Maak jy ’n oulike man groot?

2416

Ramkatboerklong of sensitiewe kunstenaar – elke ma wil hê haar seun moet eendag ’n man met integriteit wees. Vestig sommer vroeg reeds die regte waardes.

Seuns is anders as meisies. Hulle unieke samestelling en die manier hoe hulle bedraad is, maak dat hulle oor die algemeen makliker kanse waag en byvoorbeeld meer aggressief en aktief as dogters is.

Dalk dryf jou “besige” kleinman jou teen die mure uit en is jy al moeg om hom te straf. Miskien moet jy eerder die teenoorgestelde probeer. As jy na jou seuntjie kyk, sien hom as ’n man-in-opleiding. Begin van kleins af aan daardie eienskappe werk wat nodig is om hom ’n voorslagman te maak.

Dink baie spesifiek oor die waardes wat jy by hom wil tuisbring. Hy moet byvoorbeeld vroue respekteer, lojaal en getrou wees in die huwelik en standvastig en beginselvas wees.

Hy mag maar sy gevoelens wys

Die idee dat seuns nie mag wys hoe hulle voel nie, is ’n leuen wat baie jong manne al baie swaar laat kry het. Al wat gebeur, is dat hulle alles opkrop en dan later allerhande probleme kry as gevolg daarvan.

Leer hom dat dit in die haak is om kwaad, hartseer of teleurgesteld te voel – en dat hy dit maar mag wys. Dis hier waar ’n oop verhouding van onskatbare waarde is. Sodra hy rustiger is, kan jy by hom gaan sit en saam uit ’n ander perspektief na die probleem kyk.

Maak ’n punt daarvan om elke kind soms alleen uit te neem vir ’n melkskommel en net lekker te gesels. Dis ’n goeie manier om in voeling met hulle te bly.

Ken en respekteer ’n vrou se behoeftes

Omdat vroue almal maar dieselfde basiese behoeftes het, kan jy probeer om dié dinge nou al by jou seun tuis te bring. As jy by die haarkapper was, maak seker hulle sien dit raak en sê iets moois oor jou hare.

As hy vir jou koffie maak of jou met iets bederf, gebruik die kans en sê: “Dankie, my kind, onthou om dit ook eendag vir jou eie vrou te doen.”

Leer hom dat ’n vrou beskermd wil voel en dat veral haar liggaam gerespekteer moet word. Dit kan sommer nou al ’n gewoonte word om te vra: “Mamma, is Mamma oukei?”

Respek word gewys deur Ma anders te behandel as Pa. Dis natuurlik iets wat jou man uitstekend kan demonstreer deur die beste voorbeeld te stel!

Straf ’n bietjie minder en prys meer

Fisieke aandag (drukkies, ’n glimlag, opbouende woorde), sekere voorregte en materiële belonings is alles maniere waarop seuns graag gemotiveer wil word.

Prys hom dadelik wanneer hy dit verdien, selfs vir dinge wat sy “plig” is. Hoe langer jy wag, hoe minder sal dit beteken. Dis dalk sy verantwoordelikheid om elke oggend sy bed op te maak. Sê nogtans dankie. Dit wys jy waardeer sy moeite en sal hom aanspoor om dit weer te doen.

Hoe meer hy erkenning vir goeie gedrag kry, hoe meer sal hy bereid wees om takies te verrig wat jou trots op hom maak.

Wees spesifiek. Prys hom vir wat hy doen (speelgoed optel), eerder as vir wie hy is (“Jy’s ’n goeie seun”). In ’n kind se oë dra dit meer gewig, omdat dit vir hom wys dat jy werklik raaksien wat hy reg gedoen het.

Dis belangrik om jou seun gereeld erkenning te gee, maar as jy dit nie opreg (en met goeie rede) kan doen nie, wag dan vir die regte geleentheid. Kinders sien gou valsheid raak en is vinnig om dit uit te buit.

Vorige artikelDie donker kant van redding
Volgende artikelWeet jy hoe om vrese te verdryf?