Help, ek is ’n werkende ma!

222

Jy is mal daaroor om ’n ma te wees. Dit hou soveel belonings in, maar dit is ook ’n uitdaging. Soms is dit stresvol en oorweldigend.

Jy hardloop rond en probeer die kinders se aktiwiteite inpas en vloermoere hanteer, terwyl jy 110% by die werk én by die huis gee.

Maar beteken dit jy as werkende ma sal altyd ongelukkig? Of is daar ’n manier om ’n gelukkige, werkende ma te wees?

Jy kan gelukkig wees, te midde van chaos en ’n besige lewe. Dit gebeur egter nie vanself nie, dit sal werk kos.

Ons weet teen hierdie tyd dat geluk ’n keuse is. Hierdie konsep is ook van toepassing op besige, oorwerkte en gespanne ma’s!

Jy kan kies dat jou gesin en werk jou eerder herlaai as wat dit jou tap.

Jy kan kies om positief te wees en die meeste te maak van wat jy het. Om die mooi dinge raak te sien en jou werk, gesin en lewe te geniet.

Dis natuurlik nie altyd maklik om die silwer randjie raak te sien nie. As jy nie van nature “gelukkig” is nie, sal jy dalk ’n bietjie meer moeite moet doen.

Elke ma het daarom soms tyd nodig om haar bolla los te maak en sommer net pret te hê.

Lees wat sê ander ma’s wat jou en jou uitdagings ken en verstaan en leer wat jy klaar reg doen. Gebruik dan die advies en wysheid wat jy nuut ontdek om jou werksdae makliker en lekker te maak.

Kry heel eerste jou waardes en beginsels reg

Met soveel dinge om te doen, kan jy maklik die belangrikes vergeet. Besluit vooraf wat die belangrikste beginsels en waardes is, en fokus dan daarop.

As werkende ma moet jy besluit wat jou prioriteit gaan wees. Jy sal belangrike keuses moet maak. Vir my is dit ’n geval van “No matter what, my family comes first!”

Om klein kindertjies groot te maak met die nodige tyd, aandag en geduld is slegs ’n fase in die lewe. Dit gaan so vinnig verby en dan het hulle jou nie meer elke dag so nodig nie.

My raad is om hierdie tyd te omhels en te geniet. Al beteken dit dat jy minder tyd en aandag aan jou werk gaan spandeer.

Die daar wees vir jou kind kan nie in geld gemeet word nie. ’n Sperdatum by die werk steur hom nie aan masels, kroep en waterpokkies nie.

Maak seker jy het ’n ondersteuningsnetwerk wat jou kan help met jou gesin as daar ’n krisis by die werk opduik.

Dit is dalk makliker gesê as gedaan: Los jou werk by die werk en wees 100% teenwoordig by jou kinders …

Kan jy jou selfoon of rekenaar afsit as jy tuis kom? Wees daar, doen dinge saam waarvan hulle hou en gee aandag aan elke gesprek, elke lag en elke traan.

Dalk is dit selfs nou die tyd om ’n ma-entrepreneur te word. Om jou passie, stokperdjie of kreatiwiteit in ’n werk wat vir jóú werk, te verander: “Choose a job you love and you will never have to work a day in your life.”

Sê dankie dat jy ’n werkende ma kan wees midde-in die chaos van kinders grootmaak.

– Anelia Prinsloo                

Geniet en waardeer die klein wonderwerke

Elke vrou se lewe en omstandighede verskil. Sorg vir balans tussen werk, huis en gesin en sien die klein wonderwerke raak.

Soms kan daardie balle wat jy in die lug probeer hou, gelyk die grond tref. Daar is nie ’n gids oor hoe om alles bymekaar te hou nie. Elke werkende vrou se realiteit is anders.

Die feit dat die Vader elke gebed hoor, het oor die jare vir my ’n werklikheid geword. Hy verstaan ons harte en sien elke traan.

