Verrassende redes om as gesin saam te eet

254

Daar is bewyse dat gesinne wat saam eet, geneig is om gelukkiger te wees. Dit help ook met kinders se akademiese prestasie, maak hulle meer weerstandig en minder vatbaar om vetsug en eetsteurnisse te ontwikkel.

Een van die kosbaarste besittings in ons huis is waarskynlik ons eetkamertafel. Dis ’n doodgewone meubelstuk, nie ’n duur geelhout erfstuk nie. Maar dis waardevol in herinneringe, ons saamkomplek wat al in 13 huise in drie verskillende lande gestaan het.

Maak die etenstafel jou gesin se saamkomplek

Duisende legkaarte, onklaar naaldwerkstukke, huiswerkboeke en bordspeletjies later is dit deesdae die enigste plek waar ek my tieners en my man gelyktydig op een plek bymekaar kan kry. Dit is hier waar ons mekaar in die oë kan kyk en waar ons kan gesels, soms argumenteer, dikwels lag, luister en herinneringe bou.

Ons bedrywige gesin gebruik dié tye om oor alles te gesels – van groot filosofiese kwessies tot alledaagse dinge.

Ons gesprekke raak soms vurig. En dan dring pappa tussen-in ook nog aan op goeie tafelmaniere.

Ons gebruik ook die tyd ná ete, terwyl ons nog so by die tafel sit om saam Bybel te lees, ’n mooi video te kyk of na ’n webuitsending te luister.

Skep ’n omgewing vir lekker saamkuier

Julle het nie ’n perfek gedekte tafel met mooi musiek en ’n vyfgangmaaltyd nodig om as gesin te kan saamkuier nie.

Trek sommer jou stoel nader na waar jou kleinding in sy eetstoeltjie sit. Gooi ’n piekniekkombers op die gras oop.

Maak ’n plan sodat julle ten spyte van die kinders se ouderdomme en julle besige roetine mekaar in die oë kan kyk. Selfs al is dit net om saam poeding te eet of ’n koppie tee te drink.

Etenstyd is ’n tyd waar almal van aangesig tot aangesig verkeer, daarom is daar ’n paar reëls wat hier geld.

Ons oefen om te gesels en daarom behoort geen elektroniese toestelle by die tafel toegelaat te word nie. Ons oefen goeie maniere en daarom kou ons met ons mond toe en praat nie met ’n mond vol kos nie. Ons sê dankie vir die kos wat ons ontvang. Ons oefen om beurte te maak. Soms praat ’n mens en soms luister ’n mens.

Laat hulle emosionele intelligensie oefen

Dit skep ook ’n geleentheid om lewensvaardighede soos emosionele intelligensie aan te leer. Kinders moet weet dat alle emosies welkom is.

Moedig jou kind aan om te praat oor dit wat hom opgewonde, hartseer, bekommerd, gefrustreerd, mismoedig of selfs verlig laat voel.

Oefen basiese takies soos om die tafel te dek en die tafel af te dek. Jou tweejarige kan die plekmatjies uitpak en sy plastiek glasie na die kombuis toe vat. ’n Tiener kan al die tafel versier met blomme en die skottelgoedmasjien self pak.

Onthou om jou kind se ouderdom en sy vermoëns in ag te neem en etenstye diensooreenkomstig daarby aan te pas. Soos hulle ouer word kan jy dit verander.

Maak dit jou missie om ten minste een keer per dag saam met jou gesin te eet en kyk watter wonderlike ontwikkeling dit in julle verhoudings meebring.

– LIZANNE DU PLESSIS, kinderontwikkeling en ouerskapkwessies

Vorige artikel[VIDEO] Hoe versterk familiegebruike en -tradisies gesinsbande?
Volgende artikel[PODSENDING] Hoe om… sinvolle stiltetyd te hê