Dink jou pad oop na gewigsverlies

295

Soos die meeste van ons, het jy waarskynlik ook al geswig voor die nuutste verslankingsmiddels en oefenmasjiene. Of selfs die een of ander belofte van hoe jy al daai oortollige gewig in slegs drie dae kan verloor.

Verander hoe jy oor jouself dink

Ons is almal soekend na die geheim vir gewigsverlies. Ons soek dit in elke boksie, op elke Instagram-blad of in die een of ander nuwe bewering oor selfontdekking.

As kind word ons grootgemaak met ’n heeltemal verkeerde verhouding met kos. As jy val en seerkry, kry jy ’n suigstokkie om beter te voel. As jy luister en mooi werk, kry jy ’n sjokolade as beloning. As jy al jou kos op eet, kry jy poeding.

Om hierdie redes is ons emosies verbind aan kos. Meer as die helfte van ons raak emosionele eters en sukkel om dit te beheer. Dit is hier waar ons gedagtes en denkwyse inkom.

Voor jy jou eetgewoontes kan verander, moet jy eers jou gedagtes oor jouself verander.

Die meeste mense begin ’n nuwe uitdaging of eetplan met “mislukking” reeds oral in hulle gedagtes opgeskryf. Jy kyk in die spieël met soveel haat teenoor wat jy sien. Ons gedagtes word woorde en ons woorde word realiteit.

Visualiseer elke dag hoe jy jou doelwitte bereik

Ek hoor so baie, “ek kan nie gewig verloor nie, maak nie saak wat ek probeer nie”. En ook, “ek sal nooit so kan lyk nie”. Dit wat jy oor jouself dink, word weerspieël in elke stukkie van jou menswees.

Die negatiewe en afbrekende woorde wat jy elke dag oor jouself sê, word opgevang in elke sel van jou liggaam. Dit word dus die uitkoms van jou lewe en gesondheid.

Visualiseer elke dag jou doelwitte en hoe jy dit bereik. Kyk na jouself en bevestig aan jouself dat jy reeds baie waarde en talente het. Dat jy nog nie jou doelgewig bereik het, of is waar jy wil wees nie, verander dit geensins.

En dan glo en sien jy reeds dit wat jy wil wees en wat jy wil bereik. Neem beheer oor jou gedagtes oor jouself en oor kos. Plak jou spieël of yskas vol notas met positiewe bevestigings van “Ek is genoeg” of “Ek verdien die beste”.

Vervang jou ou eetgewoontes met nuwes

Wanneer jy leer om jouself weer lief te hê, sal net goeie en positiewe dinge uit jou lewe begin vloei. Verander jou gewoontes en jou verkeerde benadering van emosies en kos. Wanneer jy yskas toe wil hardloop omdat jy hartseer of gestres is, doen iets anders.

Drink eerder ’n glas water, loop om die huis, doen tien skêrspronge of gaan lees ’n stukkie uit ’n inspirerende boek. Doen dit totdat jy jou ou gewoontes vervang met nuwe gewoontes wat gaan bydra tot ’n gesonder en beter jy.

Begin ook na kos kyk as die natuur se medisyne. Ontdek al die ongelooflike voordele wat dit vir jou liggaam kan inhou. Doen navorsing oor die voordele van verskillende groentesoorte, proteïene en vette.

Verander jou denkwyse oor hoe jy gesonde kos as sleg, of net dieetkos sien. Baie keer leef ons net om te eet, en eet ons nie om te oorleef.

Die magic wat jy so oral soek om van daai ekstra gewig ontslae te raak, lê nie in ’n pot goud aan die einde van die reënboog nie. Dit lê alles opgesluit in die kamers van jou eie siel en gedagtes. Om my lewe te verander moet ek daarom my denke verander.

– CHARNE PRETORIUS, persoonlik afrigter en pilates-instrukteur

Vorige artikel[PODSENDING] Die kalorieë in drankies kan gewigsverlies strem
Volgende artikel[PODSENDING] Dink jou pad oop na gewigsverlies