Hoe gemaak met jou kind se ondankbaarheid

309

Dankbaarheid is nie net ’n Bybelse beginsel nie. Die fisieke strukture van ons brein verander wanneer ons dankbaarheidsgewoontes aanleer. Hoe kan ons dankbare kinders grootmaak? Hoe moet ons met hulle praat oor dankbaarheid en hoekom?

‘n Dankbare kind is ’n gelukkige kind. En wie wil nou nie ’n gelukkige en dankbare kind hê nie? Veral in vandag se lewe waar alles so maklik gebeur dat kinders gou die idee kan ontwikkel dat die wêreld hulle iets skuld. Dit is daarom belangrik dat jy doelgerig optree.

Dankbaarheid is iets wat aangeleer moet word

Hoewel, dankie sê een van die eerste gewoontes is wat ons ons kinders leer, behels ware dankbaarheid baie meer. Dankbare kinders is empaties. Dit is bewys dat hulle gesonder is en baie meer in staat om uitdagings en struikelblokke te oorkom.

Dankbaarheid is egter nie ’n aangebore vaardigheid nie. Dit moet aangeleer word. Dit is hier waar ons as ouers ’n verskil kan maak.

Om dankbaarheid in jou kinders te ontwikkel en aan te moedig begin by jou. Dit is belangrik dat hulle by jou sien hoe dankbaarheid lyk.

Begin sommer om vir jou kind dankie te sê. Wees spesifiek. Nie net oor dit waarvoor jy dankbaar is nie, maar ook oor hoe dit jou laat voel of watter verskil dit in jou lewe maak.

Leer hulle dankbaarheid deur jou voorbeeld

Onthou, jou kinders leer uit jou voorbeeld wat jy stel. Hulle kyk en luister na wat jy doen en sê. By die huis en ook buite. Of dit nou die kassiere is waar jy betaal, of die droogskoonmaker by wie jy klere afhaal, of die man wat jou kar oppas, hulle sien wanneer en hoe jy vir hulle dankie sê.

Hoe kan ons dankbaarheidsgewoontes in ons huis koester? Noem elke oggend ’n paar goed waarvoor julle dankbaar is. Maak ’n speletjie daarvan. Soos julle dit opnoem, gooi julle albasters in ’n bottel. Dit is groot pret om te sien hoe die bottel voller en voller word.

Gebruik die tydjies voor skool om te sê waarvoor julle almal dankbaar is. Sommer so terwyl julle ontbyt eet of in die kar op pad skool toe. Of saans voor bedtyd om aan byvoorbeeld drie goed te dink waarvoor julle vandag dankbaar is.

Maak dankbaarheid deel van jou kind se leefstyl

Moedig jou gesin aan om deur die loop van die jaar briefies te skryf oor dit waarvoor hulle dankbaar is. Die briefies word dan in ’n bottel of ’n boks gesit wat nie voor Kerstyd oopgemaak mag word nie. Dan lees julle as gesin saam al die briefies. Dit maak die jaar weer lewendig om dit waarvoor ons dankbaar is só te onthou.

Die skool waar my kinders in Engeland skoolgaan het, het ’n massiewe papierboom in hulle voorportaal gehad. Die kinders is aangemoedig om op papierblaartjies te skryf waarvoor hulle dankbaar is en dit dan op die boom te plak.

Só word dankbaarheid deel van ons kinders se wêreld. Hulle leer om deur die dag te soek vir redes om dankbaar te wees.

Ek daag jou uit, kies een gewoonte en maak dit deel van jou gesin se daaglikse roetine. Jy sal sien hoe jou kinders in dankbaarheid floreer.

– Lizanne du Plessis, Kinderontwikkeling en ouerskapkwessies

Vorige artikel[VIDEO] Geestelike groei bring verantwoordelikheid mee
Volgende artikel[PODSENDING] HOE OM… te sê “vergewe my”