Hoe om uit jou gemaksone te kom

232

Jy leef net van dag tot dag binne jou klein, veilige ruimte. Maar jy is bedoel om meer te wees! Kom uit jou gemaksone en maak jou eie lewe én ander s’n beter, sê LOURENS BOTHA.

Neale Donald Walsch beskryf dit raak as hy sê die lewe begin aan die einde van jou gemaksone. Wees eerlik en jy sal besef jy kan meer wees as wat jy reeds is.

Dis goed om die dag te begin met die vraag: Kan my impak op die wêreld groter wees? As die antwoord ja is, beteken dit jy het ’n verantwoordelikheid om die lewe op ’n nuwe, groter manier aan te pak.

Hoe doen ’n mens dit as jy so veilig binne jou eie bekende raamwerk voel? As jy gemaklik voel daar waar die lewe voorspelbaar en risiko beperk is?

Die vraag is eintlik: Is die lewe regtig voorspelbaar en is die risiko regtig so min binne jou gemaksone? Niks is 100% seker nie, so jy kan net sowel die kans vat!

Tyd is altyd teen ons en daarom is gemak ons grootste vyand. Gemak verteer ’n mens se lewenstyd sonder dat jy dit besef. Soos ’n dief steel dit jou lewensjare en vreet dit weg aan jou potensiaal en nalatenskap.

Dink ’n bietjie: Wat is die nalatenskap wat jy gaan agterlaat? Wat is die verhale wat oor jou lewe vertel moet word as jy nie meer daar is nie?

Niemand is toevallig hier nie. God het elke mens ten volle toegerus vir ’n taak hier op aarde. Jy het onbeperkte potensiaal en ’n gees van oorwinning gekry. Hy het jou gemaak vir ’n unieke rol. Jy is bedoel om ’n unieke taak te verrig, ’n taak waarvoor net jy geskep is.

Daar is geen plaasvervangers op die bank nie, niemand wat opwarm om jou plek in te neem of jou rol oor te vat nie. As jy nie jou doel en potensiaal uitleef nie, het die wêreld ’n leemte en onvervulde potensiaal.

As die Skepper jou met hierdie doel en potensiaal geskep het, is daar mos geen manier wat Hy jou halfpad in die steek sal laat nie. Hoekom laat ons toe dat vrees in die pad van ons skeppingsdoel staan?

Vrees kom nie van God af nie en mag nie ons lewens dikteer nie. Dit is een van die elemente wat ons gevange hou binne ons gemaksone en verhoed dat ons ons volle potensiaal bereik.

Hoekom terugstaan en toelaat dat die wêreld jou lewe dikteer? Jy is ’n koningskind wat hier geplaas is met ’n doel. Jy is gestuur om die hart van die wêreld met jou uniekheid aan te raak.

Moenie langer wag nie, dit is tyd om te ontwaak en die rol op te neem. Hierdie rol kan jy as gelowige natuurlik net uitleef binne absolute afhanklikheid van en vertroue in die Here.

Begin deur een klein, positiewe gewoonte in jou daaglikse roetine in te bou, iets wat jou uit jou gemaksone neem.

Doen dit daagliks sonder ophou. Voeg gereeld nog positiewe gewoontes by en doen dit tot dit deel van jou menswees word.

Op hierdie manier is jy besig om jou brein te herbedraad om die lewe op ’n ander manier te sien en op ’n nuwe manier te leef.

Besef dat hierdie positiewe gewoontes die lewe van ander mense gaan raak. Moet nie die impak hiervan aan jouself meet nie, maar meet dit aan die impak wat dit op die lewe van ander het.

Vorige artikelQuanita Adams: “Party ervarings verander jou vir altyd”
Volgende artikelDie klein jakkalsies wat ’n huwelik verniel