Reëls leer jou kind perke

175

Kinders moet perke hê. Dit leer hulle om te weet wie hulle is en waarvoor hulle verantwoordelik is. Maar hoe sê jy op die regte manier vir jou kind “tot hiertoe en nie verder nie”?

Jy moet honderd keer vir jou dogter sê om haar kamer op te ruim. Elke aand is die huis so verlig soos ’n passasierstrein. Jou seun gooi sy klere steeds langs die wasmandjie. Dit voel of niemand ore het nie. Jy wil nie heeltyd raas en gil nie, maar jy moet die reëls neerlê.

Kinders word nie met ’n besef van verantwoordelikheid gebore nie. Selfs grootmense sukkel soms nog daarmee … Daar is so baie dinge wat hulle moet leer, soos die waarde van liefde en dissipline. Dit is jou as ouer se werk om grense te stel en reëls vas te lê.

Kinders het perke nodig om verantwoordelikheid te leer

As jy met jou kind oor perke en reëls praat, is daar vier noodsaaklike ankers om standvastigheid te skep en die saak duidelik te maak.

Begin altyd met liefde. As jy die situasie met liefde hanteer, sal jou kind hoor wat jy sê, die perke aanvaar en die gevolge daarvan dra.

Waarheid verskaf riglyne en die wysheid agter die opdrag. Jy plaas vir haar die reëls en verwagtinge duidelik op die tafel. Dit is die moets en moenies wat vir haar aandui wat sy moet doen en wat sy moet vermy. Wees altyd eerlik en reguit, en maak seker sy verstaan wat jy sê.

Jy kan nie vir altyd vir jou kind keuses maak nie. Jy kan haar slegs probeer lei om die regte keuses te maak en uit haar foute te leer.

Realiteit definieer dit wat bestaan en dit wat nie bestaan nie. In hierdie geval beteken dit: gevolge.

Staan vas by die reëls wat jy gemaak het

Verset is normaal. Jou kind sal dalk probeer om jou te manipuleer, met jou argumenteer of aan die stry gaan. Of kwaad word. Wees voorbereid daarop.

Maak seker dat die reëls wat jy instel, en die gevolge as dit verbreek word, redelik en toepaslik is.

Gesels met ander ouers om seker te maak dat jou reëls darem in lyn is met wat rondom jou gebeur.

Sluit haar in as jy die reëls opstel. Sy stem dalk nie met alles saam nie, maar sy moet weet dat jy haar opinie ook in ag neem. Dit kom dan ook nie as ’n verrassing nie.

As sy kwaad word as jy perke stel, moet jy in beheer van die situasie bly.

Behou oogkontak, en moenie verdedigend of kwaad word nie. Bly kalm.

Luister met oorgawe en empatie sodat jy die onderliggende emosies kan waarneem. Laat haar verstaan dat jy begryp wat sy bedoel.

Pas grense aan by jou kind se ouderdom

Babas leer as hulle wêreld voorspelbaar en gestruktureerd is. Fokus van vroeg af op roetine en dissipline.

Veral in die kleuterjare moet ons die boodskap onderstreep: “As jy nie na my luister nie, kan ek jou nie leer of beskerm nie. En omdat ek so lief is vir jou, wil ek graag hê jy moet die regte dinge doen.”

In hulle laerskooljare behoort jy nie meer jou kinders so direk te beheer nie. Hoewel jou leiding en invloed steeds moet geld, behoort opdragte al minder te word.

Anders as wat ons glo, wil tieners hê jy moet wonder waar hulle was, al wil hulle jou dalk nie sê nie. Maar moenie dink hulle gaan jou vir die straf bedank nie!

Wanneer hulle die huis verlaat, kan jy net raad gee wanneer dit gevra word, bid sonder ophou en aahou om die beste voorbeeld te wees wat jy kan.

Vorige artikelHoe stop ek negatiewe gedagtes?
Volgende artikel[VIDEO] Dis gesond om hardop te lag