Leer jou kind oor kuberveiligeid

51

Ons het vandag kinders nodig wat die versoekings en gevare van die aanlyn wêreld kan weerstaan. Ouers moet daarom sorg dat hulle spruite bewus is van die gevare wat op die internet skuil en weet hoe om dit te hanteer.

Bespreek die gevare van die internet met jou kinders – van kuberboelies en seksuele uitbuiters tot identiteits- of datadiewe.

Hulle moet weet wat die reëls is, met wie hulle aanlyn mag praat, watter platforms hulle veilig kan gebruik en wat van hulle as digitale burgers verwag word. Gee hulle die vrymoedigheid om jou dadelik te sê as iets kommerwekkend opduik.

Kry uitsluitsel oor goed soos ouderdomsbeperkings, waarna hulle mag kyk en hoekom sekere aanlyn aktiwiteite beperk word. Ander belangrike aspekte is onder meer kuberafknouery en sexting wat ’n nadelige effek mag hê.

’n Goeie selfbeeld en besef van selfwaarde is belangrik. So ook die wete dat ’n mens se waarde nie bepaal word deur dit wat aanlyn gesê word of deur die hoeveelheid vriende wat jy het nie.

Leer hulle dat sogenaamde aanlyn “vriende” nie altyd omgee nie en nie noodwendig is wie hulle voorgee om te wees nie.

Maak ook seker dat hulle hulleself en ander op die internet respekteer en maan hulle om versigtig te wees oor wat hulle in sosiale media deel. Inligting wat aanlyn gepos word, is nie altyd privaat nie. Wat jy aanlyn plaas, bly aanlyn en kan jou of ander selfs jare later in die verleentheid bring

–Rianette Leibowitz, digitale ouerskapkenner

Kliek op voelgoed.co.za/skermslim vir Rianette se video- en podsendingreeks.