Ons is so geneig om na groot wonderwerke te soek. Staan elke dag net ’n bietjie stil. Dan sal jy sien hoeveel engele oor jou pad gestuur word om dinge makliker te maak.

Elke dag se klein wonderwerkies bring geluk. Al is dit net ’n kollega wat ’n lekker koppie rooibostee op jou lessenaar kom sit of ’n sperdatum wat uitgestel word. Of een van jou kinders wat jou ’n drukkie gee en sê: “Mamma is die beste Mamma ooit!”

Haal diep asem, want alles gaan oukei wees

In ’n oogwink is die oudste ’n student. Ek onthou nog hoe ek gewonder het of ek hom ooit gaan groot kry.

Hoe dankbaar is ek nie vir die jongman wat besig is om sy eie pad oop te kap met soveel passie, energie en deursettingsvermoë nie.

Ek weet alles is oukei. Die ander boeties is en gaan ook oukei wees, ons gesin is oukei.

Ek kan myself nie indink as ’n tuisbly-ma nie. As van die balle die grond tref, gaan ons bloot aan. Ons krag lê in ons Hemelse Vader wat daar is om te help stukkies optel.

– Annelize Brits

Stel jou behoeftes en drome eerste

Maak selfsorg van nou af  ’n prioriteit. Vergeet van tweede, stel jou behoeftes en begeertes eerste en jy én jou gesin sal blom.

Ons word so vasgevang in ma-wees dat ons alles wat vir ons belangrik was, opsy sit en daarvan vergeet.

Ons eie behoeftes kom elke dag tweede sodat almal om ons eerste kan wees. Dit raak so ’n gewoonte en die nuwe normaal dat jy skoon vergeet wie en wat jy eens was.

Om jouself eerste te stel beteken nie dat jy nie omgee vir ander nie. Dit beteken net dat jy weet jy kan nie ander help voor jy nie jouself gehelp het nie.

Dit is nie selfsugtig nie, maar is nodig om kop bo water te hou en die beste vrou, ma en kollega te wees.

Jy weet seker dat jy nie vir iemand anders iets uit jou beker kan bied as dit leeg is nie. Jy gaan jou beker eers moet vul deur te rus en jouself te versorg.

Omring jouself met plekke en mense wat waarde toevoeg tot jou lewe en jy sal ’n verskil in jou gemoed sien.

Begin elke dag anders. Sit jouself vir ’n verandering bo-aan die lysie en die res sal in plek val.

Fokus op die drome wat jy het en hoe jy die beste weergawe van jouself kan wees. As ma’s vergeet ons somtyds dat ons ook doelwitte het. Stof joune af en gaan voluit daarvoor.

Daar sal tye wees wat jou omstandighede nie ooreenstem met jou drome nie. Maar hou moed en druk deur. Elke seisoen gaan verby en jy sal sterker aan die ander kant uitkom.

– Charné Cronjé

Koester elke kosbare oomblik by die werk en huis

Geen kind, ouer of kollega is perfek nie. Vind dus jou eie “normaal” en koester elke oomblik, want jy sal dit nie weer terugkry nie.

Al is hulle klein, is kinders geregtig op dieselfde emosies as ons. Maar ons vergeet dit en raak kwaai as hulle huilerig of geïrriteerd  is.

Daar is ooreenkomste tussen dinge wat stres by kinders én volwassenes veroorsaak. Dit sluit in te min slaap/moegheid, ’n verandering in roetine, honger, en die gevoel dat daar nie na jou geluister word nie. Daarom moet jy ewe veel geduld met jou kinders en kollegas hê …

Dis tog lekker om elke dag iets nuuts te leer, om foute te maak en weer te probeer. ’n Groot probleem is dat so min ma’s oop en eerlik met mekaar praat. Alles moet perfek en reg wees.

Geen ma of kind is perfek nie, daarom is dit beter om julle eie normaal te vind.

Waardeer en koester elke oomblik van ma-wees. As ’n sentimentele mens is eerstes (tandekry, woorde, kruip, loop) vir my belangrik en spesiaal. Maar net so belangrik is die laastes.

