Ontwikkel jou kinders se sin vir humor

325

Om lekker saam te kan lag bou verhoudings. ’n Goeie sin vir humor kan kinders ook slimmer en gesonder maak en hulle beter in staat stel om elke dag se uitdagings die hoof te bied.

Kinders word nie met ’n humorsin gebore nie. Jou voorbeeld en sin vir die absurde het ’n direkte invloed op die ontwikkeling van jou kind se vermoë om die snaakse in die lewe raak te sien en te waardeer. Dit is ’n vaardigheid wat hulle kan aanleer.

Skep ’n omgewing wat pret aanmoedig

Ons kan ons kinders leer om die snaakse sy van die lewe raak te sien en te geniet deur ’n omgewing te skep wat gemaklik, spontaan en sommer net prettig is. Wees ʼn rolmodel en maak lag deel van julle alledaagse roetine.

Vir kleintjies, babas en peuters werk fisieke speletjies die beste. Trek jou gesig op ’n snaakse manier, sit jou bril verkeerd om op, laat jou kind op jou been perdjie ry en laat hy skielik omval, speel peekaboo, trek jou broek oor jou kop of blaas op die kleinding se magie.

’n Vyfjarige peuter lag gewoonlik lekker vir hulle eie grappies, veral dié wat hulle self opmaak.

Met kleuters werk dit goed as jy maak asof jy dom of lomp is. Laat jou klere op die grond val terwyl jy aantrek. Maak asof jy vergeet het om die piesang se skil af te trek voordat jy dit hap. Sommer simpel, lawwe grappies.

’n Grappie op die regte tyd en regte plek

Lag maar vir jou kind se grappe, al is dit nie altyd vir jou snaaks nie.

Rytyd en wagtyd is lekker tye om raaisels te vra, grappies op te maak en snaakse stories te vertel.

Speel sou nou en dan ’n bietjie rof met jou kinders – klein of groot kinders. Daar is min goed wat die lagspiere so ontwikkel soos wanneer julle op die grond stoei, ’n kussinggeveg hou of toutrek.

Soos wat jou kind ouer word, sal sy humorsin al meer gesofistikeerd raak, maar grappietyd het ook soms grense nodig.

Onthou, ’n grap is net ’n grap as almal lag. Kinders moet leer dat ʼn mens nie vír ander lag nie, maar saam met ander.

Ons kinders moet ook leer dat sekere grappies beperk is tot net by die huis waar ons lekker saam met Pappa, Mamma en Boeta daaroor mag lag.

Lawwigheid is goed vir die siel en die gesondheid

Maak ’n punt daarvan om elke dag ’n simpel grappie te maak, laf te wees, vir jou kind se vertellings te lag en lekker rof te speel. Jou gesondheid, jou kinders s’n en julle verhouding met mekaar het dit broodnodig.

’n Goeie sin vir humor maak kinders slimmer en gesonder. Dit stel hulle beter in staat om uitdagings die hoof te bied. Hulle is gelukkiger en meer optimisties, het ’n gesonder selfbeeld en kan verskille (hulle eie en ander s’n) beter hanteer.

Navorsing het getoon dat dit selfs ’n verhoogde weerstand teen siektes of fisieke probleme help ontwikkel. Mense wat meer lag, ervaar minder spanning; het ’n laer hartklop, polsslag en bloeddruk; en beter spysvertering. Lag kan ’n mens selfs help om pyn beter te verduur en verbeter jou immuunfunksie.

Maar bowenal maak humor die lewe lekker. Daar is min dinge wat soveel plesier verskaf as ’n lekker verspotte lagsessie saam met jou gesin.

– LIZANNE DU PLESSIS, Kinderontwikkeling en ouerskapkwessies

Vorige artikelVertrou, ondersteun, help en leer by mekaar
Volgende artikelLeandie: ‘Net jý kan jou magic leef’