Gee jou kinders genoeg vryheid

221
Gee jou kinders meer vryheid

Is jy ook bang om jou kinders te streng groot te maak? Dis belangrik om ’n fyn balans tussen hulle opvoeding en hulle vryheid te behou. Hulle het ruimte nodig om hulle vlerke te sprei!

Elke ma op hierdie planeet is in die een of ander stadium bekommerd hieroor. Dat sy haar kinders se persoonlikhede en entoesiasme om die wêreld te ontdek, in die grootmaakproses demp. Of erger: krenk, knak en kwes!

Wanneer hulle iets probeer, moet jy ’n klankbord wees. Bied positiewe ondersteuning, en probeer om nie die kenner te wees wat raad gee en idees verander nie. ’n Fokus op hulle mooi eienskappe sal hulle laat blom en hierdie goeie kwaliteite verder ontwikkel.

Gee hulle kans om hulle persoonlikheid uit te leef

Opvoedkundige sielkundiges sê ouers sukkel soms om te aanvaar dat hulle kinders nie afdrukke van hulleself is nie.

Elkeen is uniek en moet toegelaat word om so te ontwikkel. Gee hulle doelbewus die vryheid om hulle persoonlikheid uit te leef, sonder om hulle gedrag te veroordeel.

Onthou, my manier is nie jou manier nie, en geen manier is die regte manier nie.

Kinders moet die vaardighede en vertroue aanleer om hulleself in vandag se samelewing te laat geld.

Dis belangrik dat jy hulle aanmoedig om te waag, nuwe idees uit te dink, planne te maak en nuwe dinge te probeer. Solank jou spruite hulle binne die grense van julle gesin se waardes uitleef, kan jy hulle met ’n geruste hart laat begaan.

Persoonlikheid bepaal die mate van kinders se vryheid

Dis ’n uitdaging om kinders groot te maak sonder om hulle te knak. Veral wanneer julle persoonlikhede baie verskil.

Jy sal baie meer met haar bereik wanneer jy haar “taal” praat en met haar werk op ’n manier wat sy verstaan.

Die geheim is om elkeen se temperament te ken. Maak jouself klein en klim in hulle wêreld.

Soek Boet of Sus pret en plesier, orde, maatjies, rustigheid, voorspelbaarheid of tyd alleen? Pas dan as ma daarby aan.

Elkeen van jou aksies het ’n invloed op haar gees. Om kinders groot te maak, is nie ’n vinnige kry-dinge-gedoen-ding nie.

Dis verkeerd om te dink dat jy nooit hulle siele gaan knak nie, jy is net ’n mens.

Bid elke dag vir genoeg krag en geduld om jou kosbaarste besittings groot te maak.

Sorg dat daar genoeg tyd is om te rus en te herlaai. ’n Ma wat nie genoeg slaap nie, kan makliker ongeduldig raak. Praat ook met ander ma’s om te hoor wat vir hulle werk.

Nege uit die tien kere moet ’n ma net diep asemhaal en glo dat sy wel die situasie kan vasvat!

Genoeg ruimte waarin hulle kan vlerke sprei is nodig

Soms plaas jy op ’n indirekte manier ’n demper op haar gees.

Sonder om een negatiewe woord soos “moenie” of “hou op” te gebruik, inhibeer jou optrede haar.

Die beste manier om ’n kind se gees vry te hou, is om vir hom vlerke te gee.

Dink aan maniere om vir hom ruimte te gee, sodat hy homself kan uitwoed. Of skep ’n geleentheid waar sy haar idees vrye teuels kan gee.

Probeer om negatiewe woorde met positiewe woorde te vervang. As hy teen ’n twee meter hoë glyplank opklim, sê eerder, “Ek weet jy’s groot en sal styf vashou” as om histeries uit te roep: “Jy gaan val!”

Party outjies is een bondel energie en doen alles met oorgawe. Hulle moet die geleentheid kry om larger than life te wees.

Vorige artikelMoenie hom probeer verander nie
Volgende artikelFrustrasie kom steel jou vrede