Leer jou rebelkind beter keuses maak

144

Dis ’n ma se grootste nagmerrie as haar eens voorbeeldige, hardwerkende kind oornag in ’n rebel verander. Hoe moet jy jou kind help om die regte keuses te maak as sy nie wil luister nie?

Sommige kinders is op ’n moeiliker lewenspad as ander. Party is meer rebels, dit maak nie saak wat jy doen nie. Vat byvoorbeeld vir Debbie: Sy was hoofmeisie op laerskool, ’n topstudent en modelkind. Maar toe gaan sy hoërskool toe en alles ruk hand uit. Haar “goeie” vriendinne is iets van die verlede. Skielik begin sy klas bank en word selfs betrap waar sy skelm rook. Haar ouers is raadop! Hulle het haar dan altyd die regte dinge geleer.
Hoekom gooi sy hulle opvoeding by die deur uit? Hoe moet hulle dit regmaak en hoe kan hulle haar beheer?

Sy moet weet dat haar optrede nagevolge het

Vir die meeste ouers is dit baie moeilik om tot die besef te kom dat hulle nie beheer het oor hulle kind se besluite nie. Jy plant die saadjies en jy gooi dit nat, maar of dit op die ou end wortelskiet of nie, is nie in jou hande nie. Tog het jy die geleentheid om hulle na gesonde keuses te lei.

Sonder om haar te beheer of te dwing, kán jy haar besluite beïnvloed deur die gevolge baie duidelik te stel. Hierdie riglyne gaan daaroor om vir haar te sê: “Ons is lief vir jou, ons is aan jou kant. Maar ons hou nie van die keuses wat jy maak nie. Dít is hoe ons die geleenthede vir verkeerde besluite van jou af gaan wegneem.”

Deur baie sterk grense te stel oor die gevolge van haar dade, breek julle los van die gedurige raaispeletjie oor hoe om haar te verander.

Beïnvloed haar keuses, moenie haar beheer nie

Noudat die grense of riglyne duidelik gestel is, is dit nie jou werk om haar te beheer nie. Sy kan nog steeds ’n swak besluit neem, maar jy sal daarop reageer deur haar die onaangename gevolge van haar keuse te laat ervaar.

Dit gaan nie oor straf of ongehoorsaamheid nie, maar oor haar veiligheid.

Vryheid en voorregte word bloot weggeneem totdat sy besluit om verantwoordelik op te tree.

Moenie dit vir haar maklik maak om met haar gedrag voort te gaan nie.

As sy die reëls oortree, konfronteer haar. Laat haar weet dat die reëls geldig bly. Alles natuurlik in liefde, al moet dit streng ouerliefde wees.

As jy agterkom dat sy besig is met iets onveilig of afbrekend, soos om haarself stukkend te sny, ander te boelie of dwelms te gebruik, is dit egter tyd om onmiddellik in te gryp. Moenie toelaat dat sy met haar lewe speel nie.

Grense beskerm haar en help haar groei

Jy moet sterk staan en die grense behou al dring sy daarop aan om dit heeltyd te oortree. Herinner jouself daaraan dat dit daar is vir haar eie beskerming.

Die kans is groot dat sy verskeie wonderlike geleenthede met verkeerde besluite gaan verbrou. Daaraan kan jy ongelukkig niks doen nie. Wat belangrik is, is om aan te hou probeer.

Groei saam met jou kind en geniet daardie kosbare oomblikke as ’n gesin.

Fokus op die positiewe dinge en moenie dat die probleem julle verhouding oorneem nie. Kyk na haar met oë wat nie verblind is deur wantroue en negatiwiteit nie.

Liefde bedek alles.

As dit regtig vir jou voel of niks meer help nie, onthou, jy mag maar teleurgesteld wees. Sommige kinders is net meer buite beheer as ander. Moet net nooit moed opgee nie. Sy het jou onwrikbare teenwoordigheid in haar lewe nodig, selfs al kies sy nou verkeerd.

Vorige artikelHoekom is liefde moeilik en haat maklik?
Volgende artikelWanneer emosies jou geloof raak