’n Aangepaste eetplan kan volhoubare energie verseker

17

Om elke dag ’n oorvloed energie te ervaar, is almal se droom. Met die geweldige stresvolle lewe is tyd ongelukkig altyd te min. ’n Pil of ’n doepa is dan die vinnige uitweg.

Herstel só die energiebalans in jou liggaam

Die eetplanbeginsel is daarop gefokus dat elke sel en orgaan in jou liggaam die regte hoeveelheid nutriënte (voedingstowwe) kry. Dit moet ook in die regte verhouding plaasvind.

Die idee is dat jou liggaam nie ’n stadium van uithongering bereik nie en daagliks optimaal funksioneer. Die wonderlike resultate is dan vet wat verdwyn, hope energie wat bykom en lewenslus wat skrik vir niks!

Kos bestaan uit drie belangrike makro-nutriënte: koolhidrate, dit is stysel, vette en proteïne. Die verbranding van hierdie makronutriënte lei tot die opwekking van baie energie. Dit voldoen aan al jou energievereistes deur die dag.

Bykomend tot die verskaffing van energie, kan hierdie makronutriënte ook gebruik word om nog meer makro-nutriënte in jou liggaam te maak. Die normale energievereistes van ’n persoon is veranderlik.

Meer kos word gewoonlik vereis deur ’n liggaam wat 70 kg weeg as een wat 40 kg weeg. Soos die ouderdom toeneem, is daar ’n vermindering in fisieke aktiwiteite en metabolies-aktiewe weefsel in die liggaam. Dit word jou basale metaboliese tempo genoem.

Die brein benodig glukose om te funksioneer

Indien jy min slaap, benodig jy meer energie. As jy baie slaap, minder energie. Spanning maak ook dat ons ekstra energie nodig het.

Die produksie van energie uit voedsel, word soos volg in jou liggaam benodig: Spiere benodig 30% van die totale energie, abdominale organe 25%, die brein 20% en die hart 10%.

Jou liggaam benodig ’n sekere hoeveelheid glukose elke dag om sekere funksies te verrig. Indien jy dit nie inneem nie, sal jou liggaam nie genoeg energie hê nie.

Jou brein benodig in die omgewing van 1 760kJ per dag. Die brein is een van die organe wat slegs op glukose funksioneer. Indien jy ’n eetplan volg wat te laag in glukose, dit is stysel, is, sal jou liggaam eers die glucose opgebruik en daarna spiermassa vir energie.

Neem daagliks ’n goeie verskeidenheid kossoorte in

Elke persoon het slegs genoeg glukose in sy lewer, spiere en bloed vir 24 uur. 40% hiervan word vir ander organe gebruik, soos jou hart en niere. Vir genoeg energie deur die dag moet jy ten minste 50% koolhidrate inneem – 30% uit stysel, 20% uit groente en 10% uit vrugte.

Hierby kom 30% proteïene – 20% uit vis, hoender of rooivleis en 10% uit melkprodukte. Jy moet ook 20% vette inneem. Plantvet, soos byvoorbeeld avokado, neute, sade en olywe, is nodig vir genoeg energie. ’n Verskeidenheid kossoorte is geweldig belangrik om ook mikronutriënte te verskaf. Dit is die tussen-boublokkies vir energie uit ons makro-nutriënte.

’n Voorbeeld van ’n goeie ontbyt is: 150 g hawermout (gekook), 100 ml laevetmelk en 150 g aarbeie. Vir middagete: 130 g hoender, drie groentes van 125 g elk, 100 ml jogurt (gewoon) en 50 g botterbone.

Vir aandete: 110 g vis, drie groentes van 125 g elk, 40 g avokadopeer en 10 g neute.

Groente is baie goed om energievlakke optimaal te hou. Probeer om elke dag ten minste drie groen groentes te eet. Vesel in groente veroorsaak ekstra energie in jou liggaam. Omdat vertering van groente meer energie benodig, genereer jou liggaam ekstra energie.

– AMANDA KUIT, dieetkundige