Vind vreugde in familie-oomblikke

63

Kinders is ’n stukkie hemel, gegee uit God se hand. Ek glo heelhartig in dit wat die Psalmskrywer sê in Psalm 127:3: Seuns is geskenke van die Here, kinders word deur Hom gegee.

Ons het baie lank gewag vir ons eersteling. Nou, jare later, kan ek steeds kristalhelder my verwondering onthou oor daardie klein lyfie wat op my skoot gesit het. My hart was gevul met diepe dankbaarheid. Alles was mooier in daardie begintyd – die maan helderder, die lenteblomme meer en ons gesinnetjie van drie volmaak. Die woorde van Psalm 139:13 was vir my so ’n tasbare werklikheid: U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.

Drie jaar later was ons gelukkig om nog ’n seun by te kry. Die gedagte het by my opgekom of dit moontlik is om weer soveel liefde vir ’n tweede kind te hê. Maar daardie oorvloedige liefde vir die nuwe aankomeling het my hart volgemaak.

Ons gesinnetjie van vier – ’n nuwe dimensie.

Geluk beteken om uit jou hart te gee

Gesinsgeluk vir my word ook gevind in konneksie, om geborge te voel in my verhouding met my man, om ’n span te wees. Gelukkig is my man iemand wat kan praat, wat kan sê wat in sy hart is.

Hy is toegewyd aan sy gesin en ons is sy kosbaarste besitting. Hy was nog altyd bereid om vir ons opofferinge te maak en wil net die beste vir ons gee.

Dis vir ons belangrik om dinge saam te doen. Vroegoggend te oefen of saans op die stoep te sit aan die einde van ’n lang dag. Mekaar se harte te hoor.

Al was ek altyd ’n ma wat gewerk het, was dit vir my baie belangrik om in die middae by my kinders te kon wees. Dit was ononderhandelbaar dat my kinders moes weet hulle ma sal alles los en daar vir hulle wees.

Ek was dikwels die ma wat met haar skootrekenaar sit en tennis of krieket kyk het. Ek was daar om hulle oog te vang na ’n goeie ses, ’n uithaler vangskoot en ’n barshou op die tennisbaan.

Met die oplaaisessies na skool kon ons praat oor hoe hulle dag was, ook as hulle dag nie so lekker was nie. Ek kon saam lag oor ’n snaakse storie en so deel wees van hulle grootwordlewe.

Om geluk te vind in die alledaagse

Daar is alledaagse geluk in ’n lewe van dankbaarheid. Vir goeie tye saam met gesinsmense, vir die mooi rondom ons, gesondheid en geleenthede.

Alles is genade uit God se hand.

’n Mens moet probeer om goed te wees vir hulle wat jou pad kruis. Dit kos niks om ’n sagte woord te gee, te glimlag of respek te betoon nie.

Jy moet met oop hande lewe, oop om te gee en oop om te ontvang. Dit is belangrik om die alledaagse spesiaal te maak. Gesinsrituele is só belangrik. Haal jou mooiste borde uit en eet as gesin saam. Sluit die wêreld uit en wees teenwoordig in die oomblik. Pluk ’n blom of blaar uit jou tuin, steek ’n kers aan en kyk mekaar in die oë.

Dis waar dat ’n mens dinge soveel meer waardeer as dit nie meer elke dag daar is nie. Albei ons seuns is nou op universiteit.

Een van die lekkerste dinge as hulle vakansies van Stellenbosch af tuis is, is om saans om die etenstafel te kuier. Veral noudat hulle self entoesiasties kos maak en eksperimenteer met interessante geregte.

Vakansietye saam is ’n beslis elke jaar ’n Hulme hoogtepunt. Ons ry gewoonlik as gesin deur die Karoo af see toe. Van ons beste herinneringe is iewers langs ’n vuurtjie met die groot stilte om ons en oop sterrehemel bo ons.

Pret en plesier, maar plig is ook belangrik

Dis goed om saam te kan lag – vir jouself ook. Kinders bring ’n mens gou aarde toe, veral as jy jouself en die wêreld soms te ernstig opneem.

Ek geniet my seuns se humor en hulle hou daarvan om met hulle ma te spot!

Ons probeer altyd tyd maak om lekker dinge saam te doen en dit hoef nie altyd geld te kos nie.

Binne gesinsverband is daar egter ook wedersydse opoffering. Ouers sal alles gee om aan hulle kinders geleenthede te bied. ’n Mens leef verder as jouself as daar kinders is.

Maar dis ook belangrik vir kinders om verantwoordelikheid te leer en by die gesin betrokke te wees.

Dis goed om van kleins af sekere huistakies aan kinders te gee, soos tafel dek, troeteldiere versorg, swembad skoonmaak of help kar was.

Dis beslis dinge wat ’n pa en ma baie gelukkig maak!

Dis só belangrik om al die fases van ’n mens se lewe te geniet. Ons raak dikwels vasgevang in die sleur van die alledaagse. Ons wens ook soms dat ’n bepaalde tyd of fase net moet verbygaan – as die kinders net klaar is met kleuterskool of laerskool of hoërskool …

Ek glo die geheim van ’n goeie lewe lê daarin om al die lewensfases met dankbaarheid te omarm. ’n Mens raak hoe ouer jy word meer bewus van hoe vlietend tyd is. Jy hunker terug na dae toe jou kinders naby jou was, jy hulle elke dag gesien het.

Koester elke fase en die alledaagse vreugdes en nabyheid van jou gesin. En sê elke dag dankie vir die Here vir jou kosbare mense.

– Zahn Hulme, Uitvoerende Trustee van die Atterbury Trust