Los die werkende ma skuldgevoel!

126

As jy ’n werkende ma is en van jou werk hou, voel jy skuldig. As jy nie werk nie, voel jy óók skuldig. Ma’s net so besig soos jy, help jou om meer in beheer te voel.

Ons het elkeen ’n prentjie van ’n modelma. Opgedollie in gym-klere, hare, naels en grimering perfek gedoen. ’n Groot glimlag op die gesig en ’n koppie koffie in die een hand en ’n string kinders aan die ander hand. Reg vir die lewe se uitdagings.

Hierdie mamma se lewe kan met #wen of #Crossfitbody opgesom word. Vir jou voel dit soms of jou hutsteken vir die lewe #uitgebrand of #poegaai moet wees!

Jy ken seker die uitdrukking “’n Ma het Job se geduld en Salomo se wysheid nodig”. Wat sou ’n werkende ma dan nodig hê?

Om ’n werkende ma te wees, is veeleisend. Maak nie saak hoe jy daaroor dink nie, ’n skuldgevoel steek gereeld kop uit.

Die enigste oplossing is om jou voet van die petrolpedaal af te haal. Om tyd te maak vir werk én speel.

Dit gaan nie oor hoeveel tyd jy en jou kinders saam spandeer nie. Eerder oor hoe julle die tyd wat julle saam het in permanente herinneringe verander.

Of jou kind normaal of met ’n keisersnit gebore is, of hy ’n bors- of bottelbaba was, dit maak nie saak nie. Of sy mamma gewerk het of ’n tuisblymamma was, is irrelevant.

Wat eendag gaan saak maak, is of jy genoeg liefde en omgee vir jou kind gegee het. Sodat hy ’n gelukkige, goed aangepaste, liefdevolle omgeemens kan word.

Jy is nie ’n slegte ma omdat jy werk nie. Nog minder ’n slegte werknemer omdat jy nie kan wag om in die middag by jou kinders te wees nie.

Mamma, wees jouself en ontspan ’n slag!

Dis hakskoene en plat skoene, skooltasse, grimeersakkie, kosblik, boeke en ’n skootrekenaar. Die meeste dae voel jou motor soos ’n uitbreiding van jou huis of soos ’n kantoor op wiele.

In hierdie motor word daar gebid, gehuil, geskaterlag, saam gedroom en groot stories gesels. Van skool tot sport tot werk.

Maar wanneer daardie laaste rit klaar is, begin die pret. Dan is dit tyd om jou hakskoene uit te skop, die bolla op die kop los te maak en te ontspan.

Trek daardie truspieëltjie reg, knipoog vir jouself en sê: “Vir jou vat ek op ’n date, dit is nou mý-tyd!”

Elke vrou het ’n veilige plek nodig waar sy net weer haarself kan vind. ’n Plek sonder enige pretensie of kompleksiteit, sonder enige veroordeling of verwagting.

Koester-vriendinne is kosbaar en tyd saam met hulle is soos sjokolade vir jou siel.

Anaïs Nin skryf die volgende: “Each friend represents a world in us, a world possibly not born until they arrive, and it is only by this meeting that a new world is born.”

Dit is in daardie “ek ook”-oomblikke saam met hartsvriendinne dat ons weet ons is nie alleen nie.

Dis wanneer ons kans kry om net te wees. Weg van al die vereistes van die wêreld en sosiale media. Dit is die ruimte waarin jy met liefde omhels word en vir jouself kan lag.

Jy is meer as genoeg. Meer nog, jy is sterker as wat jy dink. Jy is vrou, jy is ’n inspirasie!

Werk hard en speel harder – moenie vergeet om pret te hê nie. Stop langs die hoofweg van die lewe en dans in die reën.

Tyd is kosbaar en moet versigtig gebruik word, nie omgewens word nie. ’n Sinvolle lewe is nie om te oorleef nie, maar om voluit te leef in die oomblik, in die nou!

