Bestuur jou emosies oor geld

48

Jou siening oor geld het meer met emosies te doen as wat jy dink. Om jou finansiële situasie te verbeter, moet jou ingesteldheid verander. Leer om negatiewe gevoelens en vrese te erken en te verwerk.

Jy dink dat geld oor jou banksaldo gaan. Dis natuurlik waar, maar geld is ook sterk aan emosies gekoppel. Elkeen van ons het tot ’n mindere of meerdere mate ’n emosionele verbintenis met geld. Die meeste van ons het diepgaande en dikwels onbewustelike oortuigings hieroor. Waar kom hierdie gevoelens vandaan?

Geld gaan meer oor emosies as oor finansies

Dit is baie emosies rondom geld. Baiekeer verstaan ons dit nie

Die meeste van ons is die afgelope tyd deur moeilike tye. Die eerste reaksie op die onsekerheid in so ’n situasie is gewoonlik ’n gevoel van vrees. Vrees dat ek of ’n geliefde “die virus” kan kry, vrees vir die dood. Of dalk vrees dat jy jou werk kan verloor en daardeur ook die dak oor jou kop. Jou besigheid maak dalk toe. Wat word van jou geld vir aftrede?

Al hierdie goed het ’n emosionele impak: Vrees, paniek, depressie en selfs woede. Soms is ons gevoelens teenoor geld so sterk dat ons dit begin haat – omdat ons glo dat dit die oorsaak van al ons probleme is.

Die rede hiervoor is dat ons brein gebou is om onsself te beskerm. Ons brein se hoogste prioriteit is om oorlewing te verseker, pyn te vermy en energie te spaar.

Jou verlede beïnvloed jou gewoontes oor geld

Veiligheid – emosioneel, fisiek en geestelik, maar ook finansieel – is ’n belangrike doelwit vir jou brein. Daarom tree paniek in wanneer dinge nie goed gaan nie. Jou brein sien ’n bedreiging en die veg-vlug-vries-respons skop in.

Jou reaksie is gegrond op jou verwysingsraamwerk. Die eerste verwysingspunt is jou verlede. Hoe jou ouers finansies hanteer het. Wat jy op skool rondom finansies geleer het. Watter oortuigings jy oorgehou het.

Byvoorbeeld het ek ’n herinnering van ’n stadium toe ek graag ’n paar North Star[1]tekkies (daardie dae se Nikes) wou hê wat ons doodgewoon net nie kon bekostig nie.

Die tweede konteks is hoe jy vandag jou geld hanteer. Wat doen jy daarmee? Wat is jou gewoontes rondom geld? Dryf jou emosies daardie gewoontes?

Ryk mense het ryk geldgewoontes. Arm mense het arm geldgewoontes. Die verskil lê in die dinge wat ons elke dag moet doen om ’n verandering te bewerkstellig.

Hou op veg, begin droom oor finansiële welvaart

Hoeveel van ons lewe gaan daaroor om net die basiese behoefte na veiligheid en oorlewing te vervul? Ons toekomsdrome vervaag en ons veg letterlik om oorlewing.

Maar die grootste deel van daardie geveg is eintlik in jou kop, jou emosies. Jou visie vir jou toekoms, rondom jou geld, bestuur ook jou emosies.

Om jou finansiële situasie te verander, moet jy anders oor geld begin dink. Vergeet van die verlede. Vra eerder: Hoe kan ek ’n beter toekoms bewerkstellig? Hoe lyk my finansiële doelwitte?

Party mense droom oor ’n eie besigheid. Ander droom oor palmbome en luukse seevakansies.

Moenie jou drome as gevolg van vrese oor jou finansies verloor nie.

Verban die negatiewe gedagtes wat verhinder dat geld na jou toe vloei. Droom groot. Die Here het ons ’n wonderlike geleentheid gegee om ’n nuwe visie te bou. Dis daardie visie wat ons uit ons verlede en huidige situasie kan red.

– WOUTER SNYMAN, Persoonlike finansies en geldsake

Vorige artikelVashti Prins: Wat ek geleer het …
Volgende artikelWys jou natuurlike skoonheid