Moenie uithonger of ooreet nie

213

René Janse van Rensburg, dieetkundige en joga–instruktrise, glo dis nie nodig om al die lekker uit eet te haal om ’n gesonde leefstyl te handhaaf nie. Laat daarom elke dag iets kleins, maar lekker toe.

Kom ons wees nou maar eerlik, eet is ’n gesellige en ’n persoonlike ding. ʼn Lekkerte. Iets waarna ons uitsien.

Jy ken daardie ek-sal-Maandag-begin-ingesteldheid. Tot Maandag kom, dan eet jy als. En ek praat van alles.

Breek Maandag aan, is jy op die strengste, moontlike eetpatroon. Soveel so dat dit amper bejammerenswaardig is. Want daar is geen ruimte vir iets lekker nie. Jy straf jouself. Die Engelse noem dit ’n love-hate relationship. Dít is wat jy met kos het.

Dis soos iemand wat ’n kar bestuur. Jy gee petrol en jaag, en dan rem jy weer vir elke liewe ding. Jy kom nêrens nie, maar met baie moeite. En dis uitputtend, ongesond en oneffektief. Net so is hierdie manier van eet.

Baie van ons eet versigtig in die week, maar naweke is daar geen einde nie. Die week se uithonger word gevolg deur ’n naweek van ooreet.

Ongelukkig is die week se uithonger nie genoeg om op te maak vir die naweek se ooreet nie. As ’n mens jou ooreet, kan jy baie kalorieë inneem.

As ons eerlik met onsself is, weet ons dis net die eerste en die laaste happie van die ooreet-gedeelte wat lekker is. Die tussen-in is bloot ’n formaliteit om tot by die einde te kom. Jy is lankal nie meer honger nie, maar jy hou aan, want ’n wenner gee nie op nie.

Jy sal ál jou kos opeet, want jou ma het jou vertel van die arm en honger kinders in een of ander Afrika-land.

Die geheim van ’n gesonde leefstyl kom in by ’n gemiddelde spoed. Die alles-of-niks-benadering is nodeloos.

Die lenigste, fiksste lywe indulge ook en eet ook soms ’n brownie te veel.

Maar hulle eet ook slaai en los die ekstra porsie, en dieselfde dag nog nadat hulle hulle ooreet het. Hulle gee nie moed op en gooi alles oorboord nie.

Sit dit agter jou en kyk vorentoe. Dadelik. Nie Maandag nie. Nou! En los die skuldgevoelens, want wat doen dit anders as om net die bederf te bederf?

Leer dan uit die verlede, want as jy terugkyk, sal jy sien dat ’n te streng eetpatroon tot cravings en dan tot ooreet lei.

Laat daarom elke dag iets kleins, maar lekker toe. Want dit hou daardie begeerte om uit te breek en wat ook al voorkom te eet, in toom.

So, geniet die lekkerte en as jy wil indulge, doen dit, en gaan dadelik weer aan met jou gesonde leefstyl. Gaan draf of stap, drink water, sê “nee” vir versnaperings en eet minder by die volgende ete.

Kyk vorentoe en onthou, die lewe is kort. Te kort om nie te dink aan jou gesondheid en net wat jy wil te eet nie.

Maar beslis ook te kort om nie so nou en dan jouself met die lekker in die lewe te bederf nie. Want eet ís ’n lekkerte, en só moet dit bly!

Vorige artikelWat die Bybel sê oor … dankbaarheid
Volgende artikel[PODSENDING] Ons kan saam soveel meer vermag