Hoe om ’n zero–begroting te bestuur

139

Vir die meeste van ons wek die woord “begroting” omtrent dieselfde gevoelens as die woord “dieet” – vrees of frustrasie. Maar ’n begroting is eintlik net ’n geleentheid vir jou om nuwe geldgewoontes aan te leer.

Jou begroting is jou plan vir jou geld, gegrond op keuses wat jy maak en prioriteite wat jy identifiseer. Om ’n bestedingsplan op te stel, is ’n stap-vir-stap proses. Hierdie bloudruk word die basis waarop jy jou huidige inkomste en uitgawes kan bestuur en beplan vir toekomstige moontlikhede of welvaart.

Elke rand wat jy spandeer, moet ’n doelwit hê

’n Zero-begroting beteken nie ’n mens het niks geld oor omdat jy alles spandeer het nie. Dit is eerder ’n eenvoudige plan waar jy waarskynlik niks geld oor het nie, maar elke rand wat jy uitgee, het ’n doelwit. In jou begroting word elke rand met ’n absolute doel bestuur.

’n Begroting is eintlik net ’n finansiële plan vir jou geld. Dit is hoekom ek dit ’n zero-begroting noem.

As jy R100 het, is die idee dat jy daardie R100 in drie komponente opdeel. Die eerste hiervan is behoeftes. 50% of R50 van jou R100 word hieraan toegedeel. Daar is net vyf behoeftes waarvoor jy voorsiening moet maak.

Dit is vir die basiese goed soos jou huis en jou kar – hetsy jy dit huur of besit, kos en klere en basiese versekering soos korttermynversekering, lewensdekking en mediese fonds. As jy hierdie vyf saam optel, moet dit 50% van jou zero-begroting uitmaak.

Maak genoeg voorsiening vir die toekoms

Die tweede komponent is begeertes, daardie dinge wat jy graag wil hê, maar nie noodwendig nodig het nie. Jy kan 30% van jou begroting of R30 van jou R100 hieraan spandeer. Kyk mooi daarna, want dit is gewoonlik hier waar ons vinnig ’n ietsie minder kan koop of ’n bietjie kan probeer spaar.

Die derde deel is besparing of belegging. 20% of R20 uit die R100 wat jy verdien, moet jy op jou toekoms spandeer. Doen dit deur byvoorbeeld skuld vinniger af te betaal of geld in ’n korttermyn (minder as 12 maande) noodfonds te bêre.

’n Belegging vir jou toekoms is altyd lang termyn (meer as 12 maande). Dis tipies iets wat teen meer as die inflasiekoers moet groei. Vermy riskante beleggings. Onthou, dit is geld vir jou toekoms.

As jy dit alles gedoen het, is daar hopelik nog die addisionele tiende wat jy kan weggee om ander se lewens te verryk.

Bereik finansiële oorvloed ten spyte van ’n zero-begroting

Uiteindelik is dit waarby ons wil uitkom om te kan sê dat ons finansiële oorvloed kan hê. Dit is as ek die R100 van vandag se geld in die toekoms iewers op ’n passiewe basis kan verdien.

Die zero-begroting is eintlik eenvoudig. Uit elke R100 moet ek verantwoording kan doen vir elke rand wat in my begroting is. Aan die begin is dit dalk ’n bietjie moeite.

As jy die doelwit van elke rand in jou begroting beplan, gaan jy baie vinnig positiewe resultate sien. Jy sal moontlik hier en daar ’n lysie moet hou. Byvoorbeeld as jy OTM toe gaan en geld trek en nooit rekenskap daarvoor kan gee nie.

Met ’n bietjie dissipline vandag, om daardie spandeergewoontes, daardie begeertes, ’n bietjie in te perk of aan te pas sal jy wel iewers in die toekoms die geleentheid hê om jou drome uit te leef.

– WOUTER SNYMAN, Persoonlike finansies en geldsake

Vorige artikel[PODSENDING] Help jou kind om stres te hanteer
Volgende artikel“Berus jou in God se plan vir jou lewe”