Leer om … jou kind speel–speel slim te maak

118

Die een oomblik lag jy saam met jou kind, die volgende oomblik wil jy sy nek omdraai. Hoe hou jy al die balle in die lug en waarom het niemand
vir jou gesê ouerskap is so uitputtend nie? ONS VRA OUERSKAPKENNER LIZANNE DU PLESSIS …

Daardie tyd van die aand waar dit soos die grootste oorwinning voel net om almal gevoed, gebad en aan die slaap te kry, word nie verniet crazy hour of suicide hour genoem nie!

Wat ons nie besef nie, is dat hierdie tye saam met ons kinders net soos goud kan wees – mits ons dit reg hanteer. As ons dit reg benader, kan ons en ons kinders skitter.

Hier is enkele padwysers om jou daaglikse interaksies met jou kinders doelgerig te maak sodat hulle groei en ontwikkeling gestimuleer word, julle verhouding versterk word en uitdagende gedrag verminder of selfs verdwyn!

Versterk só die konneksie tussen jou en jou kind

As jy met jou kind connect, gebeur die volgende drie dinge: Julle verhouding word versterk, breinontwikkeling word bevorder en uitdagende gedrag verminder.

Dit is belangrik om beskikbaar te wees in wat jy doen, wat jy voel en wat jy dink.

Sit jou foon neer en skuif fisiek nader aan jou kind. Maak seker dat jy hom kan sien en hoor.

Maak beurte tydens julle interaksie met mekaar – dan doen jou kind iets, dan doen jy iets.

Gebruik jou alledaagse oomblikke met jou kind en maak dit goue konneksie-oomblikke!

Dit verander jou ouerskapreis van ’n oorlewingsreis na ’n oorwinningsreis. Die resultaat is ’n verhouding wat floreer en ’n kind wat blom.

Dit gaan nie altyd maklik wees om prettige verhoudingsbou-oomblikke met ons kinders te hê nie. Natuurlik gaan daar moeilike tye wees. Maar dit is juis dan dat jy moet terugkeer na die konneksiedeel van julle daaglikse interaksie.

Kinders voel veilig as dinge voorspelbaar is. ’n Oggendroetine wat konsekwent en gestruktureerd is, hou baie voordele vir jou kind in.

Uitdagende tantrums sal verminder, julle verhouding sal verbeter en die chaos mag iets van die verlede word.

Besluit op ’n roetine wat vir julle gesin werk en waarby julle kan hou.

Hou afleidings so min moontlik. Moenie in die strik trap om die televisie of die iPad aan te sit nie. As jou kinders met die oggendtakies klaar is, kan hulle Lego speel of buite op die trampolien gaan spring.

Maak grappies en wees ’n bietjie laf. Om saam met jou kind te lag sal spanning verlig en goedvoelhormone vrystel wat nog vir ’n paar uur in jou kind se sisteem sal bly.

Die beste kletstyd is as die wiele draai

Die ure in die kar of in die wagkamer lyk na nuttelose tyd, maar dit is juis ’n gulde geleentheid om konneksie met jou kind te bewerk en ’n storie te vertel.

Ons leer, en ons onthou en verwerk inligting beter wanneer ons stories hoor. Stories aktiveer die emosionele sowel as die denkende deel van die brein.

’n Goeie storie en een wat jou kind se hele brein sal aktiveer, is gewoonlik soos volg uiteengesit: Daar is ’n hoofkarakter en dié het ’n probleem.

Dan ontmoet hy iemand wat hom help en vir hom ’n plan gee. Daardie plan slaag of misluk.

Wanneer jy stories vir jou kinders vertel, gebruik eenvoudige taal en moenie die storielyn te ingewikkeld maak nie.

Kry die magies vol sonder ’n bakleiery

Navorsing bewys dat gesinne wat saam eet, gelukkig is. Daar word gesê dat sulke kinders 30% minder geneig is om te rook, te drink en dwelms te gebruik as hulle tieners is.

Etenstye is ’n wonderlike geleentheid om gesprekvoering te oefen.

Jou kind is nooit te klein of te groot daarvoor nie.

Moenie geslote vrae vra waarop hulle net “ja, nee, of miskien” kan antwoord nie, soos: “Was dit ’n lekker dag?” Vra eerder oop vrae soos: “Wat het vandag gebeur wat jou gelukkig laat voel het?”

Dit gaan oor die verhouding – die feit dat jou kinders veilig genoeg voel om dit wat hulle dink en voel te deel. Dit gee jou ’n kans om te hoor wat werklik in jou kind se hart omgaan.

Die belangrikheid van ’n goeie roetine met slaaptyd

Ons kan nie van ’n ontwikkelende brein verwag om net so af te skakel nie. Dit neem tyd en die regte tipe interaksies, omgewing en aktiwiteite om reg te wees om te gaan slaap.

Besluit op ’n bedtydroetine. Die doel van roetine is om jou kind se lyf en brein reg te kry vir slaap. Skakel alle elektroniese en visuele toestelle 1½ uur voor slaaptyd af.

Maak seker dat julle interaksies met mekaar rustig, stadig en ontspanne is. Dit is tyd vir dinge soos stories vertel, boeke lees, drukkies, Lego bou en help om poppe aan te trek.

Skep ’n omgewing wat rustig en ontspanne is en die brein vir slaap sal regkry. Skakel nagliggies of dowwer ligte aan, want dit sal die slaaphormoon, melatonien, aktiveer.

Speel saam met jou kind vir ’n hegter verhouding

As kinders speel, en meer spesifiek as ons saam met ons kinders speel, bou en versterk dit verhoudings. Dit help hulle om stres te hanteer en verminder ongewenste gedrag soos aggressie, angs en vrese.

As ons speel, word ons onderliggende spanning en frustrasie verlig. Veral wanneer ons aan aktiewe speletjies deelneem en lekker lag – word goedvoel-hormone vrygestel, wat ons stres verlaag en konneksiehormone verhoog.

Daarom, as jou kinders vra dat jy saam met hulle moet speel, doen dit. En as jy moeg by die huis kom, roep die hele gesin nader en begin speel.

Die verstommende ding is dat hierdie soort speeltyd eintlik nooit vreeslik lank hoef te wees nie. Tien minute se speeltyd is soms al wat ’n kind (en jy of jou man!) nodig het.

Wat sê jou kind se sensoriese temperament vir jou?

Kinders wys deur hulle gedrag hoe hulle bedraad is. In wat hulle sê, wat hulle doen en hoe hulle op ander mense en in verskillende omgewings reageer, wys hulle vir ons hulle unieke temperament.

Jy kan jou kind se huil en gegiggel maklik uitken tussen ander kinders in die parkie. Dit is egter meer as net ons kinders se stemme wat ons moet kan uitken.

Temperament beskryf jou kind se unieke geaardheid – die manier waarop hy of sy die wêreld ervaar en daarop reageer. Dit beïnvloed sy gedrag en omgang met ander. Wat jou kind doen en wat hy sê, is die sleutel tot sy unieke temperament.

As jy jou kind se sensoriese temperament verstaan, sal dit julle interaksie vergemaklik en sodoende julle verhouding versterk.

– LIZANNE DU PLESSIS, Kinderontwikkeling en ouerskapkwessies

Vorige artikelDít inspireer my! (Simoné)
Volgende artikel’n Ma maak foute, vergewe jouself!