Elke oomblik van ma-wees moet jy waardeer en “indrink”. Ek kon nie onthou wanneer ek ons eersgeborene vir die laaste keer aan die slaap gesus het nie. Dit het my emosioneel geraak. Hoeveel ander dinge het nie alreeds vir die laaste keer gebeur nie?

Probeer vandag om daardie laastes raak te sien, te waardeer en in jou hart te koester.

Dis fantasties en ’n groot voorreg om ’n ma te wees. Veral nadat ek drie jaar moes wag vir my eerste wonderwerk. En omdat ek weet watter groot verantwoordelikheid die Here aan my toevertrou het.

– Dunay van Heerden

Leer ken elke kind se unieke persoonlikheid

Elke kind verskil en dus is elke ma se taak anders. Lees en leer soveel moontlik, dan is om ’n werkende ma te wees kinderspeletjies.

Baie ma’s het ’n teleurstellende ervaring van ouerskap. Optimisme sit gou om in ontnugtering en ’n hopelose gevoel van onbekwaamheid.

Party ma’s gee op wanneer die misverstande en rebellie te veel word. Hulle was hulle hande. Hulle oorhandig kinders aan terapeute, sielkundiges, skool, kerk of maats om te probeer red wat te redde is.

Ander begin verbouereerd kursusse bywoon en boeke verslind. Nog ander hou die petalje in ander huise dop en voel dan beter oor hulle eie probleme.

Doemprofete vertel vir ons dat ons basies ná ons kind se sesde verjaarsdag niks meer vir die dingetjie kan doen nie. Dis alles verby. Hy gaan niks meer byleer nie en sy is klaar gevorm.

Maar dit hou nie rekening met wat gebeur wanneer ’n ma met nuwe insig en vurige gebed terugklim om die tuintjie reg te ruk nie.

Daar is natuurlik elke dag ’n kans vir oor begin!

Geen ouerskaphandleiding kan waarborge gee nie. Een plan werk nie vir almal nie. Die ouerskapproses is so eindeloos kompleks. Die kaarte wat vir elkeen uitgedeel word, is te verskillend.

Die uniekheid van jou kinders, jou gesin en jou omstandighede moet jou nie afskrik nie. Jy moet in die andersheid inloop en met oop oë oplet, want dis waar jy jou riglyne kry.

As ons mooi na ons jong boompies en onsself kyk, en onsself en hulle leer “lees”, ontdek ons die handleiding is daar. Kyk fyn, spandeer tyd en commit jouself opnuut tot ma-wees op jóú manier vir jóú kind.

– Hettie Brittz

Soek hulp wanneer dinge te rof gaan

Niemand is ’n eiland nie en jy hoef nie alles alleen te doen nie. Soek betyds hulp as dinge tuis of by die werk rof gaan.

Dalk het jy ambisie en dryfkrag soos al die vroue in Grey’s Anatomy en die meeste ander sepies gehad. Hierdie ma-weesbesigheid kan jy op jou eie doen. Hoe moeilik kan dit tog wees?

Ná baie trane, lang dae en nagte en uitbranding moet party ma’s doodeenvoudig vrede maak. Aanvaar dat hulle die perspektief van hoe om ’n goeie mamma en werkende vrou te wees, moet verander.

Die wedloop van ouerskap is lank, moeilik en uitdagend. Daarom het jy ondersteuning nodig.

Om alles op jou eie te probeer doen, is nie reg of nodig nie. Om vir hulp te vra, maak jou nie ’n slegte of swak ma nie.

Die wêreld verwag van ons om superouers te wees. Elke ouer beleef die verwagting wat daar op hom of haar geplaas word.

Maar as ’n werkende mamma mag jy op ander staatmaak vir hulp en raad. ’n Middagbaba-oppas-sessie. Of ’n koffie saam met ’n vriendin wat deel in jou vreugdes en uitdagings.

Bou vir jou ’n ondersteuningsnetwerk soos die Here verskillende mense op jou pad stuur. Met elke seisoen van ma-wees kan jou raamwerk ook verander.

