Reëls is nodig vir jou kind!

447

Hoe leer jy kinders van grense en reëls sonder om in moets en moenies te verval? Jy kán “nee” sê en steeds ’n liefdevolle ma wees. Só leer jy hulle om die regte keuses te maak.

Die beste ingesteldheid is om jou oë op die toekoms te rig. Jy wil die soort karakter kweek wat jou kroos sal help om gebalanseerde, produktiewe grootmense te wees.

Hulle moet selfbeheer kan toepas en verantwoordelike rentmeesters wees.

Kinders moet geleer word om verantwoordelikheid vir hulle dade, houdings en emosies te neem.

Verder, dat daar grense is en wanneer jy daar buite beweeg, daar gevolge is.

Reëls is daar om kinders te beskerm

Dissipline is nogal ’n tameletjie wanneer iemand wat ’n “vry gees” is, ’n mamma word. Dalk glo jy ook nie daaraan om tussen die lyne in te kleur nie.

Vroeër of later besef ’n mens egter dat reëls daar is vir ’n rede. Dis om jou kind (en soms jou sanity!) te beskerm.

Wanneer die proses van sit na kruip en van kruip na opstaan vinnig gebeur, kan jy nie altyd byhou nie. Jy moet gedurig laaie toedruk en vir vallende ornamente keer. Nie noodwendig omdat jy so jammer is vir daardie vaas nie. Maar veral omdat jy nie wil hê dat jou kleintjie haarself moet beseer nie.

Jy voel dalk sleg om haar in ’n speelhok te sit en te keer dat sy ondersoek en ontdek. En tog, dis in die skadu en veilig weg van die swembad. Dis ’n grens wat beskerm, net soos reëls jou kinders ook beskerm.

Leer hulle om self die regte keuses te maak

Kenners meen dat ’n kleuter eerder sy eie tekening moet maak en inkleur as om ’n bestaande prentjie in te kleur. So leer hy om sy eie grenslyne te trek en daarby te hou.

Dieselfde geld natuurlik vir tieners. Hulle moet besef dat huisreëls daar is om hulle te beskerm en nie om hulle pret te bederf nie.

Gestel jou tiener vra oor seks en “hoe ver is te ver?” Verduidelik dan dat om die grense só te toets, uiteindelik net ’n skuldige gewete en nare gevoelens veroorsaak.

Moedig hulle aan om self te besluit waar hulle grense lê. Dan is dit nie hulle ouers of onderwysers se morele kode wat hulle in plek hou nie, maar hulle eie.

Jy wil hê jou kind moet eendag sy eie reg en verkeerd bepaal. Sy eie sterk individuele opinie hê, selfs al verskil dit van joune.

Tog kan jy nie wag tot hy sy vinger in die muurprop druk en self besluit of hy daarvan hou of nie!

Die opvoedingsproses begin nou al. Die beginsels wat jy toepas terwyl hulle nog in doeke is, sal vir die tienerjare ook geld.

Straf help hulle binne die grense bly

Om Shakespeare losweg aan te haal: “Om te piets, of nie te piets nie? Dis die vraag.”

Vir baie ouers is lyfstraf steeds die algemeenste vorm van dissipline, ten spyte van streng wetgewing daarteen.

’n Mens moet betyds ’n beginselbesluit neem. Raps jy sy handjie weg as hy op die skootrekenaar slaan, of hou jy dit bloot buite bereik?

Dalk sluk jy moeilik aan opvoedingsmetodes soos “as jy nie wil hoor nie, moet jy voel”. Of “kinders moet gesien en nie gehoor word nie”. Tog weet jy julle baba kan nie ’n debat voer oor die gevolge van ’n handjie op ’n warm stoofplaat nie!

Jy skop dalk nog steeds vas teen dik, swart grenslyne. Maar vir nou, ter wille van jou kinders se veiligheid, sal jy minstens met ’n paar dun stippellyntjies verlief moet neem.

Vorige artikelAs dogtertjie leer jy dink oor mans
Volgende artikelDít inspireer ons! (Hykie en Gerridene Berg)