“Die lewe is onregverdig, ma!”

141

Wanneer julle almal ná ’n lang dag moeg tuiskom, wil jy nie by jou kinders hoor hoe onregverdig die lewe is nie. Gelukkig kan jy, met begrip en ’n fyn oor, dit reg hanteer.

Die meeste kinders voel dat hulle misverstaan en onregverdig behandel word. Niks lekkers word hulle gegun nie! Is dit waar? Natuurlik nie! Maar die uitdaging is om hulle daarvan te oortuig.

“Ma, julle trek mos vir Sussie voor!”

Daar kuier vriende by julle. Jy het vir die kleintjies vrugtesap ingegooi, maar julle sewejarige neul om van die gaste se gaskoeldrank te drink. Later skink jy uit pure radeloosheid tog ’n glas vol vir die snip.

Soms is kinders se verwyt oor onregverdigheid ’n manier om ma se grense deur manipulasie te toets.

Luister fyn. As sy gereeld oor die onregverdigheid van ’n saak mor, kan dit eintlik beteken dat sy nie spesiaal genoeg voel nie.

Nooi haar om te verduidelik hoekom sy so voel. Luister regtig en probeer dit uit haar perspektief sien.

Die antwoord ontbloot die emosies wat sy voel, dit wat sy nie in woorde kan uitdruk nie.

Dis belangrik dat jy eers luister en dan jou redes verduidelik (soos dat dit oor haar tande en gesondheid gaan). Tref ’n kompromie waar moontlik, soos een glas gaskoeldrank oor ’n naweek.

Wanneer kinders voel hulle word “gehoor” en dat hulle behoeftes saak maak, is hulle baie gewilliger om jou verduidelikings te respekteer.

“Ek is nie meer ’n kind nie!”

Ontluikende tieners is veral lief om hierdie argument te gebruik. Susan (14) is pas in die hoërskool en word na haar eerste partytjie genooi. Sy wil tot ná twaalfuur uitbly, maar julle skop vas by elfuur.

Die motief agter sulke argumente is dat jou meisiekind probeer veg vir haar regte. Sy tree rebels op, want sy wil haar onafhanklikheid toets deur onder julle invloed uit te beweeg.

Luister mooi, maar verduidelik ook jou redes. Sorg dat dit altyd meriete het. Verduidelik dat dit hier oor veiligheid gaan en nie omdat julle nie haar goeie oordeel vertrou nie. Wat jy eintlik by haar wil kweek, is ’n gevoel van koestering en onvoorwaardelike vertroue.

Vind saam ’n balans wat julle albei se siening akkommodeer. Besluit byvoorbeeld dat sy tot halftwaalf mag uitbly.

As sy dán die reël oortree, moet sy die belangrike grootmensles leer dat jy die gevolge van jou dade moet dra. Beperk haar dan tot ’n halftien-inkomtyd totdat sy bewys dat sy by julle reëls kan hou.

Sodra kinders besef hulle moet, soos ’n “grootmens”, verantwoordelikheid vir hulle gedrag en die gevolge aanvaar, kan hulle “groot” behandel word.

“Julle verstaan my nie, ek is my eie mens!”

Dit lyk of jou seun aspris nie sy huiswerk doen nie. En hy leer ook nie vir toetse nie. In hierdie geval weet hy dalk nie hoe om in woorde uit te druk dat hy nie jý is nie.

Swak punte word dikwels as luiheid geïnterpreteer, terwyl hy eintlik daardeur wil sê: “Ek is uniek, aanvaar my so.” Hy is desperaat om dit vir jou te wýs, selfs al kom hy daaroor in die moeilikheid.

Talle ouers probeer om deur hulle kinders te leef of te presteer. ’n Kind se goeie gedrag of prestasies gee ’n gevoel van waarde of aansien.

Wees eerlik oor jou eie emosies en motiewe. Is jy besig om die lugkastele te bou wat jou kind moet inkleur?

Gesels saam daaroor en verduidelik dat goeie punte sal help om later beter keuses oor sy toekoms te kan maak.

Skep geleenthede vir Boet en Sus om hulle unieke menswees uit te leef, mét jou ondersteuning. Dán sal hulle baie meer gewillig wees om jou vereistes te respekteer.

Vorige artikelHoe kan ek meer vrede kry?
Volgende artikelLindie Strydom: “Moet nie dink my lewe is perfek nie, dit is nie”