroue wat weer niks van grimering hou nie. “Ek het nie tyd om op mooimaak te mors nie. Ek het nie die geld vir grimering nie. Ek weet nie hoe om dit aan te wend nie.”

Gelukkig kom wysheid saam met die ouderdom. Jy kán grimering gebruik om jou natuurlike skoonheid uit te lig en jou op jou heel beste laat voel.

Ons skoner geslag hou tog maar daarvan om mooi te maak, hetsy jou huis of tuin. Ons trek mooi aan en kleur ons gesigte in.

Daar is ongelooflik baie grimeerprodukte op die mark, met kort-kort nuwe modestyle en kleure. Honderde tegnieke van aanwending, maniere om kontoere op jou gesig te skep om jou wange slanker te laat vertoon.

Dit is alles wonderlik en opwindend. Maar hoe, waar en hoeveel? Wat is die geheime om “te” te vermy en eerder tevrede te wees met jou grimering? Kennis is mag. Meer is nie noodwendig beter nie.

Ons volg graag kookkursusse, leer hekel, kry opleiding in alles en nog wat.

Hoekom dan nie leer hoe om jou grimering reg aan te wend nie? Daar is verskeie demonstrasievideo’s op die internet en skoonheidsartikels in tydskrifte hieroor.

Gaan vir persoonlike grimeerklasse. Woon grimeerwerksessies by en oefen, oefen, oefen … Moenie bang wees om te eksperimenteer nie.

Hoe ouer ek word, hoe minder het my grimering geword, of dalk het ek net luier geword …

In plaas van ’n onderlaag, gebruik ’n BB- (blemish balm) room of ’n gekleurde dagroom. Gebruik dan net ’n ekstra verbloemstiffie op merkies.

Bly weg van poeier af. Dit gaan lê in elke kreukeltjie en voutjie en gaan jou vir seker ouer laat lyk. Los maar die glitter vir die jonges en verkieslik vir die aand. Ons moet grimering gebruik om ons mooi eienskappe te komplimenteer, nie te aksentueer nie.

Jy hoef nie soos enige iemand daarbuite te lyk of te wees nie. Vergeet van perfek wees, jy is genoeg. Daar sal altyd iemand wees wat mooier, ryker of maerder is as jy. Fokus op jouself. Jy moet vra, wat kan ek doen sodat ek vir myself mooi kan wees, nie vir iemand anders nie.

Onthou, dit gaan oor jou. Jy moet gelukkig wees binne jouself. Wees lief vir jouself, gebruik die hulpbronne tot jou beskikking en maak innerlik vrede met jouself. Skoonheid kom van binne en straal na buite.

Vorige artikelBestuur jou emosies oor geld
Volgende artikel“Ek moes leer sê: Ek het depressie …”