Tyd vir dit wat werklik belangrik is?

275

“Besig” het die woord geword waarmee ons mekaar groet. Ons almal het te veel hooi op die vurk en ons is moeg en uitgebrand.

Hoe het dit gebeur? Hoekom doen ons dit aan onsself? Hoekom doen ons dit aan ons kinders? Wanneer het ons vergeet dat ons mense is en nie masjiene nie?

Daar is so min tyd om sommer net te wees en by die dinge wat regtig saak maak, uit te kom. Wat het geword van rustige kuiers om die tafel, met genoeg tyd vir hart oopmaak en sielsdinge gesels?

Jy sê miskien jy is besig, want jy wil net die beste gee vir jou geliefdes of werk aan jou eie geluk. Maar hoe besiger jy raak, hoe minder tyd het jy juis vir die dinge wat jou laat tick of vir jou mense. Besigwees dreineer jou liggaam en jou gees. Dit keer dat jy regtig dáár is in gesprekke en verhoed dat jy die soort verhoudings kweek wat saak maak.

Die grense tussen “werk” en “huis” vervaag al hoe meer. Jy is die hele tyd besig met een van die toestelle wat veronderstel is om jou lewe te vergemaklik en vir jou meer tyd te gee. Terwyl jy jou kinders in die bed sit, loer jy dalk gou met die een oog na jou e-pos op jou slimfoon! En jou kop is op ’n ander plek.

Wees eerlik: Is alles wat jy elke dag doen, régtig nodig? Jy wil dalk bo uitkom in jou beroep omdat jy smag na erkenning. Of jy oorlaai jou kinders met buitemuurse aktiwiteite sodat jy kan goed voel as hulle presteer.

Partykeer weier jy om tot stilstand te kom, want jy is bang vir die “spoke” wat jy dan moet face: Die gevoel van mislukking omdat jy nie die ouer, huweliksmaat of werknemer kan wees wat jy graag wil wees nie. Of jou drome wat toe nie gerealiseer het nie.

Maar dis juis die dinge wat vir jou die kosbaarste is, wat dan in die slag bly. Dit hoef nie so te wees nie!

Wanneer iemand vir jou vra hoe dit gaan, dan is dit wat hulle wil weet.

Nie hoeveel items is op jou doenlysie vir vandag nie. Maar hoe dit regtig op die oomblik met jou hart gaan. Is jy gelukkig? Is jy hartseer? Het jy ’n behoefte aan ’n bietjie menslikheid en liefde?

Maak tyd vir daardie kosbare gesprek, aanraking of kyk – tot in jou siel. Connect. En wees jý soms die een wat uitreik om vir iemand anders ’n pleister te wees. Werk is deel van die lewe. En daarom sál jy sekere tye besiger wees. Maar as jy altyd moeg en besig is, dan moet jy dinge anders begin doen!

Elke mens is gemaak vir ’n ritme van werk en rus – anders sal jy uitbrand. Jy móét dus daardie sweet spot kry waar jy optimaal en kragtig, maar op jou heel gemaklikste, kan funksioneer.

Vorige artikel“Om hoop in my letsels te vind”
Volgende artikel[VIDEO] Hoe om… nie alles te wil beheer nie [Reeks 2 Nommer 1]