’n Realistiese mylpaal vir gesonde gewigsverlies

112

Daar is talle maniere om gewig te verloor. Gesonde gewigsverlies gebeur egter nie oornag nie. Dink aan hoe lank dit jou geneem het om die gewig aan te sit en kyk dan jou weer na jou doelwit.

Om gewig te verloor kan ongelooflik uitdagend wees. Dit verg nie net dieet- en leestylveranderings nie, maar ook baie geduld.

Gesonde gewigsverlies kan enigiets tussen 500 gram en 1 kilogram ’n week beteken. Dit hang natuurlik ook af van hoeveel jy het om te verloor!

As jy om en by 10 kg se oortollige vetjies het, is ’n realistiese mylpaal om dit in drie maande te verloor. Die eerste twee tot drie weke kan jou gewig effens vinniger afkom, maar dit sal stabiliseer en ’n gemiddeld van tussen 500 g en 1 kg per week oor die drie maande bereik.

Ongesonde gewigsverlies beteken meer as 2 kg ’n week. Hierdie manier is nie volhoubaar nie, en sodra jy terugkeer na jou normale eetgewoontes, loop jy ’n groot risiko om alles wat jy verloor het plus rente op te tel!

Daar is nie ’n kortpad met gewigsverlies nie. Dit verg deursettingsvermoë, ’n verandering in jou eetgewoontes en ’n meer aktiewe leefstyl.

Onthou altyd dat sodra jy 10% van jou liggaamsmassa verloor het, jy dit vir ten minste ses maande moet afhou om permanente verslanking te verseker. Dis hoekom dit belangrik is dat jou verslankingsdieet volhoubaar, gesond en lekker moet wees om te volg. Maak dit ’n leefwyse in plaas van ’n dieet.

Vorige artikelWat die Bybel sê oor… sonde
Volgende artikelBeplan en spandeer jou ekstra geld sinvol