Daar is honderde gisters en sal nog baie meer môres wees, maar daar is net hierdie een nóú. Dit kan ’n weggooi-oomblik of ’n altyd-onthou-oomblik wees.

Werk hard en beplan strategies met die ewigheid voor oë. Maar speel harder en beleef hierdie oomblik met ’n ongekende intensiteit asof dit die enigste oomblik is wat jy het.

Vandag is verby, sit dit agter jou. Wat môre wag, weet die Here alleen en Hy is alreeds daar. Nou is jóú tyd!

’n Beroepsma beplan alle fasette van haar lewe

Wat ’n wonderlike voorreg om te kan werk en steeds ’n mamma te wees!

Daar is nie iets soos ’n mamma wat nie werk nie, dit hang maar net af waar ons werk. Werk vir ’n salaris kan egter die balans van alledaagse take meer ingewikkeld maak.

Jy kan dinge vir jouself en almal om jou makliker maak deur goeie beplanning en tydbestuur. Daar is baie maniere om dit te doen. Maar elke ma moet die manier vind wat vir haar en haar omstandighede die beste is.

Maak ’n lys van almal se aktiwiteite en plaas dit op ’n prominente plek in die huis. Maak oor die naweek tyd om seker te maak dat alles wat nodig is vir daardie aktiwiteit in orde is.

Om maaltye vooruit voor te berei en te vries, spaar ook tyd en spanning as boetie se krieketwedstryd ontaard in ’n “middag-aandwedstryd”.

’n Geordende huis help met effektiewe bestuur. Gee gerus vir elke persoon in die huishouding ouderdomsgepaste take. Dit help jou en is ook belangrik vir jou kind se ontwikkeling.

Maak seker jy verstaan wat by die werk verwag word, asook die take wat belangrik is om af te handel. Prioritiseer elke dag daarvolgens en benut jou werksure produktief en effektief. Hou jou dagboek op datum.

As daar konflik by die werk was, los dit by die kantoor. Beskerm julle gesin se eenheid deur nie werksprobleme huis toe te bring nie.

Wanneer jy huis toe gaan, maak dit ’n prioriteit om kwaliteittyd saam met elke kind te spandeer. Nou is jy by jou gesin en julle tydjie saam is wat tel. Leer wat dit is wat elkeen geliefd laat voel en kies doelbewus om daarop te fokus.

Leer haar ken vir die individu wat sy is.

Een kind hou dalk nie daarvan om dadelik ná skool te praat oor hoe haar dag was nie. Later die aand as sy rustig is, is ’n beter tyd. Die ander kind borrel weer oor ná skool. Respekteer elkeen se individualiteit.

Daar sal nooit ’n perfekte balans wees nie, maar gelukkig is daar altyd ’n goeie middeweg.

Dus, moenie net oorleef van dag tot dag nie, maar leer om voluit te leef.

Vergeet van skuldgevoelens omdat jy jou werk geniet – onthou jý is ook deel van die gesin. Wees goed vir jouself, mamma!

Slaap genoeg vir meer woema by die huis en werk

Hier is die slegte nuus: Daar is nie ’n trofee vir superma van die jaar nie.

Die goeie nuus is dat dit nie is wat jou kind nodig het nie. Kinders het ’n gelukkige en liefdevolle ma nodig.

Om so ’n mamma te wees, het jy genoeg rus en slaap nodig. Ai, slaap … Dié woord kan verskeie gevoelens in jou wakker (!) maak. Dit is dalk iets waaroor jy al maande (of jare) droom.

Miskien het jy drie dae daarvan nodig om weer naastenby mens te voel. Dalk is slegs power naps jou op die oomblik beskore.

Dalk ken jy die grappie: “Ek het uiteindelik agt uur se slaap ingekry. Dit het my wel drie dae geneem, maar ek het dit reggekry.”

Baie dinamiese en suksesvolle mense spog met hoe min slaap hulle kan klaarkom.