Hoe wonderlik is dit nie om mense te hê wat jou kinders ook liefhet nie? Ondersteuning kom in alle vorme: familie en vriende.

Deel ook die lesse wat jy reeds geleer het of help waar jy kan, al is dit net ’n ou boereraat vir tandesny. Sodoende maak jy deel uit van ’n village van mammas wat elkeen bydra en ondersteun op haar unieke manier.

– Jozelle Smit

Bly positief, dit sal weer beter gaan

Nou en dan is daar dae wat die wind heeltemal uit jou seile neem. Maar bly positief, daardie dae hou nie vir ewig aan nie.

As werkende ma’s voel dit party dae asof ons net nie kan voor kom nie. Asof alles net te veel raak.

Jy staan op, trek kinders aan, pak skooltasse in en sorteer nog die laaste huiswerk uit. Ry skool toe, werk toe, tel kinders op, maak kos, bad hulle, sit hulle in die bed en gaan slaap. Net om môre die hele proses weer van voor af te herhaal.

Om ’n ma te wees, is ’n geskenk. Ek kry so ’n warm, positiewe gevoel net om daaraan te dink! Dis ’n voorreg en ons moet dit weet en altyd onthou.

Vier dus elke kosbare oomblik saam met jou gesin. Nie elke dag is dieselfde nie, en ons moet onsself voorberei dat sommige dae ons heen en weer gaan skommel.

Aanvaar dat elke dag nie dieselfde gaan wees nie. Nie almal is lekker nie, maar ander is van die mooistes wat jy nog sal beleef. Vier die goeie dae en wees dankbaar vir dit wat jy het.

Trek jou mooiste rok aan, sit daai rooi lipstiffie aan, gee jou man en kind ’n soen en glimlag vir jou kollegas.

Vier elke dag wat jy saam met jou familie deurbring. Slaaptyd, storietyd, etenstyd, vakansietyd – geniet elke kosbare oomblik en wees dankbaar.

Elke dag is ’n nuwe dag en as werkende ma’s kan ons besluit hoe ons die dag gaan hanteer – positief of negatief.

Onthou, elke dag bied uitdagings en geleenthede. Vier die goeies en aanvaar die slegtes!

– Lizelle Joubert

Jy hoef nie perfek te wees nie

Jy is presies die regte ma vir jou kinders, al maak jy soms foute. Wees lief vir jouself en hou op om perfek te probeer wees.

Ek sit by ’n terapeut. Ek het vir alles voorberei, behalwe vir haar vraag: “’n Mens kan sien julle doen alles wat julle kan om julle seun te help. Maar wie help vir julle? Wie help jóú hart?”

My oë skiet vol trane en ek weet: Ek is nie oukei nie. Hoe gaan ek kan help as my eie hart nie “gesond” is nie?

Die antwoord? Introspeksie. Vind weer uit wie jý is. God het jou gekies om jou kind se ma te wees. Maak seker dat jy nie iemand anders se weergawe van ’n perfekte ma probeer wees nie.

Moet nooit dink jy is minder as genoeg nie. Ja, jy gaan faal, jy gaan foute maak. En dit gaan weer gebeur. Maar kies elke dag om te bly fokus op die onvervangbare rol wat jy in jou kinders se lewens speel.

My liefde vir hulle is onvoorwaardelik en hulle het my nodig. Ek is genoeg. Jy is genoeg!

Jou lewensreis is uniek, so leer daaruit en geniet dit. Raak verlief op die beste weergawe van jouself, maar met geduld, deernis en respek vir jou reis.

Onthou, jy kan elke dag ’n nuwe blaadjie omslaan. Jy kry van voor af ’n kans om jouself ’n prioriteit te maak. Om jouself lief te hê, uit jou reis te leer en dit te geniet.

Stel doelwitte en streef daarna om die beste weergawe van jouself te wees. Maar maak seker jy doen dit met algehele liefde en respek teenoor jouself.

