Ja, jy kan … jou ideale só bereik

131

Of dit nou jou ideale gewig is of om fiks te word, met ’n doelwit waarop jy kan fokus en ’n bietjie ondersteuning kan jy dit bereik, sê leefstylafrigter GERHARD VAN DER MERWE.

As jy na niks mik nie, gaan jy dit heel waarskynlik tref.

Om na niks te mik nie veroorsaak twee probleme. Aan die een kant kan jy rondval. Vandag is die een ding belangrik en môre is die volgende ding belangrik.

Die tweede gevolg is dat jy waarskynlik nooit bevrediging sal ervaar nie, en eendag gaan terugkyk en wonder wat nou eintlik van jou lewe geword het.

Dit is wanneer mense beleef dat hulle hulle doel gemis het.

Maar as jy hierdie denkfoute kan uitskakel, is dit amper gewaarborg dat jy later met genoegdoening sal kan terugkyk oor hoe jy op die lewenspad gevorder het.

  • Maak seker jou doelwitte gee jou energie. Om iets wat nie jou oë laat blink nie ’n doelwit te maak, gaan beteken dat jy môre of volgende week nie meer daarop sal kan of wil fokus nie.

As jou doelwit is om 50 opstote te kan doen om jou maagspiere te versterk en jou gesondheid te bevorder, maar dit is nie iets wat jou opgewonde maak nie, gaan dit dalk die eerste twee dae gebeur.

Daarna gaan jy daarvan vergeet of genoeg verskonings kry hoekom jy dit nie vandag kan doen nie. Stel ’n doelwit wat vir jou ’n uitdaging sal wees, maar ook iets is waarna jy kan uitsien.

  • Breek ’n groot doelwit af in kleiner, makliker bereikbare take. As ek daaroor droom om 10 kg af te skud om in daardie geliefde rooi nommertjie te pas, mag 10 kg dalk oorweldigend voel.

Stel liewer ’n paar mikpunte wat makliker haalbaar sal wees. Miskien 2 kg in die eerste siklus. Nog twee in die volgende siklus. En só kan jy voortgaan …

  • Gee ook vir jou doelwitte ’n eindpunt. Niemand kan volhou met iets wat nie ’n einddatum het nie. Dit is vaag en vervelig. Maak ’n groot, rooi kring om ’n datum op die almanak.

As jou mikpunt is om R20 000 vir ’n vakansie te spaar, moet jy weet vir wanneer daardie vakansie beplan gaan word. Jy wil op 16 Desember met vakansie gaan. Gestel dit is nou Februarie. Dit gee jou amper 10 maande om te spaar. Breek dit af in maanddoelwitte.

  • Hou jou doelwitte aanpasbaar, maar nooit onderhandelbaar nie. As ons die vakansievoorbeeld gebruik: As jy in Julie skielik jou motor se bande moet vervang, kan jy dalk sukkel om Julie se R2000 opsy te sit.

Maar dit maak nie die doelwit onbereikbaar nie. Pas daarby aan. Miskien kan jy een maand dalk net R1 000 afknyp. Probeer dan om oor die volgende vyf maande elke maand R2 200 weg te sit om die R1 000 in te haal.

  • Maak seker jou doelwitte fokus op die regte dinge. Daar is baie aspekte waarvoor jy doelwitte kan stel: jou huwelik, jou gesin, jou werk, jou finansies, jou gesondheid en jou geestelike lewe. Identifiseer daardie terreine waarop jy nou wil fokus.

’n Reisgenoot kan jou help om op koers te bly en jou doelwit te bereik. Iemand wat jou kan aanmoedig en moed kan inpraat as dinge moeilik raak en jy moed begin verloor.

Vorige artikelDesiré Gardner: “Oorgee beteken nie om op te gee nie”
Volgende artikelJy kan jou man nie dwing om te verander nie