Goed en wel, almal het nie agt uur per nag nodig nie. Vir die meeste mense is slaap egter uiters belangrik vir goeie gesondheid en veral geestesgesondheid.

Navorsing het selfs getoon dat gebrekkige slaappatrone gekoppel kan word aan gewigstoename. As dít darem nie ’n motivering is vir meer slaap nie!

’n Ma is enigiets van ’n taxibestuurder, sjef, tuisteskepper tot ’n beroepsvrou. Verskeie van hierdie rolle oorvleuel boonop. Dis juis waarom jy gehalte-slaap so broodnodig het.

Iemand het gesê as jy jou liggaam nie ’n behoorlike rusdag gee nie, gaan jou liggaam self ’n dag kies. En dit gaan ’n dag wees waarvan jy nie hou nie!

Elke ma se omstandighede verskil. Jy is dalk ’n enkelma met nét twee hande. Of die familie bly ver van julle af. Of jou man werk baie lang ure.

Daar is kinders, ’n man en die werk wat aandag vereis en jou energie tap. Stop. Kry hulp. Nou! Bou vir jou ’n ondersteuningstelsel om te verseker jy kry iewers ’n goeie nagrus of ruskans in.

Uitbranding en lewensmoegheid is nie deugde nie. En om die pas te verslap en ’n blaaskans te neem, is nie ’n swakheid nie.

Maak indien moontlik beurte met jou man om ’n goeie ononderbroke nag se rus in te kry. Of vra jou ma, skoonma, sussie of vriendin se hulp.

Dit is waar dat ma’s honderde dinge moet doen wanneer die kinders uiteindelik slaap. Maar gaan slaap soms saam met hulle. Laat alles anders partykeer net wag.

Wees net ma by die huis en vergeet Facebook

Die rol van vroue het deur die eeue heen verander, maar een betrokke mamma. Hulle gee nie om of daar stof op die kaste lê en of Mamma daardie verhoging kry nie. Hulle soek liefde, tyd en aanvaarding.

Jou skedule is propvol en jy is doodmoeg. Daar is een manier hoe jy met sukses kan deurdruk. Die geheim is om jou tyd doeltreffend te bestuur.

Ons ken almal die opwinding om aan die einde van ’n lang dag ’n bietjie deur Facebook en Instagram te blaai. ’n Mens moet mos op die hoogte bly van wat om jou aangaan.

Dis so lekker om idees op Pinterest te soek oor wat jy alles met ou palette aanmekaar kan timmer. Of resepte waarmee jy die familie met julle volgende braai kan beïndruk.

Om nie eens te praat van aanlyn inkopies nie, daar wag soveel spesiale aanbiedinge in die globale winkelruim.

Jy wil net gou hierdie lees, net gou hierdie soek, net gou-gou hierdie tik …

Jy voel egter skuldig en weet jy steel tyd by jou kinders en by jou huwelik. Of jy steel tyd by jou gesondheid, want jy kry nou minder slaap.

Jy is dalk al jare op Facebook, al het jy gedink dis ’n fase wat gou sal verbygaan. In hierdie tyd het julle verloof geraak, getrou en twee kinders gehad. Jy kan met sekerheid sê dat jy ’n Facebook-ghoeroe is, want jy het definitief al die professionele 10 000-uurmerk oorskry!

Hoeveel ure se slaap het jy al gemis? Hoeveel keer was jy net besig om met ’n halwe oor na jou kinders te luister?

Watter vaardighede kon jy hulle alles geleer het, wat niks met tegnologie verband hou nie? Om nie eens te praat van hoeveel kwaliteit-tyd in jou huwelik verlore gegaan het nie.

Dis nie nodig om summier jou Facebook-rekening te sluit nie. Kry eerder ’n plan vir tyd aanlyn en jou selfoon.

Hoe klink dit om aanlyn ure te verruil vir uit-die-maag-uit-lagkieliesessies, vir saamleestyd en doelgerigte saamweestyd?

