Hanteer konflik in die werkplek

593
Mickey Roothman
Mickey Roothman

Meningsverskille, selfs in die werkplek, is iets wat ons nie altyd kan vermy nie. Hoe hanteer ons dit?

As jy in ’n geskil betrokke raak, moenie net luister om te reageer nie. Baie van ons is gewoonlik alreeds besig om te dink hoe ons gaan reageer en wat ons gaan terugsê. Dan hoor jy nie eintlik die ander se standpunt nie.

Met ander woorde, die misverstand gaan voortduur, want jy gaan nie die nodige feite hê nie. Byt vas en luister om vas te stel wat die ander persoon sê.

Let ook op na jou liggaamstaal. Ons is nie altyd bewus van wat ons deur ons houding kommunikeer nie. Maar dit spreek boekdele oor hoe ons werklik voel.

Om jou lippe saam te pers, jou oë te rol of jou arms oor jou bors te vou, wys jy voel kwaad en glad nie gelukkig met die situasie nie. Hierdie tekens plaas die ander persoon op die verdediging.

Jou stemtoon is baie belangrik om wrywing te beheer. As jy hard terugpraat of begin skree, gaan jy agterkom dat die ander persoon ook heftiger raak. As jy jou stemtoon rustig en baie kalm hou, sal jou opponent ook kalmer word.

Wees bewus van die seine wat jy uitstuur. Hou jou liggaamstaal oop en jou stemtoon vriendelik. En hoor wat die ander persoon te sê het.

En as jy werklik onenigheid wil bekamp, vermy mense wat negatiewe praatjies maak of skinder. Deur hierby betrokke te raak, gaan jy konflik optel.

Mickey Roothman, Besigheidstransformasie-afrigter

Vorige artikel[#RegteVroueRegteGeloof] Die ware betekenis van vasbyt
Volgende artikelBasta met selfsugtige, bedorwe brokkies