Ja, jy kan … jou doelwitte bereik

270

Jy kan miskien nie altyd jou omstandighede beheer nie. Jy kan wel kies hoe jy gaan optree om dinge in jou guns te laat werk, sê leierskapkonsultant en lewensafrigter ANJA VAN BEEK.

Jy sit in ’n fliek. Wat gaan deur jou gedagtes? Is jy tevrede met hoe die verhaal afspeel? Wat sou jy verander? Stem jy saam met die besluite wat die hoofkarakter neem? As jy raad kan gee, wat sal dit wees?

In ons bedrywige lewe is verandering ’n konstante. Druk, uitdagings en onsekerheid maak dit maklik om te vergeet om die pause-knoppie te druk en asem te haal. Word ’n oomblik stil en besin oor wat werklik vir jou saak maak.

Watter aanpassings is nodig om te fokus op dit wat vir jou belangrik is? Wanneer laas het jy gedink oor wat jý wil bereik? Watter van jou drome is begrawe en het jy al vergeet?

Jy is een besluit weg van die lewe, loopbaan en verhouding wat jy wil hê. En net jý kan daardie eerste stap en besluit neem. Die tyd is nou … begin dans op die ritme van jou siel.

Ons kruip te maklik agter ons omstandighede weg en kies om iets of iemand die skuld te gee as dinge nie uitwerk nie. Jy kan nie jou omstandighede beheer nie, maar jy kan wel kies hoe jy in daardie omstandighede gaan optree.

Dit is dieselfde met ambisie of ’n droom wat jy wil verwesenlik. Dit is in jou eie hande; net jy kan kies om die eerste stap te neem. Die besluite wat jy vandag neem, beïnvloed jou toekoms.

Dalk wil jy wag vir alles om “perfek” te wees voordat jy begin. Soms hou jou vrees vir mislukking jou terug. Ons twyfel maklik aan ons eie vermoë en is onnodig krities teenoor onsself.

Die beste is om net te begin. Stap uit jou gemaksone. Met toewyding en dissipline kan jou drome ’n realiteit word. Gaan dit maklik wees? Nee, nie altyd nie, maar dit gaan die poging werd wees!

Hier is ’n paar wenke om jou te inspireer om die eerste stap te neem:

Jy moet ’n baie spesifiek prentjie hê van wat jy wil bereik. Maak seker dit is in lyn met jou passies, prioriteite en doel vir jouself en jou lewe. Onthou, wees vasbeslote oor jou doelwit, maar buigsaam oor hoe jy daarby uitkom.

Wees goedgesind en liefdevol teenoor jouself. Let op jou gedagtes en die woorde wat jy gebruik, veral teenoor jouself. Jy is net ’n mens en almal maak foute. Fokus eerder op die lesse wat jy uit ’n situasie leer, nie die foute nie.

Definieer jou grense. “Nee” is ook ’n antwoord – gebruik dit. Wanneer jy duidelikheid het oor jou grense, is dit maklik om te antwoord: “Dit is nie vir my ’n prioriteit nie.”

Vier jou suksesse. Dit maak nie saak hoe klein die vordering is nie. Bly toegewyd en geniet elke oomblik.

Ons is wat ons herhaaldelik doen. So, gee altyd jou beste. Uitnemendheid is nie ’n aksie nie, maar ’n gewoonte.

Fokus eerder op die positiewe. Dit sal jou nie net inspireer en motiveer om jou beste self te wees nie, maar kan ook help om positiewe veranderinge in jou lewe te vestig.

Vorige artikel[VIDEO] Gelowiges moet as één funksioneer
Volgende artikelMites wat jou huwelik kan verwoes