Geen selfoon, rekenaar of aanlyn trekpleister gaan jou mis as jy nie meer daar is nie. Jou kinders sal wel. Maak seker jy gee vir hulle genoeg opbouende herinneringe van hulle kinderdae om hulle ’n leeftyd te hou.

Vra raad by ervare ma’s en deel ook jou raad

Baiekeer voel jy dat dit net jy is wat swaarkry. Dis net jou kind wat ongehoorsaam is. Dis net jou man wat min by die huis is en nie genoeg by die kinders betrokke is nie.

Later raak jy verlam en sien nie die lig aan die einde van die tonnel nie.

Maar sodra ’n mens met ander vroue begin praat wat al hierdie pad gestap het, besef jy dat dit al uitgetrap is! Dis ’n troos om te weet dat jy nie die eerste of die laaste is wat met hierdie uitdagings van ouerskap sal stoei nie.

Ons was nooit veronderstel om op ons eie klein eiland te bly en die alleenrigtingwyser vir ons kinders te wees nie.

Dis goed om mammas te betrek wat ’n bietjie meer ervaring as jy het. Wie se kinders dalk ’n paar jaar ouer is of met dieselfde leerprobleme gesukkel het. Op dié manier ontvang jy wysheid wat uit ander se ervaring gebore is.

Jy hoef egter nie net aan die ontvangkant te staan nie. Dit het ’n positiewe impak op ander vroue wanneer jy ook oor jou eie twyfel praat.

Dalk is jy ook grootgemaak met die siening “’n mens praat nie uit die huis uit nie”. Miskien is dit tyd om juis te begin uitpraat soveel as wat ons kan. Dat ons die stigma van vrees en onsekerheid kan afbreek.

As jy oop is oor dit wat jou laat swaarkry verlig jy vinnig jou vriendin se las omdat sy besef sy is nie alleen nie.

Kom ons bou ’n generasie van mammas wat mekaar ondersteun, opbou en verstaan.

Daar is soveel hoedjies wat vroue elke dag moet opsit: besigheidsvrou, dogter, mamma, sielkundige, vriendin, suster, vrou vir jou man …

Dit is nie maklik om met al hierdie “hoedjies” op perfek gekamde hare selfversekerd rond te paradeer asof alles oukei is nie. En dan ook te sorg om jouself nie in die proses te verloor nie en getrou aan jouself te bly. Dis soms moeilik om te glo, maar God rus vroue toe met dit wat nodig is, in enige situasie. As hardwerkende vroue en mammas mag ons aanspraak maak op Sy wysheid, ongeag die uitdagings. Maar ons moet ook mekaar help. Wees jy die vrou wat ’n ander vrou se kroon ongemerk regtrek – en nie die een wat verkondig hoe skeef dit sit nie.

Vergeet van balans, kry jou prioriteite reg

As ma ken jy die skuldgevoel wat jou beetpak wanneer jy tuiskom ná ’n lang dag by die werk. Veral wanneer jy sien hoe die kinders en manlief verlang het.

Kenners sal sê die antwoord lê in balans tussen jou werk en gesin. Maar dis ’n mite – is daar enige werkende ma wat dit kan regkry?

Dis wel waar dat ’n mens party dae jou werksverpligtinge en verantwoordelikheid teenoor die gesin beter as ander dae kan balanseer.

Maar soms moet jy meer aandag aan ’n projek gee en ander dae het die gesin jou meer nodig. Dis meer haalbaar om sekere dinge as prioriteite te hanteer as om na ’n onbereikbare balans te streef.

’n Beter uitgangspunt is om jou gesin altyd eerste te stel. Môre is nog ’n dag wanneer dit by werk kom.

Dalk is jy ’n mamma wat hou van werk. En dis reg so. Wie sê jy is nie ’n beter mamma juis daarom nie?

