Moenie oordeel nie, probeer verstaan

63

Ma’s kan tog so hard op onsself én op mekaar wees. En dit terwyl ma–wees eintlik vir ons almal presies dieselfde uitdagings inhou. Kyk met sagter oë na ander mense, sê ANNALIZE VAN DEN HEEVER.

Almal gaan daagliks deur moeilike tye, dit lyk net anders en gebeur net op verskillende tye. Tog kan jy jouself en ander so daaroor kasty. Dis maklik om te oordeel en ons dit ook so graag.

Voeg daarby die soms ongelooflik hoë standaarde waaraan ons onsself en ander meet, en een van die moeilikste take op aarde – om ’n ma te wees – word nog meer uitdagend. Werk sag met jouself en met ander …

Die uiterlike beeld verskil dalk drasties van die innerlike

Mense hou daarvan om te skinder en te oordeel, sonder dat hulle eens die volle storie leer ken en verstaan. Ons sien net die gym klere, die tatoes, die egskeiding of die kind wat teruggehou is.

Gesprekke handel gereeld oor afwesige pa’s en afwesige ma’s, maar ons ken nie die omstandighede nie.

Jy sien ’n jong kind alleen huis toe stap en dink dadelik die ouers is onverantwoordelik en slegte mense. Ons plak die heeltyd etikette op mekaar se voorkop. “Slegte ma”, “moeilike kind”, “onbetrokke ouer”, “helikopter-ma”.

Op ’n keer het my dogter my gou teruggebring aarde toe met die volgende woorde: “Mamma, jy oordeel net dit wat jy aan die buitekant kan sien. Jy kyk nie dieper na haar hart nie.”

Dit het my tot in my binneste geruk. Ek het skaam en skuldig voor haar gestaan, want ek het gedink as ek vir haar die slegte dinge uitwys, gaan sy dit ook raaksien. Ek was duidelik verkeerd, want sy het met Jesus se sagte oë gekyk.

My dogter was nie blind vir die persoon se foute nie, maar sy het moeite gedoen om die persoon se storie beter te verstaan.

Kyk met Jesus se oë vol begrip na ander

Dink net hoe wonderlik sal die wêreld wees as ons altyd met Jesus se oë na die mense om ons kyk? Wanneer ons elke keer die goeie bewustelik probeer raaksien en vir mekaar opstaan wanneer mense ons oordeel sonder om die volle verhaal te ken.

Die lewe is uitdagend genoeg. Om vandag goed gebalanseerde, goed aangepaste kinders groot te maak, is vrek moeilik. Dis harde werk om al die balle in die lug te hou. En almal kry dit nie ewe goed reg nie.

Alle ma’s het wel een ding in gemeen. Ons is lief vir ons kinders en wil die beste vir hulle hê. Elke vrou se prentjie verskil. Niemand mag oordeel of iemand anders se prentjie reg of verkeerd is nie.

Bied eerder hulp aan waar nodig. Doen iets konkreet om mekaar se laste te verminder, want dit is wat die Here van ons wil hê.

Ons almal weet dat ma-wees saam met ’n klein, verskriklike swaar geskenkpakkie kom. Skuldgevoelens.

Vir my het dit al die eerste aand begin toe die verpleegsuster my oudste kind by my weggevat het omdat ek nie “reg” borsvoed nie. Van die eerste dag af twyfel ek of ek goed genoeg is om my kinders se ma te wees.

Wees sagter met jouself – die lewe is moeilik!

Dít is die ergste skuldgevoel wat ek as ma ervaar. Nie net wat mense oor my uitspreek nie, maar daardie oordeel wat ek oor myself spreek wanneer ek alleen en broos voor die Here staan.

Daardie dae as ek dit verloor met my bloedjies en vir hulle dinge sê wat seermaak wat ek nie kan terugvat nie. Wanneer ek die seer in hulle oë sien. En weet, ék, die mens wat hulle die liefste op aarde het, het dit veroorsaak.

Ons doen dit, want ons is mense. Onperfekte, gebroke mense met ons eie seer, eie struwelinge en eie storie. Almal wens in die een of ander stadium van hulle lewe hulle was méér.

Dankie tog die Here ken ons verhaal. Inteendeel, Hy skryf saam daaraan. Gelukkig oordeel Hy mense nie volgens ander mense se opinies van hulle nie.

Vervang daardie veroordelende binne-stem met ’n sagter, genadige stem. Ons moet onsself vergewe net soos Jesus, en ons kinders moet ons vergewe vir die foute wat ons maak.

Vorige artikel[VIDEO] Lyding skei ons nie van God nie
Volgende artikelJa, jy kan … WÉÉT WAT JY WIL HÊ