Jou kind en die internet, goed of sleg?

190

Die meeste kinders maak kennis met die wêreld van selfone, rekenaars of TV lank voordat hulle skool toe gaan. Kan dit goed wees? Of veroorsaak hierdie tegnologie dat ons kinders dom en wanaangepas is?

Die eerste twee jaar word as ’n deurslaggewende tyd vir breinontwikkeling beskou. Elektroniese media kan ontdekking, speel en interaksie met ouers en ander mense verhinder. Dit kan ook leer en gesonde fisieke en sosiale ontwikkeling belemmer. Maar tegnologie is nie net sleg nie en kan ook baie waardevol wees.

Die TV en rekenaar kan opvoedkundig wees en wonderlike vermaak bied

Daar is goeie opvoedkundige programme, wat sal help om die kleingoed se algemene kennis te verbreed. Hulle kan ook baie leer oor waardes en goeie maniere.

Kleuters kan die alfabet op dié manier begin leer en laerskoolkinders kan meer oor diere in natuurprogramme te wete kom.

TV, byvoorbeeld, help kinders om ander kulture beter te verstaan. Al hoe meer kinderkanale sluit verskillende rassegroepe en tale in programme in en stel hulle kulture bekend.

Deesdae is vrae oor algemene kennis deel van eksamenvraestelle op skool en deur nuus te kyk of te lees het jou tiener beslis ’n voorsprong.

Gewelddadige flieks en speletjies kan riskante gedrag aanmoedig

Gesondheidskenners koppel al vir baie jare TV-kyk aan die groot getalle oorgewig kinders. Volgens hulle is die probleem dat kinders onaktief is en peusel as hulle voor die kassie sit. Maar ook dat advertensies hulle aanmoedig om nog meer lekkernye te eet.

Kinders wat gewelddadige internetspeletjies speel, is ook meer geneig om aggressiewe gedrag te openbaar. Hulle kan glo dat die wêreld ’n vreesaanjaende plek is en dat iets slegs enige tyd met hulle kan gebeur.

Fliekkarakters openbaar dikwels riskante gedrag, soos rook en drankgebruik, en laat hierdie dinge baie cool lyk.

Kleintjies het nog nie die vermoë om te onderskei tussen realiteit en fantasie nie. Baie van die karakters het bomenslike vermoëns, wat jou kind kan verwar oor haar eie beperkings en die almag van God.

Namate hulle ouer word, kan skermtyd met fisieke aktiwiteite, lees, huiswerk, maatjies en gesinstyd inmeng.

Leer hulle hoe om digitale media reg te gebruik

Hanteer skermtyd as ’n voorreg wat verdien moet word, nie as ’n reg nie. Stel reëls op – soos dat ’n skerm net aangeskakel mag word as huiswerk en take voltooi is – en hou daarby.

“Geen kind behoort toegelaat te word om programme te kyk of speletjies te speel met ouderdomsbeperkings nie,” sê ’n spelterapeut van Centurion. “Dit is jou verantwoordelikheid om te bepaal wat gekyk mag word en wat nie, nie die uitsaaier of maatskappy s’n nie.”

Jou kind sal nie noodwendig die televisie afskakel en in haar kamer gaan speel as sy nie van die program hou nie. Kyk dus eers waaroor nuwe programme gaan voordat jy haar daarna laat kyk.

Gesels oor wat hulle op TV of die internet sien. Dit sal jou help verstaan hoe hulle dit ervaar en jou toelaat om jou opinie te lug.

Hou allerhande soorte vermaak in die leefvertrek, soos legkaarte, speelgoed, boeke en bordspeletjies. Dit moedig kinders aan om nie heeltyd op die televisie of rekenaar te fokus nie.

Stel ’n goeie voorbeeld deur byvoorbeeld jou eie tyd op sosiale media te beperk. Soek eerder programme wat julle as gesin kan kyk.

Skakel die televisie af wanneer julle eet en geen selfone aan tafel nie! Moenie TV’s of internettoegang in slaapkamers toelaat nie.

Stel een dag per week in as ’n skermvrye dag en maak dit ’n gesinsdag. Speel in die herfsblare of werk almal saam in die tuin en eet roomys op die gras.

Vorige artikelDís hoe mans van vroue verskil
Volgende artikelRiana Nel: “Ek kies om te bly glo, my foute en al …” [Deel 1]