Help jou kind om alleen te speel

208

Moenie bekommerd wees of skuldig voel as jou kind vir tye alleen speel nie. Dit is hoe hy leer om homself besig te hou. Laat hom ongebonde speel en self nuwe dinge ontdek.

Dit is goed vir kinders om met ander te speel. Dit is net so belangrik vir hulle ontwikkeling om op hulle eie te speel. So ontdek hulle die omgewing teen hulle eie spoed. Hulle maak self foute en leer lesse. Hulle kan aandag gee sonder iemand wat hulle aandag aftrek.

Alleenspel leer jou kind om meer onafhanklik te wees

Deur alleen te speel, leer kinders waarvan hulle hou, om gemaklik te wees in hulle eie geselskap en om meer onafhanklik te wees.

Dit hou natuurlik vir ons as grootmense ook voordele in as ons kinders vir ’n rukkie alleen kan speel. Dit gee jou kans om gou die wasgoed in te sit, ’n telefoonoproep te maak of ’n koppie tee te drink.

Kinders moet leer om hulleself besig te hou. As hulle kla oor verveeldheid is dit ook nie rede vir stres nie. Wanneer hulle verveeld is, word hulle kreatiewe denke gestimuleer en word hulle gedwing om probleemoplossing te beoefen. Hoe doen ’n mens dit?

Onthou dat alleenspel nie skermtyd is nie. Moenie wanneer jy iets gedoen wil kry of jou kind klaerig of verveeld is die TV aansit of ’n foon of toestel in sy hand prop nie.

Dit leer hom nie om alleen te speel nie.

Hoe leer ek my kind om alleen te speel?

Dit gaan nie oor wat jou kind leer wanneer hy voor die skerm is nie. Dit gaan oor wat hy misloop wanneer hy voor die skerm is. In hierdie geval ontneem jy hom van ’n geleentheid vir belangrike ontwikkeling.

Hoe ouer die kind is hoe langer sal hy in staat wees om alleen te speel. Op ses maande sal hy omtrent 5 minute alleen kan speel. Teen 12 maande omtrent 15 minute en teen 18 maande tussen 15 en 20 minute. ’n Tweejarige behoort omtrent ’n halfuur alleen te kan speel.

Jou kind se unieke temperament speel natuurlik ook ’n rol. Vir aktiewe ekstroverte en sensories- soekende kinders gaan dit waarskynlik moeiliker wees om alleen te speel as vir ’n introvert of ’n kind met ’n rustige geaardheid.

Om hierdie vaardigheid te vestig, begin – soos met enige nuwe vaardigheid wat aangeleer en bemeester moet word – stadig en oefen dit gereeld.

Alleenspel beteken nie hy moet eensaam voel nie

Maak seker dat jou kleuter veilig en geborge voel. In die speelomgewing, maar ook in julle verhouding en interaksies. Kies ’n tyd, byvoorbeeld ná ete of ’n slapie, wanneer julle albei kalm en rustig is. Pak ’n paar gunstelingspeelgoed uit en begin saam met hom speel.

Sodra hy lekker speel, onttrek jy jou vir ’n minuut – bly steeds sit. Gesels in ’n rustige, kalm stemtoon. Speel dan weer ’n rukkie saam. As hy nog steeds lekker speel, kan jy opstaan en gou om die hoek of net buite sig tree.

Hou rustig aan praat terwyl jy wegstap sodat hy weet jy is naby. Kom altyd weer ná ’n paar minute terug en gee vir hom positiewe terugvoering oor hoe mooi hy speel.

Hou vir ’n paar dae hiermee aan totdat hy meer in die speelgoed en sy eie doen en late belangstel as in jou wat kom en gaan.

– LIZANNE DU PLESSIS, Kinderontwikkeling en ouerskapkwessies

Vorige artikel[VIDEO] Die grootste geskenk is jou aandag
Volgende artikelSimon Witbooi: “Ek wil eers doen en dan praat”