Gesonde etes in ’n japtrap

65

In elke dag se dolle gejaag is dit soms ’n uitdaging om gesond te eet. Pamela Clarke, dieetkundige, gee raad sodat jou huismense gesond eet sonder dat jy jou ure voor die stoof afsloof.

Kruidenierswinkels kan soos ’n oorweldigende plek voel. Veral as jy min tyd het en onseker is oor wat om te koop vir maklike, lekker en gesonde etes.

Gebalanseerde etes is maaltye wat uit al die voedselgroepe, naamlik koolhidrate, proteïene, vet, asook groente of vrugte bestaan. As jy ’n paar gesonde opsies van elkeen hiervan in die huis het, kan jy etes in ’n japtrap bedien.

Onverfynde koolhidrate is hoog in vesel en bevat min suiker en vet. Voorbeelde hiervan is hawermout, aartappels en patats (met die skil aan), mielies, koeskoes, bruinrys, quinoa, volgraanpasta, -brood en -wraps.

Probeer om geprosesseerde koolhidrate soos witbrood, koek, skyfies, lekkers en koekies te vermy. Proteïene wat min vet en sout bevat, is beter vir jou gesondheid.

Gesonde opsies sluit in eiers, tofu, bone en lensies, vis en seekos, hoender, bees- en varkvleis (vel en vet verwyder). Ook maer ham, hoenderlewer, laevetkaas soos maaskaas en mozzarella en suiwelprodukte soos melk en jogurt (verkieslik suikervry).

Voorbeelde van gesonder tipes vet is sagte margarien, plantolie (soos kanola-, sonneblom- of olyfolie), neutbotter, avokadopeer, sade en neute.

Alle vrugte en groente is gesond. Die aanbevole hoeveelheid is vyf porsies ’n dag waarvan die meeste groente moet wees.

Dit is ook heeltemal aanvaarbaar om gevriesde en sommige geblikte produkte te gebruik omdat die voedingswaarde behoue bly.

Heelwat geblikte produkte bevat egter meer sout. Beperk dit verkieslik tot ’n paar produkte soos vis, bone en tamaties. Koop eerder vars of bevrore groente en vrugte.

’n Voorbeeld van ’n gesonde ontbyt is ’n bord hawermoutpap. Dit kan warm geëet of oornag afgekoel word.

Eiers is ook ’n baie gesonde opsie. Die gaarmaakmetode hiervan kan afgewissel word. Dit kan bedien word saam met volgraanbrood, avokadopeer, tamatie en sampioene. Vrugteslaai met jogurt of ’n vinnige vrugteskommel (van vrugte en jogurt) is ook gesond.

Om tyd met etes te spaar, kan ’n paar koolhidrate, groente en proteïene aan die begin van die week gaargemaak word.

Gebruik byvoorbeeld gaargemaakte hoenderrepies om ’n vinnige pasta aan te vul. Dit kan ook op ’n toebroodjie, in ’n wrap of selfs in ’n slaai bedien word.

Rys kan gebruik word saam met ’n paar garnale, groente en ’n blikkie tamaties om ’n paella te maak. Dit kan ook as ’n bykos geëet word saam met ’n stukkie beesvleis en ’n porsie groente.

Wraps is vinnig en veelsydig. Vul dit met groente, tuna, hoender of selfs gekookte eier. Dit kan ook as ’n basis gebruik word vir ’n pizza in die oond.

Brood het soms ’n slegte reputasie, maar volgraanbrood kan gerieflik en voedsaam wees.

Viskoekies, boontjie-burgers of dun gesnyde hoenderborsies kan ook vinnig gaar gemaak word.

Dit kan dan gebruik word om burgers te maak en as ’n gesonde versnapering geëet word. Dit kan ook met ’n slaai en ’n stysel bedien word vir ’n gebalanseerde ete.

Vorige artikelWéét wat depressie regtig is
Volgende artikelSIMONÉ BOTHA: “Ek dans al hoor ek nie die musiek nie”