– Mandi Baard

Aanvaar die seisoen van die lewe waarin jy nou is. Wees dankbaar vir jou eie stukkie chaos, dit sal ook verbygaan.

“Daar is geen manier om ’n perfekte mamma te wees nie, maar daar is ’n miljoen maniere om ’n goeie mamma te wees.” Dikwels moet ek myself aan hierdie woorde van Dr Owen herinner.

My beker loop beslis oor van dankbaarheid, maar soms, net soms, kry ek myself so ’n klein bietjie jammer.

Dinge voel bo my vermoë, veral wanneer daardie moegheid, wat slaap nie kan beter maak nie, ’n mens beetkry. Wanneer jy voel jy verdrink in die maalkolk van besigwees, sien jy nie altyd lig nie.

Daar word van ma’s wat buitenshuis geld verdien, verwag om te werk asof hulle nie kinders het nie. Terselfdertyd het die samelewing die verwagting dat jy ’n mamma sal wees asof jy nie ’n werk het nie.

Daar is ’n alewige stryd tussen uitblink in jou loopbaan en om ’n raakvatter-mamma te wees. Om besig te wees is in die mode.

Maak ’n kopskuif en aanvaar dat jy is waar jy moet wees. Daar is verskillende seisoene in jou lewe. Een van hulle is definitief die seisoen van oorlewing. Daar waar jy oorwinning behaal as jy betyds soggens wakker word.

Oorwinning word gevier wanneer julle al die buitemuurse aktiwiteite gedurende die week bygewoon het. Selfs wanneer jy elke kind in die oë kon kyk en regtig kon hoor hoe elkeen se dag was.

Aan die einde van elke dag, wanneer alles rustig is, dank ek ons Hemelse Vader. Dankie vir hierdie groot voorreg om die vrou en mamma in hierdie stukkie chaos te wees.

– Margolé Riekert

Liefde en tyd maak jou en jou kind gelukkig

Ma’s voel skuldig, of hulle buitenshuis werk of nie. Ontspan, vir jou kinders is jy alles, en al wat dit verg is ’n bietjie tyd en liefde.

Ons kinders neem aan elke liewe moontlike aktiwiteit deel. Ons gaan groot finansiële uitgawes aan sodat dit tog net nie moet lyk asof hulle afgeskeep word nie.

Ons maak skuld op ons kredietkaarte sodat ons nie skuldig hoef te voel nie. Niemand wil ’n slegte ouer wees nie.

Dis maklik om te sê dis alles die nagevolge van sosiale media, maar tog was dit eintlik nog altyd so.

Vroue voel oor alles skuldig dwarsdeur die geskiedenis en oor alle generasies heen. Of jy tuis bly en kinders grootmaak of weer gaan werk, daar is altyd ’n selfverwyt.

Hoe kan ons meer soos die pa’s wees wat lyk of hulle nie so baie worry nie? Hoekom huil boetie en sussie die oomblik as Mamma by die huis instap? Dit nadat hulle al drie uur doodgelukkig in Pappa se geselskap is?

Wees ’n omgee-ma wat tyd maak vir liefde. Dis nodig dat ons weet ons liefde en ons omgee is genoeg. Ons as mammas is altyd daar en ons is ons kinders se vangnet. Aktiwiteite, geskenke en prestasies is nie waaraan hulle behoefte het nie.

Jou vertroude en bekende reuk en jou arms om hulle is die hoogtepunt van hulle bestaan. So, laat gaan al jou bekommernisse. Dit steel net jou vreugde en jou tyd.

Sit neer jou foon. Skakel af die rekenaar. Die klein kindjie wat voor jou staan is tevrede met alles van jou. Vir hom of haar is jy oorgenoeg. En dis al wat tel.

– Andriëtte Norman

Vorige artikelRouchelle Liedemann: “Sy liefde het my swak selfbeeld verander”
Volgende artikel[VIDEO] Vervang jou vertroue eerder met aanvaarding [Reeks 1 Nommer 12]