Begin elk dag met goeie voornemens

261

Of dit nou ’n nuwe dieet of oefenprogram is, of selfs net om ’n bietjie netjieser te leef. Begin elke dag met goeie voornemens. En moenie opgee omdat dit te moeilik of te veel is, of omdat jy nie tyd het nie.

Ou gewoontes is moeilik om te verbreek

Onthou altyd dat dit normaal is om terug te glip na jou ou gewoontes. Veronderstel jy is op ’n dieet en jy eet ’n hele pakkie fudge op, in plaas van net een stukkie. Gee jy dan sommer op en eet ’n stuk koek ook?

Die beter reaksie nadat jy die pakkie fudge opgeëet het, sal wees om te sê: “Dit was nou lekker. Ek kon voel my lyf het die soetigheid nodig gehad en dit is normaal om soms ietsie soet te geniet. Maar dis nou klaar.

“Ek voel wel skuldig oor die hele pakkie fudge. Ek gaan egter nou die res van die dag daarop fokus om weer by my dieet te hou. Een keer se bietjie te veel fudge gaan nie my vorige drie dae se gesond eet kanselleer nie.”

’n Gewoonte is nou maar een maal nie ’n maklike ding om te verander nie. Dit is nie realisties om te dink jy gaan die gewig wat jy oor twee jaar opgetel het in twee weke verloor nie!

Besluit dat vandag ’n goeie dag gaan wees

Begin elke oggend as jy opstaan met die positiewe voorneme en gedagte dat vandag ’n goeie dag gaan wees. Besluit byvoorbeeld om ontbyt te eet sodat jy meer energiek voel.

Jy gaan dan beter konsentreer by die werk, wat jou meer produktief gaan maak. Verruil dus die negatiewe gedagte oor jou gewig, vir ’n positiewe gevoel van hoeveel meer energie jy het.

Stel vir jouself net een of twee doelwitte per dag. As jy dalk vandag net een van jou doelwitte bereik, moenie te skuldig voel nie. En moenie te kwaai met jouself wees oor die ander een nie.

Aanvaar dit en motiveer jouself om dit weer te probeer regkry, eerder as om op te gee.

Jy het nie verloor as jy nie jou doelgewig bereik het nie. Jy het net verloor as jy opgegee het. Solank jy net ná elke struikelblok van vooraf met ’n nuwe voorneme begin, sal jy uiteindelik by jou doel uitkom.

Dink aan jou dieetplan as ’n leefstyl

Dalk neem dit langer as wat jy aanvanklik gedink het. Dit maak egter nie saak nie. Al wat tel is dat jy dit wel reggekry het.

Moenie op ’n Maandag met ’n nuwe eetplan begin nie. As jy dan teen Woensdag ’n struikelblok teëkom, is jy geneig om te sê: Toemaar, ek sal Maandag weer begin. Jy verloor dan vier dae waarin dit dalk goed kon gegaan het.

Oorweeg eerder om met jou nuwe eetplan op ’n Donderdag te begin. Oor ’n naweek is dit baie makliker om te beplan en reg te eet. Daar is dan nie werk, skool of ander verantwoordelikhede wat jou fokus nodig het nie.

Moenie jouself straf met ’n baie streng detoks- of uithongerdieet nie. Dit is nie volhoubaar nie. Jou kanse om moed te verloor is baie groter. Wees lief vir jouself en jou liggaam. Behandel jouself met respek.

Voed jou liggaam om dit gesonder te maak, eerder as om net op gewig te fokus. Jy is meer as net jou gewig.

Om gesond en gelukkig te wees, is meer as net wat jy eet en weeg. Neem een dag op ’n slag en begin elke dag met goeie voornemens.

Los gister se ou koeie in die sloot!

– ANKE VAN WAVEREN, dieetkundige

Vorige artikel[PODSENDING] Stella – Tyd saam met God en jou gesin
Volgende artikelHOE OM … ’n missie op te stel