Maak tyd om aan gesinsverhoudings te werk

124

Soms beland ons verhouding met ons kinders in ’n groef. Ons voel asof ons niks meer in gemeen het nie. Wat kan ons doen om dit te verhoed en om sterker bande te begin vorm?

Navorsing toon dat gereelde konneksie-oomblikke met ons kinders beter verhoudings tot gevolg het. Hierdie gebondenheid kan ook help om hulle vermoë om stres en spanning te hanteer te verhoog en kan uitdagende gedrag help verminder.

Soms is ons verhouding ’n doring in die vlees

’n Paar jaar gelede het ons een Sondagmiddag op Bloubergstrand gaan stap. Cara het gekla dat daar iets onder haar toonnael was, maar ek het min aandag daaraan gegee en gehoop dat stort die oplossing sou wees.

Net voor slaaptyd het sy begin huil en het gesê dat haar voet regtig baie seer was. Toe eers het ek mooi gekyk wat aangaan. ’n Bad mother-oomblik, moet ek sê. Daar het ’n stukkie skulp onder haar toonnael gesit.

Ek kan ’n doring uit my kinders se voete uithaal, maar enigiets meer as dit dan moet Pappa ingryp.

Die noodeenheid, gas vir Cara, lokale verdowing en ’n toonnael wat gelig moes word om die skulp uit te kry, was nie iets wat ek sou kon hanteer nie.

Hoe gemaak as jy en jou kinders gedurig vassit

Dit laat my dink aan my verhouding met ons kinders.

Dis deel van ouerskap om oor en oor ons kinders te moet herinner dat hulle die nat handdoeke moet optel, asseblief en dankie moet sê, die tafel moet help afdek of hulle Lego’s moet wegsit.

Dis normaal en waarskynlik iets waaroor die meeste van ons kla. Daardie gedragspatrone veroorsaak egter dat ons disconnected van ons kinders voel. Wanneer ons niks meer saam wil doen nie, want ons argumenteer die heeltyd en in alles wat ons doen, irriteer ons mekaar.

Hoe kan ons dit oplos? Om te begin moet ons dit erken. Grootmense kan die slegte gedragspatroon identifiseer, verantwoordelikheid neem vir hulle gevoelens en besluit om iets te verander.

Ruim spesiale tye in om julle bande te versterk

’n Kind wat lelik praat, ongehoorsaam is, aggressief is, neul, kla, byt, skop of skree, het nie ’n ouer nodig wat terug skree nie.

Hy het ’n ouer nodig wat kalm bly, wat op ’n liefdevolle en konsekwente manier grense stel. Probeer om nie betrokke te raak of opgesweep te raak oor jou kind se emosies nie. Minder drama, meer vrede.

Soek geleenthede om met jou kind te connect wanneer julle albei kalm en rustig is. Maak gebruik van ’n paar oomblikke in die dag waar jy vyf minute kan gryp vir konneksietyd. Soggens as julle opstaan, in die kar op pad skool toe, ná skool, aan die etenstafel en voor bedtyd.

Vyf minute, vyf maal per dag sal help om bande te bou en sterk verhoudings te vorm.

– Lizanne du Plessis, Kinderontwikkeling en ouerskapkwessies

Vorige artikel[VIDEO] Liefde, eerder as oordeel, kan mense heelmaak
Volgende artikelKennis vir ’n pragtige vel