Drankies strem gewigsverlies

53

Jy volg ’n gebalanseerde dieet, maar sukkel steeds om die vetjies af te skud! Baie mense vergeet om te kyk na die drankies wat hulle nuttig. Die meeste koeldranke is propvol suiker, sê Charlotte van Wyk, kliniese dieetkundige.

Mense wat gereeld drankies drink wat baie suiker bevat, voel nie noodwendig so vinnig versadig nie. As hulle egter dieselfde hoeveelheid kalorieë in die vorm van kos ingeneem het, sou hulle baie vinniger ’n versadigingspunt bereik het.

Drankies met ’n hoë suikerinhoud hou verskeie gesondheidsgevare vir ’n mens in. Dit kan onder meer lei tot vetsug, tipe 2-diabetes, hartsiektes, en metaboliese sindroom.

Ouers moet daarteen waak om vir hulle kinders gereeld koeldranke te gee wat suiker bevat. Dit sal voorkom dat hulle eendag siektes, eie aan dié soort leefstyl, ontwikkel. Buig die boompie terwyl hy jonk is.

Die meeste gas- en aanmaakkoeldranke, vrugtesap, ystee, gegeurde water, energiedrankies en warmsjokolade het ’n baie hoë suikerinhoud. Koffie- of gegeurde cappuccino-sakkies en kina- (tonic) water moet eerder ook vermy word.

Baie mense dink dat 100%-vrugtesap geen suiker bevat nie en daarom nie gewigstoename sal veroorsaak nie. Daar mag nou wel geen bygevoegde suiker in hierdie soort vrugtesap wees nie, maar dit bevat steeds natuurlike suiker. Dit staan bekend as fruktose.

Daarom kan hierdie oënskynlik gesonde drankie steeds tot gewigstoename lei. Goeie raad as jy wel vrugtesap geniet, is om jou glas net tot in die helfte daarmee te vul. Vul dit dan verder eerder met water aan.

Dit is belangrik om te weet hoe om die inligting op etikette te interpreteer. Let op die hoeveelheid suiker wat op die etiket aangedui word. ’n Goeie idee is om uit te werk hoeveel lepels suiker in die koeldrank is wat jy oorweeg om te koop.

Een teelepel suiker is gelykstaande aan vyf gram. As die etiket op die koeldrankbottel aandui dat die koeldrank 30 gram suiker bevat, moet jy dit deur vyf deel. Die koeldrank bevat dus ses teelepels suiker!

Suiwer water bly steeds die beste bron om in jou vloeistof[1]behoeftes te voorsien. Nogtans verkies baie mense dit om eerder vloeistowwe in die vorm van koeldrank, koffie of tee in te neem.

As jy nie van suiwer water hou nie, kan jy suikervrye gegeurde water oorweeg. Geur sommer self jou water met skyfies suurlemoen, komkommer, aarbeie, lemoene of nartjies. Mentblare kan ook ’n vars geur en smaak verskaf.

Suikervrye gas- en aanmaakkoeldranke, suikervrye ystee, koffie en tee met min of geen suiker en suikervrye kina-water is ook veiliger keuses. Wees ook maar versigtig vir alkohol. Suikervrye of laekalorie[1]alkoholiese drankies moet eerder voorkeur geniet.

Alkohol bevat baie kalorieë. Dit is daarom belangrik om mooi te let op drankies wat jy eerder in matigheid wil geniet. Dit is altyd beter om die ligte of alkoholvrye weergawe te koop. Meng sterk drank soos vodka of brandewyn, met suikervrye gaskoeldranke.

Neem elke dag slim besluite. Nie net oor wat jy eet nie, maar ook oor die vloeistowwe wat jy inneem. Dit mag jou dalk net help om daardie laaste paar hardnekkige kilogramme af te skud.

Eet, drink en wees vrolik. Maar wees ook wys wanneer jy keuses moet maak.

Vorige artikelWat die bybel sê oor … mislukking
Volgende artikel[VIDEO] Liefde, eerder as oordeel, kan mense heelmaak