Vroue voel so maklik oorweldig deur die ekstra take wat kom met kinders grootmaak, dat die vreugdes van ma-wees vergete raak.

Dit is juis in die besige tye wat jy jou skoene moet uitskop, die rekenaar toeklap en jou foon wegsit.

Gaan sit by jou kinders op die mat en gesels sommer net met hulle oor die dinge wat vir hulle belangrik is. Goed wat hulle bekommer. Vreugdes wat hulle ervaar het.

Ná ’n lang week kan julle Saterdagoggend musiek aansit en almal saam kuier terwyl julle tussendeur verf of bak en brou.

Een kind verf miskien sy gunstelingsokkerspeler, die ander een iets oor die see. Sussie verf dalk die tafel en die mure, alles behalwe die papier voor haar.

Maar dis oukei. Voor julle weet is die week se bekommernisse vergete en jou kinders se gesels en gelag jou enigste fokus.

Maak ’n punt daarvan om aandetes om die tafel te spandeer. Praat oor maats en huiswerk en al hulle vrae.

Dit sal jou tref om te hoor watter diep dinge hulle bedink. Bekommernisse oor ’n maat wie se ouers skei. Vrese oor veiligheid nadat hulle iets by die skool gehoor het. Vreugdes oor ’n gedeelde oomblik saam met ’n juffrou.

Tyd is kosbaar. Probeer dus om “in die oomblik te wees” wanneer julle as gesin kwaliteit-tyd saam spandeer.

’n Werkende ma hoef nie perfek te wees nie

Om ’n werkende ma te wees is moeilik genoeg. Maar sodra jy om jou en in sosiale media na “perfekte” ma’s begin kyk, beland jy maklik in die strik van vergelyking.

Daar sal altyd ander ma’s by die skool of by die werk wees wat lyk asof hulle alles onder beheer het.

Om te streef na perfeksie sal veroorsaak dat jy absoluut niks gedoen kan kry nie. Dit verlam ’n mens om die hele tyd op die negatiewe te fokus.

So, nou is nog ’n minuut, uur of dag weg van die min tyd wat jy reeds het om die beste ma en werkende vrou te wees.

Jy kan ure spandeer om jou te verknies oor wat ander vroue regkry en te begeer wat hulle (oënskynlik) het.

Dis so maklik om op moedverloor se vlakte heeltemal die pad byster te raak. Jou binne-stemmetjie sal aanhoudend fluister dat jy eenvoudig net nie goed genoeg is nie.

Dis nie waar nie! Jy is wel goed genoeg. Vandag is daar nog ’n probeerkans en een tree vorentoe, is beter as om doodstil te staan.

Jou omstandighede, talente en vermoëns is so anders as die “perfekte” vrou wat voor jou in die ry by die supermark staan.

Werk dus sag met jouself oor keuses wat elke dag gemaak moet word. Niemand anders staan 100% in jou skoene nie.

Wees lief vir jouself. Leef dit elke dag, wanneer dit goed gaan, maar ook wanneer die onweerswolke saampak.

Besluit jou beste is goed genoeg en omhels elke dag die wonderlike voorreg om lief te hê en liefde te gee. Al is dit deur die krakies van onvolmaakte menswees.

Galasiërs 6:4 sê dat elkeen sy eie werk op die proef moet stel en nie met ander moet vergelyk nie. Slegs dan sal jy goed kan voel oor die beste wat jy gedoen het.

Die Here het ’n plan met jou lewe. Nie net ’n gewone plan nie, maar ’n great plan. Gee jouself net die kans om te floreer.

Spandeer eerder jou kosbare tyd om op jou goeie eienskappe te fokus en dankbaar te wees vir jou eie lewe. Glo dat jy die beste doen met dit wat vir jou moontlik is.

Sê elke dag dankie vir wat jy het: jou gesin, gesondheid, besigheid, werk, liefde en geluk. Tel jou eie seëninge en nie dié van iemand anders