Wenke vir moeilike gesprekke met jou kind

259

Selfbeeldprobleme, verkeerde vriende, groepsdruk en seks. Dis van die uitdagings wat jou kind(ers) gaan teëkom. Is jy reg om daaroor te gesels? Dink mooi oor doeltreffende kommunikasie met jou kind(ers).

Die geheim is om sommer van vroeg af met jou kinders te begin gesels oor alles wat vir hulle voorlê. Hoe vroeër jy begin praat, hoe makliker is kommunikasie namate hulle ouer word. Hulle sal makliker met jou gesels as hulle weet die kanale is oop en hulle kan jou vertrou.

Maak seker dat jy ook na jou kind luister. Luister wat hulle sê as julle winkels toe ry, voor slapenstyd saam tee drink of saam aan ’n skoolprojek werk.

“Ek is nie maer nie” – praat oor gesonde eetgewoontes

Kinders is van jongs af al bewus van hulle voorkoms. Ons weet beelde in nie media is nie realisties nie en dat Photoshop baie met die skynbaar perfekte voorkoms te doen het.

Maar die feit bly staan dat tieners hulleself hiermee vergelyk. En gaan probeer nou om jou dogter wat ’n bietjie normale tienervetjies het te oortuig dat sy pragtig is! Tieners veral kyk met uiters kritiese oë na hulleself.

Probeer haar laat besef dat slegs ’n handjievol modelle met groot moeite vir ’n kort rukkie perfek kan lyk. Praat gereeld oor gewig, maar koppel dit aan gesonde eetgewoontes en nie aan die skaal of die ideale kleregrootte nie.

Elke mens behoort aan ’n gesin met sekere oorerflike eienskappe. As jou dogter byvoorbeeld weet sy het haar breë heupe van haar ouma geërf, moet sy vrede daarmee maak.

“My maats is cool, Ma is outyds” – bespreek hulle invloed

Een van ’n tiener se sterkste behoeftes is om in te pas. Hy wil asseblief net nie in ’n groep uitstaan nie.

Moenie jou kind se maats kritiseer nie, al moet jy die emalje op jou tande afbyt! Hy gaan verplig voel om hom by hulle te skaar en hulle te verdedig (al weet hy dis verkeerd!).

As ’n betrokke vriend byvoorbeeld gereeld vloek of geen respek vir ander mense toon nie, wys dit uit. Beklemtoon dat dit die gedrag is wat vir jou onaanvaarbaar is.

Verduidelik vir hulle dat vriende regdeur ’n mens se lewe ’n belangrike rol speel. Maak positiewe voorstelle oor vriendskap. Met die regte leiding sal jou kind wel besef dat ’n sekere groep maats nie noodwendig ’n positiewe invloed op sy lewe het nie.

Dit gaan baiekeer eerder oor ’n magstryd tussen jou en hom, as oor sy keuse van maats. Die heel belangrikste is dat jy geduldig met jouself en ook met jou kind moet wees.

“Hoekom wag met seks?” – gesels gemaklik oor sensitiewe onderwerpe

Seks is gewoonlik ’n moeilike onderwerp om oor te gesels. Maar moet dit onder geen omstandighede ignoreer of wegpraat nie.

Die ou reël geld: Wees eerlik en antwoord dit wat gevra word. Moenie meer inligting gee as wat sy in daardie stadium kan hanteer nie. Hou gesprekke ouderdomspesifiek.

En as jy nie weet nie – of nie meer kan onthou nie! – gaan lees daaroor.

Onthou dat kinders deur die media met stories van ’n seksuele aard gebombardeer word en hulle kry ook verkeerde inligting by hulle maats. Gebruik dit tot jou voordeel!

Maak gebruik van natuurlike situasies wat voorkom om so ’n sensitiewe onderwerp te bespreek.

As een van jou dogter se klasmaats swanger raak, gesels met haar oor die geleenthede wat die meisie in haar jongmenslewe gaan misloop. In plaas van om ’n sorgvrye studentelewe te hê, gaan die maat moontlik trou met iemand wat sy skaars ken.

Navorsing toon dat die meeste kinders wel hulle ouers se waardes respekteer en uitleef.

Vorige artikelWat as iemand my teleurstel?
Volgende artikelWenke om haarprobleme op te los